24 Julie 18:50
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

16°C / 12°C

Wind 33km/h

Reënval 9mm

Humiditeit 69%

Woensdag

14°C / 9°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Donderdag

18°C / 10°C

Wind 12km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Vrydag

19°C / 14°C

Wind 27km/h

Reënval 0

Humiditeit 55%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Sondag

16°C / 10°C

Wind 14km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Beleggings
Aktief vs. passief: Waar lê die wenners?

Jou kans op ’n hoër beleggingsopbrengs is op die lang termyn bes moontlik beter in ’n passief bestuurde belegging as in ’n aktief bestuurde effektetrustfonds. Jy vaar ook nie noodwendig op kort termyn swakker in passief as in aktief wanneer die aandelebeurs onder druk is nie.

Dít is die baie tentatiewe gevolgtrekkings waartoe Netwerk24 kom ná ons eie deurtastende ontleding oor die prestasie van 700 aktief bestuurde effektetrustfondse met aandeleblootstelling (van lae blootstelling tot suiwer aandelefondse) en 94 passief bestuurde fondse (beursverhandelde produkte en indeksfondse).

In die PDF’s wat hieronder aangeheg word, kan jy na spesifieke fondse se prestasie kyk, sowel aktief as passief. 

Die gevolgtrekking is tentatief omdat passiewe beleggings in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene staan. Daar is slegs 9 passiewe beleggings wat reeds 10 jaar of langer bestaan, teenoor 193 effektetrustfondse uit die 700 met aandeleblootstelling.

Dit maak dit riskant, inderwaarheid roekeloos, om te sê die laaste woord oor die onderwerp is gespreek. Die syfers is boonop plek-plek teenstrydig, dalk juis skeefgetrek omdat daar te min passiewe beleggings is.

Netwerk24 het die navorsing gedoen na aanleiding van die Spiva-telkaart wat Standard & Poor’s verlede week uitgereik het. Daarin is bevind dat net 27,5% van Suid-Afrikaanse aandelefondse in 2016 die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele (Swix All Share, kortliks Swix) geklop het. Oor 3 jaar het 19,9% van fondse die Swix geklop en oor 5 jaar 23%.

Die vraag wat dit opper, is: Hoe vaar passiewe beleggings dan?

En hoe lyk die prentjie op lang termyn, want die Spiva kyk slegs tot op 5 jaar? Aandelebeleggings is immers langtermynbeleggings juis sodat die korttermynskommelinge weens politieke of ekonomiese faktore gladgestryk kan word. Die meeste batebestuurders beskou 7 jaar as die minimum beleggingshorison vir aandele of effektetrustfondse met hoë aandeleblootstelling.

Nog ’n vraag wat Netwerk24 gepla het, was die vergelyking met die Swix. Die meeste beleggers se grootste bron van kommer is nié of hulle die mark klop nie, maar of hulle inflasie klop en dus hul kapitaal doeltreffend beskerm.

Meerderheid klop inflasie op lang termyn

Sowel aktief as passief bestuurde effektetrustfondse met aandeleblootstelling doen op lang termyn betreklik konsekwent iets vir beleggers wat kontant in die bank nié kan doen nie: heelwat van hulle klop inflasie.

Data wat Morningstar verskaf het, wys dat ’n volle 94,8% van aktiewe fondse oor 10 jaar beter gevaar het as inflasie. Oor 3 jaar daal dit tot 50,7%.

Die prestasie vir 2016 lyk beroerd, met net 9,4% van aktiewe fondse wat inflasie klop, in die konteks van gemiddelde inflasie van 6,4% vir die jaar.

Hierteenoor wys data wat etfSA.co.za verskaf het, dat 66,7% van passiewe beleggings oor 10 jaar beter gevaar het as inflasie, 54,3% oor 3 jaar en ’n verrassende 28,9% in 2016.

Moenie terugkyk nie

Dit is baie belangrik om daarop te let dat die data verwys na ’n spesifieke tien jaar – van 2007-’16 – ’n tydperk waarin die JSE van rekord tot rekord gestyg het.

Die afgelope 3 jaar beweeg die beurs basies sydelings, wat beteken dat die prentjie oor aktief vs. passief waarskynlik gaan verander oor die volgende 5 tot 7 jaar.

Historiese prestasie is ook geen voorspelling van toekomstige prestasie nie.

Oor 2 van die 4 termyne (1 en 3 jaar) het meer passiewe beleggings dus beter gevaar teen inflasie as aktiewe beleggings, maar wanneer aktiewe bestuurders wen, wen méér fondse.

Méér passiewe beleggings vaar egter beter as inflasie én die mark tesame, oor al die termyne. (Die Swix was aansienlik hoër as inflasie behalwe in 2016.)

Seker die verrassendste syfer is dat 28,9% van passiewe beleggings in 2016 beter gevaar het as die inflasie sowel as die Swix, teenoor net 9,4% van die aktiewe fondse – dít in ’n mark wat sywaarts beweeg het.

Dit kom ook te midde van waarskuwings deur batebestuursfirmas en finansiële adviseurs dat jy jou juis nie in ’n moeilike mark te veel in passiewe beleggings wil begewe nie.

Nerina Visser, strateeg oor passiewe beleggings by etfSA.co.za, sê dis asof sommige ontleders “weier om te aanvaar dat passief nie net beteken indeks van alle aandele nie”.

Sy stem saam dat die indeks van alle aandele, streng volgens markwaarde, straks nie op die oomblik is waar jy wil belê nie. Daar is egter ’n enorme verskeidenheid passiewe beleggings wat goeie diversifikasie bied. Selfs as jy in die indeks van alle aandele belê in ’n fonds waar maatskappye se gewigte gelykop verdeel word, gaan jy dalk beter as die mark vaar.

“Smart beta” – fondse wat slim saamgestel word – verskans beleggers dikwels teen die swak mark. Passief beteken dus lank nie meer “passief passief” nie. Jy kan nou “aktief passief” wees.

“Wanneer markte sywaarts gaan, is daar tipies meer geleenthede om meer aktief te kies – maar jy kan sektore kies of hoë dividende of randverskansers.”

Jy kan ook ander bateklasse uit passiewe beleggings kies, nie net aandele nie.

Francis Marais, beleggingsontleder van Glacier van Sanlam, sê die meeste batebestuurders stel nou ’n kombinasie van aktief en passief voor.

Hy is van mening dat passiewe beleggings kwalik sou kon slaag sonder die werk wat aktiewe batebestuurders verrig. Deur hul soeke na billike waarde in aandeelpryse maak aktiewe bestuurders die mark meer doeltreffend, iets wat ook risiko verminder omdat dit spekulatiewe prysborrels help beheer.

“Daar is batebestuurders wat onbillik baie geld vra vir swak prestasie. Maar baie gee werklike alfa (bogemiddelde prestasie) en verdien betaling daarvoor.”

Batetoewysing bly vir hom uiters belangrik, asook dat mense op lang termyn fokus met hul beleggings. Die grootste enkele fout wat beleggers maak, is om gedurigdeur in en uit die mark te beweeg – ongeag of hulle in aktiewe of passiewe beleggings is.

Oor die navorsing (sien besonderhede in die PDF’s wat hieronder aangeheg is):

  • Met aktiewe fondse het ons fondse uitgesluit wat minder as 5 jaar bestaan om ’n beter prentjie te vorm. Omdat passiewe beleggings nog so min is, is alle beleggings ingesluit wat reeds ’n jaar bestaan omdat daar so min fondse is, maar dit is beslis nie ideaal nie. Navorsing sal herhaal moet word en mettertyd behoort ’n vollediger en betroubaarder prentjie van opbrengs slegs vir fondse wat wel die toets van tyd deurstaan, onthul te word.
  • Die opbrengs oor 3, 5 en 10 jaar is die totale geannualiseerde opbrengs. Dit beteken (baie rofweg verduidelik) dit is wat jy gemiddeld elke jaar sou verdien oor die tydperk, met saamgestelde opbrengs ingesluit.
  • Die opbrengskoers is ná administrasiekoste, maar sluit nie adviseurs- en platformgeld in nie. (Dit is die sogenaamde total expense ratio of TER.)
  • Die aandeelhouersgeweegde indeks van alle aandele (Swix All Share) is as maatstaf gebruik om dit vergelykbaar te maak met die Spiva-telkaart en ook om te wys of beleggers “waarde vir hul geld” kry – die koste van aktief bestuurde fondse is hoër met die veronderstelling dat fondsbestuurders juis beter sal vaar as die mark. Maar omdat beleggers se grootste bekommernis dalk nie is hoe hul geld vaar vergeleke met die algemene mark nie, vergelyk ons opbrengs ook met die inflasiekoers. Enige fonds wat die gemiddelde inflasiekoers getroef het, word uitgewys, ongeag of die inflasiekoers met minder as een persentasiepunt verbeter is.
  • Beleggers moet onthou dat hul eie opbrengskoers gaan verskil, deels omdat hul adviseurs- of makelaarskoste nog verreken moet word, maar ook omdat hul opbrengskoers bereken word oor die jaar wat begin op die dag waarop hulle belê het. Die opbrengskoerse hier aangegee is oor die kalenderjaar van 1 Januarie tot 31 Desember.

  

Besluit self waar jy jou geld sit

   

Dié twee PDF’s lig uit watter fondse beter vaar as inflasie en die mark. Ideaal gesproke wil jy in die ‘blou sone’ belê - dus in fondse wat beter vaar as albei. Jou beleggingstermyn sal bepaal of dit vir jou saak maak of die prestasie oor 1, 3, 5 of 10 jaar is. Onthou dat laasjaar se wenners baie selfde vanjaar se wenners is, en dat verskillende fondse anders sal reageer in ander ekonomiese en markomgewings.

Onthou dat die artikel nie finansiële advies verteenwoordig nie – jy word steeds aanbeveel om finansiële advies in te win om ’n omvattende finansiële plan daar te stel gegrond op jou risikoprofiel, beleggingshorison en persoonlike omstandighede en doelwitte voordat jy beleggings doen.

    

Aktief by Netwerk24Sake on Scribd

Pass Ief by Netwerk24Sake on Scribd

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1230,42 (198)
  • Top 40 47801,9 (-10803)
  • All Share 54162,7 (-12461)
  • Resource 10 31762,04 (-46269)
  • Financial and Industrial 30 77108,75 (8452)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.