29 Mei 22:52
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

22°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 47%

Woensdag

19°C / 14°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 71%

Donderdag

19°C / 13°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 50%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 36km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 69%

Sondag

16°C / 14°C

Wind 13km/h

Reënval 2mm

Humiditeit 65%

Ikt
.Africa is ‘te duur vir Afrika’
'n Foto van die bekendstelling van .africa in Maart deur dr. Nkosazana Dlamini Zuma toe sy nog voorsitter van die unie was.

Ondernemings wat domeinname op die internet registreer, meen die nuwe .africa-domein is te duur vir Afrika. 

Netwerk24 het in ’n vinnige peiling bevind om só ’n domeinnaam te registreer, kos tans tussen R3 100 en R9 863.

Die internasionale owerheid wat domeinname beheer – Internet Corporation for Assigned Names and Numbers (Icann) – het Februarie die registeroperateur vir .africa aangewys ná ’n twee jaar lange regstwis met ’n ander onderneming wat ook die registeroperateur van die domein wou wees. 

Die domein word deur die Afrika-Unie ondersteun. 

Dit bied ondernemings in Afrika die geleentheid om die domeinname wat hulle op die internet vir hul webwerf gebruik, met die agtervoegsel .africa te registreer. 

Baie duur

Jade Benson, stigter van ZA Domains, een van die herverkopers van domeinname, meen dit is te duur vir Afrika en gaan dus nie lewensvatbaar wees nie. 

Al die partye wat betrokke is

Die registeroperateur bepaal die pryse waarteen domeinname geregistreer word, maar hy verkoop dit nie self nie.

Dit word deur Icann- geakkrediteerde registrateurs verkoop.

Registrateurs het stelsels wat direk met ’n register kan koppel.

Die registrateurs verkoop dit regstreeks aan die publiek of aan herverkopers wat dit aan die publiek verkoop. 

’n Herverkoper moet die domeinname by ’n Icann- geakkrediteerde registrateur koop. 

Registrateurs sit hul eie winsmarge op die pryse wat die registeroperateur vasstel en herverkopers sit weer hul eie winsmarge op die registrateur se pryse. 

Die registeroperateur van die domein is ZA Central Registry (ZACR) wat as Registry Africa handel dryf. 

ZACR het by navraag nie pryse verskaf nie en sê dit moet van die registrateurs gekry word.

Die pryse is op sy webwerf is aan die registrateurs beskikbaar, maar nie aan die publiek nie. 

Benson meen dit is veral duur vergeleke met die plaaslike domein .co.za.

Elad Kinstler van Lexsynergy – ’n Icann- geakkrediteerde registrateur – sê: “Gegewe die teikenmark in Afrika is dit redelik duur. Dit is nie vir die gemiddelde persoon nie.” 

Die logo van .africa op bemarkingsmateriaal.

Wayne Diamond, uitvoerende hoof van www.domains.co.za, een van die Icann- geakkrediteerde registrateurs, meen ook die pryse is baie hoog. 

Hy sê iemand in Afrika gaan dit vergelyk met .com, wat ’n internasionale domein is. 

“Ek glo hulle moes die prys met .com s’n vergelyk het. Dan sou die registrasie van .africa-domeinname eksponensieel gegroei het.”

Volgens Diamond verkoop hulle .com-domeinname teen R189 terwyl .africa teen die huidige wisselkoers van volgende jaar af sowat R245 gaan kos. 

Die registeroperateur stel sy pryse in Amerikaanse dollar en dit is $18 van Julie af. 

Kuberplakkers

Die eerste fase van registrasie het reeds afgeskop en duur tot 2 Junie. 

In die eerste fase kan net entiteite met handelsname aansoek doen om hul domeinname te registreer. 

Lucky Masilela, uitvoerende hoof van ZACR, sê in ’n verklaring die eerste fase is nodig om te keer dat bestaande handelsname deur kuberplakkers geannekseer word. Handelsname wat nie in die grasietydperk geregistreer word nie, loop die gevaar van wesenlike regskoste later. 

Hy waarsku daar is tallose probleme om intellektuele eiendom soos ’n domeinnaam later terug te kry as iemand dit opgeraap het. 

“Ondernemings wat nie hul domeinnaam in die 60-dae-grasietydperk beveilig nie, het geen waarborg dat dit later beskikbaar gaan wees nie. Dit is baie moontlik dat opportuniste jou handelsnaam kan registreer.”

Omdat baie van die wisselkoerse in Afrika swakker as die rand teenoor die dollar is, gaan dit nog duurder vir mense in ander Afrika-lande wees. 

Die domeinnaambelegger Go en .Shop het op Twitter gevra: “Hoekom nie tot $7 per domeinnaam nie? $18 is eenvoudig te duur vir Afrika.” 

Groot belegging

Neil Dundas, wat tot onlangs ’n direkteur van ZACR was, het namens .africa oor die kritiek op die pryse gesê: “ ’n Wesenlike belegging is deur ZACR gedoen om vir .africa aansoek te doen en dit bekend te stel.”

Hy sê die pryse is vergelyk met die bestaande generiese en land-agtervoegsels en dit is baie mededingend.

Fases van registrasie
  • Handelsname: 4 April tot 2 Junie
  • Stormloop 1: 5 Junie tot 9 Junie
  • Stormloop 2: 12 Junie tot 16 Junie
  • Stormloop 3: 19 Junie tot 23 Junie
  • Stormloop 4: 26 Junie tot 30 Junie
  • Algemeen beskikbaar: Van 4 Julie af
  • Algemeen beskikbaar eerste prysverlaging: 2 Augustus 2017
  • Algemeen beskikbaar tweede prysverlaging: 1 Julie 2018

Hy erken wel dis duurder as die .co.za-domein.

“Maar ’n mens moet onthou daar is reeds meer as 1 miljoen domeinname in .co.za.

“Die koste hou met skaalekonomieë en getalle verband.” 

Volgens hom is ZACR van voorneme om die pryse so spoedig moontlik af te bring tot vlakke wat met .com vergelyk kan word.

Goedkoper

Diamond stel voor mense wat nie ’n gewilde naam wil gebruik nie, moet wag tot in die algemene fase om hul domeinnaam te registreer. 

Volgens hom is daar ook verskillende pryse vir sogenaamde premium-name. Dit is gewilde name en daarvoor word meer betaal. 

Die tweede fase, wat as die stormlooptydperk beskryf word, het ook verskillende fases waartydens verskillende pryse geld om ’n domeinnaam te registreer. 

As daar twee aansoeke vir dieselfde naam in die stormloopfase is, word dit opgeveil.

Daarna breek die algemene fase aan wanneer name geregistreer word sodra ’n aansoek ontvang word. Twee prysverlagings volg in dié fase voor ’n algemene prys in werking tree. 

Ná aanvanklike registrasie moet die domeinname jaarliks hernu word. 

Sien meegaande inligting vir die verskillende pryse van registrateurs en herverkopers. 


Lexsynergy se pryse
  • Handelsname: R2 700
  • Stormloop 1: R90 000
  • Stormloop 2: R41 250
  • Stormloop 3: R22 500
  • Stormloop 4: R11 250
  • Algemeen beskikbaar: R2 700
  • Ná 2 Augustus: R375
  • Ná 1 Julie 2018: R285
  • Jaarlikse hernuwing: R285


So lyk domains.co.za se pryse*
  • Handelsmerke: Tussen $195 en $750
  • Stormloop 1: $6 000
  • Stormloop 2: $2 600
  • Stormloop 3: $1 500
  • Stormloop 4: $750
  • Algemeen beskikbaar: Tussen $175 en $750
  • Ná 2 Augustus: Tussen $25 en $195
  • Ná 1 Julie 2018: Tussen $18 en $195
  • Jaarlikse hernuwing: $18

* Hul pryse word in dollar gegee tot die fase begin, dan word dit in rand omgeskakel. Waar twee pryse vir ’n fase gegee word, is die eerste standaarddomeine en die tweede premium-domeine. 


Die prokureursfirma Adams & Adams se pryse lyk so:
  • Handelsname: R5 802
  • Stormloop 1: R105 324
  • Stormloop 2: R49 749
  • Stormloop 3: R28 374
  • Stormloop 4: R15 549
  • Algemeen beskikbaar: R5 802
  • Ná 2 Augustus: R3 152
  • Ná 1 Julie 2018: R3 049
  • Jaarlikse hernuwing: Nie verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.