27 April 20:51
Kaapstad Verander Area

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Saterdag

27°C / 18°C

Wind 25km/h

Reënval 0

Humiditeit 36%

Sondag

18°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Maandag

19°C / 16°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 80%

Dinsdag

20°C / 15°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 70%

Woensdag

21°C / 14°C

Wind 22km/h

Reënval 0

Humiditeit 46%

Landbou
‘Transformasie werk beter as ’n boer dit uit sy eie doen’
Tebogo Mogashoa sê transformasie is ’n geleentheid vir almal om ekonomies vooruit te gaan eerder as ’n bedreiging. Foto: Deon Raath

Transformasie in landbou gaan nie daaroor om die helfte van jou plaas weg te gee nie. Sien dit eerder as ’n geleentheid om geld te maak, sê Tebogo Mogashoa, ’n entrepreneur, sakeman en wildboer wat deesdae ook deel is van ’n tafeldruifboerdery in Worcester.

“Kry die regte vennoot, nader ’n instelling wat ontwikkelingsprojekte steun, belê daarin om jou plaas te verbeter en skep só ’n nuwe golf van welvaart,” is sy pleidooi aan die landbougemeenskap.

Mogashoa het by tafeldruiwe betrokke geraak met die hulp van ’n vennoot: die suksesvolle tafeldruifboer Jacques Beukes van Worcester, wie se familie al oor die honderd jaar met tafeldruiwe boer. (Beukes is verlede Donderdagaand aangewys as Toyota SA se jongboer van die jaar.)

Beukes en Mogashoa het twee aangrensende plase in Worcester gekoop, Brandwacht en Ambience, die grensdrade laat sak en dit een groot plaas gemaak waarop daar oor drie jaar 140 ha tafeldruiwe verbou gaan word. Hulle bou ook ’n pakhuis van 5 000 m2.

Beukes dra sy kennis oor landbou by, Mogashoa dra as ingenieur sy sakekennis by en saam skep hulle meer as wat enige van hulle voorheen gehad het.

“Transformasie werk die beste wanneer ’n boer uit sy eie besluit om te transformeer, want dan kan hy dit op sy voorwaardes, nie die regering s’n nie, doen. Dis baie beter as om bloot te transformeer om aan reëls te voldoen sodat daar nie vir jou gesê word jy kan nie handel dryf nie, of jy kan nie ’n waterlisensie kry nie.”

Dit moet iemand wees met wie jy lekker kan kuier. Die meeste van my sakevennote was my vriende voordat hulle vennote geword het.
Tebogo Mogashoa

Maar ’n vennoot kan nie sommer net enige iemand wees nie. By ’n onlangse konferensie van Landbouweekblad by die Agri-Expo Livestock in Stellenbosch het Mogashoa boere aangemoedig om moeite te doen om vriende te maak met mense wat ’n moontlike swartbemagtigingsvennoot kan wees. Dit moenie bloot ’n gerieflikheidsverhouding wees ter wille daarvan dat die name op papier “reg” lyk nie.

“Dit moet iemand wees met wie jy lekker kan kuier. Die meeste van my sakevennote was my vriende voordat hulle vennote geword het.

“Soek iemand wat ’n passie het vir sy werk en ’n passie met jou deel. Iemand wat integriteit het en die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei. Dit moet ook iemand wees wat weet wanneer om te waag, en wanneer om liewer uit te klim.” Dit moet ook ’n vrygewige persoon wees, ’n filantroop wat nie net “vat, vat, vat” nie.

Mogashoa en Jacques het by ’n sosiale geleentheid vir wildboere by die wildplaas Shelanti in Limpopo ontmoet. Mogashoa besit die wildplaas Babirwa in Limpopo.

“Eers later het ons oor tafeldruiwe begin praat.”

Mogashoa en die Beukesse het mekaar moeiteloos gevind. “Ons het dit gedoen omdat óns dit wou doen. Maar wat hierdie onderlê, is Jacques en sy familie se bereidwilligheid om hul kennis met iemand soos ek te deel. Hulle gee my die voordeel om op die vlak mee te ding van ’n instelling wat ’n honderd jaar oud is.”

Hy gee toe dat nie almal, soos hy, die kapitaal het om tot so ’n vennootskap by te dra nie. Maar so ’n vennootskap kan toegang kry tot finansiering van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), die departement van handel en nywerheid en die landbank. Die voorwaardes van finansiering by dié instansies is gewoonlik baie gunstiger as dié van ’n kommersiële bank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.