Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Maatskappye
Min steun vir verpligte rotasie van ouditeure
Hoekom wil Irba ouditeure roteer?

Bernard Agulhas van die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba), wat aanvanklik met die voorstel gekom het, sê een van die hoofdoelwitte van MAFR is om die publiek teen negatiewe gebeure te beskerm wat voorkom kon word as die ouditprofessie beter toesighouding gehad het.

Volgens hom blyk die agteruitgang in die gehalte van ouditstandaarde uit die aantal inspeksies en toestemmingsbevele (wat in effek skulderkennings is) wat die afgelope tyd voorkom.

“Ouditeure het in 2016 57 skulderkennings geteken,” sê Agulhas. “Ouditeure mis risiko’s en ondernemings misluk. Dit raak hoofsaaklik pensioenarisse en die mense wat daarin belê.”

Verdere besonderhede is nodig voordat die verpligte rotasie van ouditeure ingestel word, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Neil Maree, waarnemende adjunkhoof van banktoesighouding by die Reserwebank, het op ’n parlementêre sitting oor verpligte ouditeursmaatskappy-rotasie (MAFR) gesê sommige lande het dit aanvaar en ander het wegbeweeg daarvan. Die voordele en koste moet opgeweeg word, asook die onbedoelde gevolge, sê hy.

Die meeste belanghebbendes in die ouditsektor het aan parlementslede in die sitting gesê hulle is gekant teen verpligte rotasie. Verteenwoordigers van EY en PwC het gesê MAFR sal nie in Suid-Afrika haalbaar wees nie. Dit sal ’n reeds oorgereguleerde mark verder aan bande lê en die ouditbedryf verder konsentreer.

Bernard Agulhas

Ajen Sita, uitvoerende hoof van EY in Afrika, sê EY is nie bewus van enige ouditmislukking in die afgelope 20 jaar wat aan ’n gebrek aan onafhanklikheid toegeskryf kan word nie.

Die Wêreld Ekonomiese Forum het Suid-Afrika se ouditstandaard en kapitaalmarkte sewe jaar agtereenvolgens as die wêreld se beste beoordeel, sê Sita.

“Ek doen ’n beroep op julle om nie oorhaastig in ’n eksperimentele oplossing (soos MAFR) in te spring nie en versoek nederig dat meer werk gedoen word om die impak en gevolge van MAFR in Suid-Afrika se verstaan.”

Dion Shango, uitvoerende hoof van PwC, sê PwC het altyd maatreëls ondersteun om die gehalte van oudits te verbeter en werk saam met alle belanghebbendes in dié verband.

“Ons by PwC het probeer om navorsing te vind wat ouditmislukking aan ’n gebrek aan onafhanklikheid toeskryf, en ons kon ’n mislukkingskoers van 2% vind.”

Hy waarsku Suid-Afrika moet lig loop vir die onbedoelde gevolge van MAFR.

“In ander dele van die wêreld waar dit ingestel is, het dit tot ’n styging gelei in die markaandeel van genoteerde maatskappye wat deur die groot vier (Deloitte, PwC, EY en KPMG) geoudit word.”

Hy het verduidelik daar is ’n verhoogde koste verbonde aan die rotasie van ouditfirmas.

“Baie van die kleiner maatskappye sê hulle het nie die hulpbronne om voorleggings te doen om oudit-opdragte van groot maatskappye te kry nie. Ons moet versigtig wees dat hierdie toedrag van sake nie voortduur nie.”

Gugu Ncube

Gugu Ncube, president van die vereniging vir die bevordering van swart ouditeurs in Suid-Afrika (Abasa), sê daar is ’n werklike behoefte om die onafhanklikheid van ouditeure te bevestig, maar dat dit meer uit die persepsie van bedreigings spruit as uit werklike bedreigings.

Potensiële bedreigings in ’n Suid-Afrikaanse konteks spruit juis uit die markkonsentrasie van maatskappye wat diens aan genoteerde maatskappye lewer.

“Internasionale maatskappye wat groot en kompleks is, en ook dikwels gespesialiseerd, word meestal deur een van die ‘groot vier’ geoudit. Die potensiële ineenstorting van een van hierdie maatskappye kan dus die stabiliteit in die finansiële mark versteur en beleggersvertroue skaad.”

Ncube het melding gemaak van ’n aantal ondersoeke, waarvan een gewys het dat daar nie bewyse is dat MAFR oudit-onafhanklikheid bevorder om gehalte te verhoog nie. Dit sou dus nie die ideale manier wees om dié doelwit te bereik nie.

’n Oorsig van 26 verslae van reguleerders en verteenwoordigende liggame wêreldwyd wys 22 het tot die slotsom gekom dat MAFR nie voordelig is nie, en net vier was ten gunste daarvan.

Sy sê wel Abasa is sterk ten gunste van transformasie van die ouditprofessie om op alle terreine ’n beter weerspieëling van Suid-Afrika se demografie te wees.

“Dit sluit die insluiting van nuwe rolspelers in die mark in, wat die klein en middelslagmaatskappye sal toelaat om ook groter kliënte se oudits te doen asook transformasie van die ‘groot vier’ se demografiese samestelling.”

Agtergrond

In Oktober 2016 het die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) ’n gespreksdokument oor die voorgestelde raamwerk gepubliseer.

Die raamwerk sal die manier verander waarop maatskappye ouditeurs aanstel.

Ingevolge die nuwe maatreël sal ’n ouditfirma nie toegelaat word om vir meer as tien opeenvolgende boekjare as die geregistreerde ouditeur van ’n genoteerde maatskappy te dien nie.

Verder kan dieselfde ouditfirma net heraangestel word ná die verstryking van minstens vyf boekjare. MAFR sal van krag word vir die boekjare wat op of ná 1 April 2023 begin.


Meer oor:  Kpmg  |  Irba  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.