Entrepreneurs
Badwater vir jou tuin
Esther Jacobs en Mienah Mefane van Grasslands Fase2 by Mienah se groentetuintjie wat met badwater natgelei word danksy Jacobs se WaterWarrior-koppelstuk.

In ’n tyd van wydverspreide waterbeperkings en opeenvolgende hittegolwe is daar maar min sprake van tuinmaak.

Nou het ’n Bloemfonteinse argitek ’n slim plan bedink om ’n mens se badwater op ’n goedkoop en moeitevrye manier in jou tuin te kry. Haar patent, die WaterWarrior, sal van Januarie in die kleinhandel by afsetpunte soos Hinterland beskikbaar wees. Pick n Pay stel ook belang om die produk, ’n koppelstuk wat die bad se dreinpyp met ’n tuinslang verbind, te verkoop.

Esther Jacobs se maatskappy, Slightly Greenish, spesialiseer in volhoubare ontwikkeling en groenbouprojekte, met ’n sterk fokus op die hergebruik van huishoudelike water. Dit was juis terwyl sy in September vanjaar aan ’n vergroeningsprojek in die Kutlwanong-township naby Odendaalsrus in die Goudveld gewerk het, dat sy besef het hoe groot die behoefte in die township is om water vir die verbouing van groentetuine te verkry.

“Ek het bly dink daar moet ’n manier wees waarop ek grys (gebruikte) water kan benut sodat mense volhoubaar groente kan kweek. Hulle kan nie die heeltyd emmers badwater uitdra tuin toe nie, en ’n gryswaterstelsel met ’n pomp en tenk is te duur.”

Sy het na besproeiingstoerusting begin kyk, maar die koppelstukke wat sy kon bymekaarsit was baie duur. Heelwat navorsing en vier prototipes later het sy die WaterWarrior as patent laat registreer.

Die koppelstuk word van PVC-plastiek met ’n hoë digtheid vervaardig. Dit word ingevoer omdat daar nie plaaslik verskaffers is wat die spesifieke gietvorm kan verskaf nie.

Die produk is ontwerp om twee standaardgroottes dreinpype te pas. Dit word met SABS-goedgekeurde gom aan die dreinpyp geplak. Esther sê die laboratoriumtoetse is met ’n tuinslang van 10 m lank uitgevoer. ’n Langer tuinslang kan ingespan word, dit sal net heelwat langer neem om jou bad leeg te tap.

“Jy kan nie jou hele tuin met hierdie stelsel natmaak nie, maar jy kan ten minste iets red – met badwater waarvoor jy reeds betaal het.”

Afrika Mokhosi (16), ’n lid van Students for the Advancement of Global Entrepreneurship (Sage), wys hoe die WaterWarrior-koppelstuk werk. Foto's: Vida Booysen

Jacobs sê tot 33% van die water waarvoor ’n huishoudelike verbruiker ’n waterrekening ontvang, is grys water en dat dit vir ’n gemiddelde huishouding ’n maandelikse besparing van tot R180 kan beteken as hulle dié water met die hulp van ’n WaterWarrior hergebruik.

“Elke toestel kan die regering tot R61 per maand aan watersuiweringskoste bespaar. Die impak op ons land se waterkoste kan aansienlik wees.”

Sy waarsku dat die land ’n kopskuif oor watergebruik moet maak, want ons spaar nie naastenby genoeg nie.

“Hier kom moeilikheid – dit reën nie, en ons opgaardamme word droog en ons is een van die min lande in die wêreld wat nog ons toilette met gesuiwerde water spoel. Dit is nie volhoubaar nie.”

Slightly Greenish het die afgelope elf weke sedert die WaterWarrior ontstaan het, “verskriklik vinnig” gegroei, en die vyf personeellede staan bont om alles te hanteer – van die aanmekaarsit en verpakking van die koppelstukke tot die bemarking en verkope daarvan. Die eerste besending koppelstukke is reeds uitverkoop en die tweede besending sal volgens Jacobs teen Januarie teen sowat R100 per toestel op die winkelrakke wees.

Intussen het Slightly Greenish ook hande gevat met ’n span van Students for the Advancement of Global Entrepreneurship (Sage), ’n groep jeug-entrepreneurs wat help om WaterWarriors in townships te installeer as deel van ’n voedselprojek. Huishoudings ontvang ’n groeipak om spinasie te verbou. Elke groeipak kan tot 35 kg spinasie lewer.

Jacobs se droom is dat die korporatiewe sektor by hierdie voedselprogram betrokke raak.

“Een van die belangrikste goed wat die privaatsektor kan doen, is om daadwerklik mense te help om hulself te help.

“Maar jy moet vir iemand ’n praktiese, eenvoudige en kostedoeltreffende stuk gereedskap gee om dit te kan doen – en dis presies wat ons met die WaterWarrior doen.”

Meer oor:  Water  |  Tuin  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Soek Profiel Kontak Volg
Volg Netwerk24