21 Augustus 08:40
Kaapstad Verander Area

Maandag

16°C / 13°C

Wind 28km/h

Reënval 8mm

Humiditeit 79%

Dinsdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 7mm

Humiditeit 64%

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 4mm

Humiditeit 75%

Donderdag

14°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 3mm

Humiditeit 60%

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 25km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 64%

Saterdag

17°C / 11°C

Wind 26km/h

Reënval 0

Humiditeit 65%

Landbou
Emile Joubert: Wyn lyk goed, maar nou’s die water op
Emile Joubert

Vra jy uit oor 2017 se parsseisoen, is veelvoudigheid in die antwoorde nie een van die oestyd se karaktertrekke nie.

Die antwoorde uit die monde van wynboere is óf “die oes is lig” óf “die gehalte van die druiwe is baie goed”.

Die een waarin ek persoonlik belang stel, is dat die hitte en droogte wat die wynlande nou al twee seisoene ervaar, geen opmerklik negatiewe uitwerking op die oes gehad het nie.

Boere in party gebiede, onder meer Stellenbosch, praat van ’n 25% kleiner druiwe-oes as verlede jaar.

Aan die ander kant van die munt blyk die ligter trosse eksieperfekte, geurbelaaide klein korrels te lewer.

Veral die jong rooiwyne blyk diep kleure te hê, gekonsentreerde geure en verstommende aromas. Die reuk van gistende pinotage in die kelder van Simonsig het nou die dag só sterk in die lug gehang dat jy dit met ’n lepel kon skep.

Die jong wyn, nog aan die gis, is ook gebalanseerd en ekspressief en sommer vrek lekker so in die babadoeke.

Weens menslike onvolmaaktheid deel ek nie graag wenke uit nie. Maar sodra hulle beskikbaar gestel is, maak ek seker dat 2017 se cabernet sauvignon en pinotage uit die Stellenbosch-streek hul plek na die wynkelder vind. Die vooruitsigte van die jong wyne uit hierdie skraler maar kompakte oes is veel, veel blinker as ’n Suid-Afrikaanse span se kans om die Superrugbyreeks te wen.

Die wingerdstok kan ’n harde plant wees wat groen blare en sappige soet korrels in ’n woestyn kan maak. Maar ook net só lank.

’n Paar kilometer verder praat ek met Thys Louw van Diemersdal in Durbanville en besef weer eens hoe belangrik die wispelturigheid van die natuur in die wonderlike wêreld van wyn is. Op sy plaas is al die wingerde droëland, en die laaste paar seisoene se waterskaarste laat ’n mens die ergste vir sulke boerderye verwag.

Maar nee wat. Hier is die oes weer groter as in die vorige jaar. Veral Diemersdal se hoofkultivar, sauvignon blanc, het vet en gesond in die parsbakke geval.

Nee, teen Desember het sake nie goed gelyk nie, erken Thys. Maar net voor Kersfees het 25 mm reën geval en die prentjie heeltemal verander. Die water is opgeslurp deur wortels dorser as ’n marathonatleet wat by ’n bierstalletjie verbyhardloop, en die wingerdplante het nuwe lewe, skop en die lus gekry om gesonde druiwe te maak.

En dis dan ook die eerste markklaarwyne van die 2017-oesjaar wat ek geproe het – Diemersdal se sauvignon blanc en ongehoute chardonnay. Klaar gebottel met etiket en al, ’n paar weke nadat die druiwe geoes is.

Die wyne is fris en vars (uiteraard), maar met verstommende struktuur en kompleksiteit wat in hierdie kleutersta­dium te bespeur is.

Saam met die genoemde Stellenbosch-rooies sal daar dus vir chardonnays en sauvignon blancs uit koeler streke, naamlik Durbanville, Elgin en Constantia, plek gemaak word.

Dan is daar die ander kant van die berg. Die Breedekloof, Worcester en Robertson. Dis waar die druiwe dikker groei in wingerde wat die bakermat van die bedryf is in terme van die verskaf van gesonde volumes wyn.

Hier en daar is die oes ietwat ligter, maar nie soveel soos verwag is nie. Maar, seg een vooraanstaande boer uit Rawsonville vroeër die week: “Die oes is amper in, en gehalte en opbrengs is gesond. Maar kyk, nóú is ons water klaar.”

Dis ook die gevoel wat ek kry. Die wingerdstok kan ’n harde plant wees wat groen blare en sappige soet korrels in ’n woestyn kan maak. Maar ook net só lank. Die wingerdboere en die wynmakers het die afgelope twee jaar húl ding gedoen om genoeg goeie wyn vir Wynkelder SA te skep.

Nou moet die natuur net sy ding doen. Wolke en reën, asseblief. Nie lig nie, en die gehalte van water is altyd goed. Baie goed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.