26 Junie 14:11
Kaapstad Verander Area

Maandag

18°C / 10°C

Wind 8km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

15°C / 12°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Woensdag

14°C / 10°C

Wind 12km/h

Reënval 11mm

Humiditeit 61%

Donderdag

16°C / 9°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Vrydag

15°C / 12°C

Wind 16km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 84%

Saterdag

16°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Entrepreneurs
Liedjie vir liedjie vul sy ’n leemte in musiekmark

Afrikaanse musiek het ’n lekker musiekstroomdiens gekry wat jou in staat stel om jou gunstelingmusiek op ’n slimfoon en rekenaar te luister. Die nuwe produk is die breinkind van Catherine Lückhoff, stigter van NicheStreem. Liana Mocke het met haar gesels.

                                      

Catherine Lückhoff staan nie terug vir uitdagings nie. Sy het al twee suksesvolle ondernemings op die been gebring en as enkel-stigter van NicheStreem pak sy en haar span nou aanlyn musiekstrome aan. NicheStreem is ’n finalis in Eerste Nasionale Bank se Innoveringstoekennings. Foto: Liana Mocke

Wat bied NicheStreem?

NicheStreem bied ’n aanlyn luisterdiens (musiekstroming) aan verbruikers oor die wêreld heen.

Soos die naam verduidelik, verskaf ons musiekstroming aan nismarkte. Hierdie musiekstromingsdienste fokus op verbruikers in opkomende markte soos Suid-Afrika en Nigerië. Een van die strome sluit in Afrikaanse musiek. Ons is baie opgewonde oor Liedjie, ons eerste app wat onlangs bekend gestel is vir die Afrikaanse mark.

                      

Vertel meer van Liedjie.

Liedjie is in Desember bekend gestel en gebruik Amazon Web Services (AWS) se internetwolktegnologieë en infrastruktuur. Die keuse om Amazon te gebruik plaas ons strategies op ’n sterk plek in die mark. Boonop is die diens eenvoudig en bekostigbaar.

Ons span kon in net ses maande van die ontwerp van die stelsel vorder tot die aanlyn produk.

Daar is so baie Afrikaanssprekendes oor die wêreld heen en nou bied Liedjie vir hulle speellyste na smaak en voorkeur.

Verbruikers kies na watter genre(s) in die Afrikaanse musiekspektrum hulle wil luister. Die databasis bevat reeds oor die 10 000 Afrikaanse liedjies en hou aan groei.

Ons begin binnekort nog van hierdie nis-aanlynluisterprodukte in ander lande en opkomende markte.

      

Hoekom het jy NicheStreem begin?

Ek het ’n passie vir musiek en ken die bedryf taamlik goed. In die beginjare van die musiekfees Rocking the Daisies het ek hul kommunikasieportefeulje bestuur en baie daaruit geleer.

Wat Liedjie betref, fokus ons op ’n leemte in die mark. Die meeste aanlyn luisterprodukte fokus nie op nissegmente nie.

Ek het hierdie behoefte begin aanpak met NicheStreem, en Liedjie was ’n natuurlike keuse.

   

Jy het ook twee ander ondernemings gehad. Vertel meer oor HQAfrica en Mango-OMC.

HQAfrica is ’n strategiese en ontwikkelingskonsultant wat optree om ander ondernemings te help om hul voetspoor in die suide van Afrika te vind, te vestig en uit te brei.

Mango-OMC was my eerste onderneming wat ek in my vierde jaar van studie begin het. Dit is ’n agentskap wat skakelwerk en kommunikasie vir kliënte behartig. 

      

Vertel meer oor jou ervaring as ’n vroue-entrepreneur wat jou eie ondernemings begin het.

As dit kom by pioniers in tegnologie en die IT-bedryf is dit gewoonlik seker mans wat die meeste van die rugkloppe ontvang.

Dit is nie noodwendig maklik om op die oomblik hier in Suid-Afrika ’n jong onderneming te finansier en uit te bou nie.

Ek staan egter nie terug hiervoor nie en kan beleggers, kliënte en verbruikers goed oortuig dat ek net so ’n goeie produk lewer.

Ek glo vroue begin al hoe meer deel word van jong ondernemings wat gestig word en speel al hoe meer ’n aansienlike rol in die groei en innovering in ons land.

      

Hoe werk jou span saam?

Ons is ’n klein maar gedugte span met baie ervaring tussen ons.

Ons kernspan bestaan uit vyf lede en dan het ons nog vier mense wat help. Dit sluit in inhoud, stelsels, infrastruktuur en natuurlik wetlike aspekte van die musiekbedryf.

Ek moes baie leer oor ontwikkelingstaal en die wette en regulasies. Ons span sit oral in die wêreld en hoewel ek hier in Kaapstad gesetel is, sal ons dalk in die toekoms buiteland toe moet skuif.

Dit is nie noodwendig maklik om op die oomblik hier in Suid-Afrika ’n jong onderneming te finansier en uit te bou nie.

      

Hoekom is dit moeilik om geld en beleggers te kry?

’n Mens voel die hele tyd of jy op ’n mespunt beweeg.

Maar ek het ook my Nasa-oomblik gehad, soos Elon Musk. Net sodra jy dink dit is die einde, daar is nie meer geld nie, dan skielik, op die nippertjie, kry ’n mens weer finansiering.

Dit is egter ’n fyn lyn, want jy kan ook nie net vir al die geld “ja” sê nie, want soms gaan dit net nie genoeg wees nie. In Suid-Afrika sit ons met ’n probleem waar jy beleggers kry wat in die beginstadium van jong ondernemings sal belê, maar dan is daar ’n gaping wat plaaslik nie maklik gevul word nie.

Jy hoef nie, omdat jy jou eie onderneming begin het, vir almal te vertel dat dit net voor die wind gaan nie.

Beleggers sal gewoonlik dan eers weer wil belê in ’n onderneming as dit meer gevestig is. Vir die tussen-in-periode is daar nie beleggers wat sommer wil inklim nie.

Die rand se wisselvalligheid speel natuurlik hierin ’n groot rol vir beleggers en ek kan dit verstaan. Waar Niche­Streem byvoorbeeld nou staan, het ons ’n volgende ronde beleggings nodig om groter te gaan. Om dit te kry, is nie so maklik soos in die beginfase nie.

Ons het $250 000 van sowel plaaslike as internasionale beleggers gekry om mee te begin.

Nou het ons nog sowat $500 000 tot $1 miljoen nodig.

       

Jy het baie lesse geleer. Wil jy ’n paar daarvan deel?

Ek wil veral benadruk dat entrepreneurs maar eerlik kan wees as dit nie goed gaan nie. Jy hoef nie, omdat jy jou eie onderneming begin het, vir almal te vertel dat dit net voor die wind gaan nie. Wees eerder eerlik en deel jou ervaringe met ander.

Moet ook nie alleen probeer om jou paadjie te loop nie. Kry raadgewers en mentors wat saam met jou die pad stap.

Pasop egter ook om net oor en oor met dieselfde mense te gesels. Reis, ontmoet ander mense, gesels én lees wyd!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.