21 Julie 12:35
Kaapstad Verander Area

Vrydag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 19km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

17°C / 11°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 59%

Maandag

17°C / 11°C

Wind 10km/h

Reënval 0

Humiditeit 44%

Dinsdag

15°C / 9°C

Wind 29km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 63%

Woensdag

14°C / 8°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Entrepreneurs
Private skole kan die land dalk red
Johan FourieFoto:

Private onderwys kán gehalteonderrig aan die massas bied. En Swede wys ons hoe.

Toe ek 12 jaar gelede ’n ekonomie-student was, het ons akademiese literatuur – deur die voorste ekonomiese denkleiers en sosiale wetenskaplikes – die destydse swak prestasie van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel beween. Daar was min twyfel dat die gehalte van skole moes verbeter ter wille van die 80% Suid-Afrikaners wat steeds, ondanks ’n enorme oordrag van hulpbronne na dié skole, vasgevang was in ’n stelsel wat deur beleid van die apartheidsera ontredder is.

Spoel vorentoe na 2017. ’n Hele geslag is deur die stelsel en steeds is daar byna geen verbetering nie. Uit elke 100 graad 1-leerlinge wat skool toe gaan, slaag slegs 37 matriek. Onderwysersvakbonde maak kapsie teen beleidsmaatreëls wat die gehalte van die onderwyserskorps sou kon verbeter, wat ons minister van basiese onderwys oënskynlik lamlê. Korrupsie bring dikwels mee dat begrotings óf nie bestee word nie, óf ondoeltreffend bestee word.

Daar is ’n alternatief. Die afgelope jare het private skole ’n alternatief geword vir middel-inkomstegesinne wat ’n beter lewe vir hul kinders wil hê. Die Curro-groep se Northern Academy in Polokwane is ‘n voorbeeld. Ondanks skoolgeld van sowat R21 000 per jaar en ’n soortgelyke bedrag vir koshuisinwoning, het die skool meer as 5 000 leerlinge, 111 klaskamers en 66 koshuise. In die 2016-matriekeksamen was dit die toppresterende onafhanklike skool in die provinsie.

Curro het deesdae skole in al die provinsies. Sy aandeelprys het die afgelope vier jaar verdriedubbel. Sy winsmotief beteken hy moet sy kliënte tevrede stel: presteer hy swak omdat hy swak gekwalifiseerde onderwysers het, sal hy kliënte verloor.

Dit is die wonder van die markstelsel wat Adam Smith geïdentifiseer het: wins dui aan dat ’n maatskappy iets reg doen. As winste daal, moet die maatskappy sy sokkies optrek of tot niet gaan. As winste styg, soos Curro s’n, sal ander maatskappye dit sien en tot die mark toetree.

’n Vrees is dat Curro die mark sal monopoliseer en gelde hef wat hom monopoliewinste laat verdien. Dit is egter onwaarskynlik in die onderwys, waar min toetreeversperrings is. Dink byvoorbeeld aan die SPARK-skole, met klasgeld ook sowat R21 000 per jaar, wat sedert 2013 in Gauteng en die Wes-Kaap geopen het.

SPARK Rynfield, in Benoni, oos van Johannesburg, het in Januarie 2016 begin en is die sewende skool in die SPARK-skolenetwerk.

n Tweede vrees is dat ’n goed bestuurde privaatskoolstelsel verdere verdeeldheid sal saai in ’n land met hoë vlakke van ongelykheid; dié wat die hoë koste van ’n goeie skoolopvoeding kan bekostig vis-à-vis kinders uit arm huishoudings wat verplig is om swak openbare skole by te woon. Dit sal waarskynlik gebeur as privaatskole beperk word tot dié wat hulle kan bekostig. Hulle hoef egter nie.

In Swede, waar die beginsel van gelyke geleenthede byna ’n godsdiens is, is meer as 10% van die kinders in private skole.

’n Belangrike hervorming van 1992 laat skole toe om openbare finansiering te ontvang op grond van getal inskrywings. Skole mag nie diskrimineer of toelatingseksamens vereis, of ouers bykomende skoolgeld vra nie. (Hulle mag skenkings aanvaar, wat dikwels gebruik word om skoolgeriewe aan te vul of minder gegoede studente finansieel te ondersteun.)

Enigeen kan ’n vir-wins-skool in Swede begin. Talle bied ’n alternatiewe kurrikulum, of bedien internasionale, godsdiens- of taalgroepe. Ander is aangewese sport- of kunsskole. Dit is eenvoudig: As ’n openbare skool nie die dienste bied wat sy gemeenskap verlang nie, sal ’n entrepreneur die gaping raaksien en inspring.

Dit is wat ons in Suid-Afrika ook nodig het. Die 2017-begroting het R243 miljard (16% van ons totale gekonsolideerde besteding) aan die departement van basiese onderwys toegewys. Met 11,2 miljoen skoolgaande kinders, is dit effens meer as R21 000 per kind.

Wat as elke ouerpaar ’n koepon van R21 000 per leerling van die staat ontvang om by enige skool van hul keuse te bestee, openbaar of privaat? ’n Groter bedrag kan gegee word aan dié in landelike of voorheen benadeelde gebiede. Dit bemagtig die ouers om die skool te kies wat hulle meen hul kind se belange die beste sal dien.

Natuurlik is private onderwys nie sonder kwellings nie. ’n Mens wil seker maak geriewe is van ’n goeie gehalte en onderwysers en leerplanne voldoen aan bepaalde standaarde. Dié kwellings vervaag egter naas die ellendige uitkomste van die huidige skoolstelsel, waar geriewe dikwels nie bestaan nie en onderwysers ongekwalifiseerd is.

Dink net watter geleenthede dit vir entrepreneurs sal skep. ’n Gemeenskapsleier in ’n gebied met swak staatskole kan die inisiatief neem, opvoeders vanuit die gemeenskap aanstel en die koepons gebruik om hul salarisse te betaal. Dink hoe Krieket Suid-Afrika (KSA) en ’n entrepreneur kan hande vat om ’n reeks elite- krieketskole te bou, met KSA wat die geriewe en afrigters voorsien en die koepons wat vir hoëgehalteonderrig betaal.

Belangrike navorsingsliteratuur wys moedertaalonderrig is deurslaggewend vir suksesvolle leer: met ’n koeponstelsel kan jy weet, as daar ’n vraag is na sekondêreskoolonderrig in Sesotho in ’n spesifieke gemeenskap, sal ’n entrepreneur die gaping raaksien.

Privaatskoolkettings sal ’n insentief hê om hul eie onderwysers op te lei, óf deur indiensopleiding óf deur in onderwyskolleges te belê. Ons het ’n nuwe plan nodig vir die onderwys.

Ek sal dit haat om te sien my kollegas skryf oor nog 12 jaar steeds referate om die toestand van ons onderwysstelsel te beween. Ons hou aan om geld te gooi na ’n probleem wat nie met geld alleen opgelos kan word nie.

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in die 23 Maart-uitgawe van finweek wat al van gister op die rakke is. Ook in hierdie uitgawe:) finweek gesels met Discovery-baas Adrian Gore) Werkende ouer? Só hand-haaf jy ’n werk-lewensbalans

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in die 23 Maart-uitgawe van finweek wat vanaf 17 Maart op die rakke is.

 Ook in hierdie uitgawe:

  • finweek gesels met Discovery-baas Adrian Gore
  • Werkende ouer? Só handhaaf jy ‘n werk-lewensbalans

Die begroting vir basiese onderwys het met 7,3% gegroei in 2017. As ons daarmee volhou, gaan ons waarskynlik nog ’n post-apartheidgeslag in die steek laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.