Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Maatskappye
Soccer Laduma: Sokker is net ’n begin
Klubs wys townships is groot onontginde mark
Peter du Toit, stigter van die publikasie Soccer Laduma.

Sokker in Suid-Afrika is nie net 22 mans op ’n veld nie, dis 45 miljoen Suid-Afrikaners wat deel van die spel wil wees.

So sê Peter du Toit, stigter van die publikasie Soccer Laduma, wat al sedert 1997 plaaslike ondersteuners ingelig hou oor elke aspek van die spel waaroor hulle, en hy, so passievol is.

“Elke sokkerondersteuner, of hy nou ’n petroljoggie of ’n bankbestuurder is, het ’n doktorsgraad in sokker – want as jy so fanaties oor sokker is, is dit al waaroor jy praat,” vertel Peter, wat self sokker eet, slaap en droom.

Soccer Laduma het aanvanklik as ’n koerant begin en was gou noodsaaklike leesstof vir sokkergeesdriftiges. Die onlangse stigting van die tydskrif se landwye ondersteunersklub het egter ook “heel per ongeluk” tot ’n sake-idee gelei wat reeds die media- en bemarkingswêreld aan die gons het.

Dié ondersteunersklub is ’n paar weke gelede amptelik bekend gestel, met die doel om die Soccer Laduma-familie van 3,2 miljoen te help om méér uit die spel wat hulle liefhet, te kry.

Daar is tans 330 takke landwyd met altesame sowat 30 000 ingeskrewe lede, maar ook heelwat ondersteuners wat deel van die lewendige aanlyn gemeenskap is.

“Die ondersteunersklub is die oë, ore, hart, siel en mond van ons ondersteuners. Heel natuurlik het die daaglikse gesprekke met ons lesers ook hul eie leefwêreld begin insluit, byvoorbeeld hoe hulle geld verdien, wat hulle daarmee koop en op watter wyse hulle items aankoop.”

Peter sê Soccer Laduma het begin besef dié gesprekke bevat uiters belangrike inligting wat niemand anders het nie. “Ons kon agterkom wat maatskappye of instansies nié van hul klante in die township weet nie.”

Die swart verbruikersmark is die mark wat die vinnigste groei in Suid-Afrika, maar die mark word ook heelwat misverstaan.

As voorbeeld noem hy die interaksie wat hy met ’n man gehad het wat motors in sy agterplaas in die township herstel. Die man se onderneming maak fluks geld en hy spaar tans byna R6 000 per maand om ’n nuwe motor te koop. Hy het genoeg vir ’n deposito bymekaar, maar hy kry nie ’n lening vir die res van die koopsom nie.

“Toe kom ons agter hy maak ’n regmerkie op die aansoekvorm in die blokkie langs die woord ‘werkloos’, want hy het gedink die term employed beteken dat jy vir ’n werkgewer werk.”

Du Toit sê maatskappye verstaan nie altyd hoe eurosentries hul vorms is nie en dat hulle heel kredietwaardige klante deur hul vingers laat glip op hierdie wyse.

Soccer Laduma gebruik sy ondersteunersklubs se unieke inligting as hefboom om geleenthede vir die lede te skep, en om opheffing in die gemeenskap te bevorder.

Ondersteuners moet inligting oor hulself gee in ruil vir lidmaatskap, en daardie inligting help maatskappye weer in hul marknavorsing oor die swart gemeenskap se voorkeure en koopgewoontes. ’n Minimum van 10% van die inkomste wanneer dié inligting vir marknavorsing gebruik word, gaan terug na die klubs en Du Toit sê die lede begin stadig maar seker hul waarde begryp.

Met die groei van e-handel moet koeriermaatskappye deesdae ook in die township aflewer en dit het ook ’n geleentheid vir Soccer Laduma se ondersteunersklubs geskep om bykomende inkomste te verdien.

“Omdat dit dikwels moeilik is om ’n straatadres in die township op te spoor, gebruik die koeriermaatskappye ons ondersteunersklub se fisieke adres as ’n afleweringspunt, vanwaar ons mense weer help dat die pakkie by die regte persoon in hul gemeenskap uitkom – want hulle weet baie beter hoe om hom op te spoor as die afleweraar van die koeriermaatskappy wat nie die buurt ken nie,” verduidelik Du Toit.

Hy sê marknavorsers van buite penetreer eenvoudig nie so diep in die township in as die klubs se lede wat daar woon nie. Só kon sy lede byvoorbeeld akkurate inligting aan drank-handelsname gee oor die aantal sjebiens in die township en watter produkte hulle verkies.

“Omdat baie van die sjebiens onwettig sake bedryf, sal hulle nie sommer inligting aan buitestanders gee nie, maar ons lede is ook dikwels klante van die sjebiens en kon die maatskappye se inligting verifieer.”

Die ondersteunersklubs se lede kry ook inkomste uit die toets van nuwe produkte, en daar word verder saamgespan om beurse en werkgeleenthede vir lede in die hande te kry.

“Mense maak ’n fout om sokkerondersteuners te tipeer as die ouens met die vuvuzelas en die groot brille. Ons het ook kinders, verantwoordelikhede, begrotings om te laat klop en ons dink unieke oplossings uit om te oorleef en ons gesinne te ondersteun – dis tyd dat die sakewêreld ons waarde raaksien.”

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.