Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Entrepreneurs
Ekovriendelike seep hóéf nie duur te wees
Khulah Nyobole is ’n jong man wat ondanks ’n moeilike jeug vasgebyt het en vandag as jong sakeman sy visie uitleef om ekovriendelike skoonmaakprodukte te verkoop.Foto: LIANA MOCKE

Khululekani (Khulah) Nyobole is ’n 27-jarige entrepreneur wat sy rug gekeer het op die bendelewe en nou die eienaar is van ’n jong onderneming, Nurturer. Liana Mocke het gaan uitvind hoe hy dit reggekry het om dié onderneming, wat ekovriendelike skoonmaakprodukte verkoop, op die been te bring.

Waar het jy grootgeword?

In Khayelitsha waar bendelede my rolmodelle was en ek dwelms gebruik het. Op 15 het my lewe uitmekaar begin val. Ek moes gr. 10 drie keer doen. Diep binne het ek egter geweet hierdie verloorder waarin ek besig was om te verander is nie die ware ek nie. Ek het begin om myself te distansieer van die kriminele aktiwiteite, maar dit was nie altyd so maklik nie.

Het jy ná skool gaan studeer?

Ek het eers as ’n kassiere gewerk en toe gaan studeer en my BA-graad in 2014 aan die Universiteit van die Wes-Kaap behaal.

Hoe het jy die onderneming begin?

Ek was ’n gefrustreerde gegradueerde teen die einde van 2015. Ek het nog altyd geweet ek sou ’n entrepreneur word en terwyl ek een dag op Facebook was, het ’n advertensie van New Ventures Studio my aandag getrek. Ek het aansoek gedoen vir hul program en ná ’n induksietydperk in Februarie 2016 is my idee gekies vir hul program om jong entrepreneurs te help. Hulle het my baie gehelp om byvoorbeeld ’n sakeplan op te stel.

Ek sou dit nie kon doen sonder die bystand van New Ventures Studio nie en ons werk saam as vennote. Hulle het ’n 20%-belang in die onderneming.

Hoe het jy aan die idee van eko-vriendelike skoonmaakprodukte gekom?

Ek is baie gesteld op higiëne en glo ons moet na die aarde en die omgewing omsien. Ek glo ook jou uitkyk hieroor weerspieël hoe jy jouself sien. Verbruikers moet besef ekovriendelike produkte is ’n noodsaaklikheid eerder as ’n luukse.

Tydens my studies het ek begin wonder hoekom die natuurlike en ekovriendelike skoonmaakprodukte soveel duurder is as die gewone, tradisionele produkte en daarom eintlik onbekostigbaar vir die massas.

Dit het aan my die idee gegee om ondersoek in te stel na bekostigbare, natuurlike skoonmaakprodukte. Só het my visie ontstaan om produkte te ontwikkel wat meer bekostigbaar is vir gewone mense.

Wie het jou gehelp om die produk­reeks te vervaardig?

Ons werk saam met ’n gevestigde vervaardiger en biochemikus wat die produkte vir ons ontwikkel. Dit was onder meer nodig om SABS-goedkeuring te kry.

Hoe verkoop julle die produkte?

Ons het agente wat van deur-tot-deur gaan en die produkte verkoop.

Ons verkoop reeds in die townships hier rondom Kaapstad en in voorstede soos Plumstead en dorpe soos Somerset-Wes.

Die een stoorkamer is in Khayelitsha, wat verspreiding maklik maak. Ons het ook in Landsdowne ’n stoorkamer. Die produkte word plaaslik vervaardig.

Waaruit bestaan die produkreeks?

Ons vervaardig reeds produkte vir persoonlike higiëne (sepe en sjampoe) en skoonmaakmiddels soos bleikmiddels en skottelgoedwasseep.

Maak jy al geld?

Ons dek ons vaste koste en breek gelyk. Die belangrikste is dat die onderneming groei!

Wat is jou raad aan jong entrepreneurs?

Buiten finansiering en hulp moet jy uithouvermoë hê, aanpasbaar wees, geduld hê en nie opgee as deure in jou gesig toemaak nie. Jy moet die vermoë hê om deur te druk en gereed wees as die groei van jou onderneming begin toeneem.

Meer oor:  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.