Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Maatskappye
R72 000 per dag vir uitvoerende hoofde
Leslie Yuill, verantwoordelik vir vergoeding by Deloitte.Foto: Verskaf

Die uitvoerende hoofde van die 100 grootste maatskappye wat op die JSE genoteer is, verdien gemiddeld R72 176 per dag.

Dit sluit in hul basiese salaris, voordele, hul bydrae tot ’n mediese fonds en aftreevoordele, asook hul jaarlikse kontantbonusse. Volgens Deloitte beloop dié bedrag gemiddeld R17,9 miljoen per jaar.

Bonusse uitgesluit, daal dié bedrag tot sowat R38 915 per dag of R9,6 miljoen per jaar.

Dié syfers kom uit Deloitte se verslag Change, wat fokus op hoe uitvoerende hoofde se salarisse met hul maatskappy se prestasie vergelyk.

Leslie Yuill, verantwoordelik vir vergoeding by Deloitte, sê die feit dat uitvoerende hoofde sulke reusebedrae verdien, bly ’n twispunt, veral in Suid-Afrika waar die werkloosheidskoers nou volgens die eng definisie 27,7% is.

Dit is volgens die nuutste arbeidsmagpeiling wat Statistieke Suid-Afrika Maandag vir die tweede kwartaal uitgereik het.

Geen verband met hoe goed maatskappy vaar

Yuill sê die vraag wat hulle met hul navorsing wou beantwoord, is nie of die vergoeding te hoog is of nie, maar of uitvoerende hoofde se prestasie regstreeks gekoppel kan word aan die prestasie van die maatskappye waarvoor hulle verantwoordelik is.

Volgens hul navorsing blyk dit tans nie die geval te wees nie. Ongeag in watter sektor ’n maatskappy bedrywig is en dikwels ongeag hoe die maatskappy gevaar het, het die uitvoerende hoof steeds ’n salaris en bonus verdien wat oor die algemeen goed met dié van ander uitvoerende hoofde vergelyk.

Deloitte het die salarisinligting van die afgelope ses jaar vir sy navorsing gebruik.

Nick Icely, nog ’n vergoedingskenner van Deloitte, het Maandag op ’n paneelbespreking by die JSE in Sandton, Johannesburg, sê hoewel die publiek en aandeelhouers dikwels wil weet hoe die vergoeding geregverdig word, kan ’n direksie gewoonlik nie te veel besonderhede – soos die uitvoerende hoof se kritieke prestasie-aanwysers – verskaf nie.

“As jy die spesifieke doelwitte van jou uitvoerende hoof openbaar maak, kan jy net sowel vir jou mededingers vertel wat jy vir jou maatskappy beplan.

“Deur nie al die besonderhede te gee nie, beskerm jy jou maatskappy en sy strategie, maar dit skep die indruk dat jy inligting weerhou,” sê hy.

Eksterne faktore kry die skuld

Nog ’n uitdaging is in hoe ’n mate ’n maatskappy eksterne faktore wat ’n groot impak op sy resultate kan hê, maar waaroor die uitvoerende hoof geen beheer het nie, by sy hoof se persoonlike prestasie inreken.

“Die mynbousektor is tans ’n goeie voorbeeld hiervan,” sê Icely. “Die maatskappye het geen beheer oor die lae prys van hulpbronne nie. Die vraag is nou of die vergoeding van hierdie uitvoerende hoofde – wat hard werk om hul maatskappye se voortbestaan te verseker – moet daal omdat die maatskappy nie goed vaar nie,” sê hy.

Langtermyn-aansporings

Nog ’n vraag is hoe direksies oor langtermynvergoedingspakkette besluit.

“Daar is gevalle waar uitvoerende hoofde groot risiko’s geneem het en beleggings gedoen het. Op grond hiervan het hulle aandele ontvang. Jare later kan dié aandele bo verwagting goed vaar.

“Kan beleggers en die publiek vies wees oor dié meevaller?” vra Icely.

Die paneel sê hulle is vol vertroue dat met die aanvaarding van die King IV-kode oor korporatiewe beheer daar in die toekoms groter duidelikheid oor die vergoeding van uitvoerende hoofde sal wees en wat van hulle vereis word om vir veral medium- en langtermynbonusse te kwalifiseer.

“Ons is vol vertroue – hoewel uitvoerende hoofde se salarisse nie noodwendig deur King IV beïnvloed sal word nie – dat daar groter duidelikheid sal wees oor hoe dit geregverdig word,” sê Yuill.

Meer oor:  Deloitte  |  Jse  |  Ekonomie  |  Vergoeding  |  Uitvoerende Hoofde  |  Maatskappye  |  Salarisse  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.