Sy doen dit in haar debuut-boek, I’m Missing News (PanMacmillan, R203). As hoof van Eyewitness News by Talk Radio 702 en 94.7 Highveld Stereo probeer Katy die perfekte balans kry tussen haar loopbaan, waar sy vars nuus moet volg, en ma-wees, waar sy haar seuns liefdevol probeer grootmaak. Die titel spruit uit ’n oulike staaltjie in die tyd toe haar seuns nie "Eyewitness News" kon sê nie, maar dit verstaan het as "I'm missing news". Elke dag is ’n uitdaging om balans tussen haar loopbaan en haar gesin. Soos die meeste werkende ma’s weet, is dit nie altyd maklik nie. Sy gee ’n uitstekende blik op haar besige lewe en die intriges van haar veeleisende werk. Ek het by Katy se kantoor in Sandton gaan kuier en met haar gesels oor boeke skryf, radio en ma-wees.

Wanneer het jy geweet jy wil ’n radiojoernalis wees?
Dit was nooit regtig ’n bewustelike besluit nie. Die lewe het my in hierdie rigting gestuur. Ná my studies het ek vir ’n gemeenskapsradiostasie begin werk. Ons het ’n diens met die naam Broadcast Resources gebruik om vir ons die nuus te verskaf. Dit was deel van Talk 702. David O’Sullivan van 702 het my eendag gebel en gevra om my CV aan te stuur en gesê “maak seker daar’s nie een enkele spelfout nie”. Radio het ’n groot rol in ons huishouding gespeel, spesifiek Talk 702, want almal se opinies is uitgesaai en my ouers wou hê ons moes aan verskillende menings blootgestel word. Die nuus op 702 was altyd van topgehalte en ek was gaande oor dié nuusproduk.

Het jy dit ooit oorweeg om in gedrukte media te werk?
Nee, nooit nie. Dis iets wat ek wel doelbewus besluit het. Ek is mal daaroor om my stem te gebruik en om te praat. Dit sou altyd uitsaaimedia wees. Die onmiddellikheid van dié medium, veral om ’n storie wat pas gebreek het te vertel, pas my soos ’n handskoen. Jy kan onmiddellik die nuus op die radio uitsaai. Natuurlik maak ons eers seker van al ons feite en bevestig alles. Ek is mal oor radio se intimiteit. Dis saam met jou in die kar, in die badkamer terwyl jy tande borsel of in die kombuis terwyl jy roereiers maak. Dis net hierdie verhouding wat jy met die mens aan die ander kant van die luidspreker bou.

Hoekom is jy lief vir nuus?
Ek is mal daaroor dat ons mense se opinies en gedagtes kan vorm en aan elkeen inligting verskaf. Ons sê nie vir jou wat om te dink nie, jy kan dink wat jy wil. Ons gee die inligting wat ons oor daardie saak het. Vat iets daaruit, vorm jou eie opinie, en dan voer ons ’n gesprek daaroor.

Jy word nie ’n joernalis om geld te maak nie. Wat was jou ouers se reaksie toe jy vir hulle sê jy wil ’n joernalis word?
Dit het nooit vir hulle oor geld gegaan nie. My pa het altyd gesê jy moet hard werk, jy moet lief wees vir wat jy doen en dan sal jy die vrugte daarvan pluk. Hy was só reg in daardie opsig, ek onthou die dag toe ek my eerste salaris ontvang het. Jy kon nie eens daarop oorleef nie! Joernalistiek is nie die werk wat die meeste betaal nie en ek sal baie bly wees as dit eendag kan verander – sodat mense die joernalistiek as ’n beroep kies en besluit om langer in die beroep te bly. Ons sien daagliks goeie joernaliste aanbeweeg na skakelwese of regeringskommunikasie. Ek dink ons bedryf moet joernaliste baie meer beloon vir hul harde werk.

Jy dek soms stories wat besonder grusaam is. Hoe skakel jy af en verhoed dat jy dié stories saamvat huis toe?
Daar’s nie ’n meganisme wat ek gebruik om af te skakel nie, want die werklikheid is dat ons stories baie negatief is. Daar’s baie slegte nuus in Suid-Afrika. Ek kan empatie toon teenoor die mense wat in die stories betrokke is, maar ek weet ek moet nie die emosies myne maak nie. Ek is baie dankbaar dat daar nog nie sulke goed met ons gebeur het nie of dat dit nie in ons direkte omgewing is nie. Ek dink steeds aan die stories wanneer ek huis toe gaan. Ek bespreek dit vir ure aaneen met my man. Dan weet ek dit het ’n impak op my gehad, maar ek laat nie toe dat dit my depressief maak nie. Inteendeel, dit motiveer my eerder om te dink wat ons as joernaliste kan doen om die realiteit te verander. Watter stories kan ons vertel om ’n saak uit te lig sodat daar iets positiefs kom? Ons by Eyewitness News het die model van radionuus verander. Ons het al baie ondersoekende stories gedoen wat verandering in die gemeenskap teweegbring. Selfs al verander ons niks, het ons mense gekry om daaroor te begin praat en dís vir ons belangrik.

Wat is die beste ding van ma-wees?
My seuntjies kla ek soen hulle te veel, maar ek sal nooit ophou nie! Al twee my seuntjies is baie hardkoppig en kan dit nogal vir my moeilik maak. Hulle daag my altyd uit, en stry met my en vra my vrae. Hulle wil baie goed weet, twee regte klein joernaliste! Ek wil net die beste hê vir my kinders. My grootste vrees is dat daar goed met hulle gaan gebeur waaroor ek nie beheer het nie.

Waarom het jy besluit om hierdie boek te skryf?
Daar was soveel interessante stories oor wat in die nuuskamer gebeur wat ek net moes oorvertel, of die ervarings wat ons as span al deurgemaak het. Iets waaroor daar al baie gefluister is in die werkplek, hoe vrouens alles balanseer – ek dink nie iemand het al openlik hieroor gepraat nie.

Jy het ook ander ma’s in die media gevra om hul stories te deel en ná elke hoofstuk is daar ’n bydrae deur mediavroue wat op ’n tyd in dieselfde bootjie as jy was. Waarom het jy besluit om dit te doen?
Omdat daar nie openlik oor dié onderwerp gepraat word nie. Ek wou nie hê dit moet net my stem wees nie. Ek wou ander vroue se stories ook vertel, en ek is mal oor elkeen se bydrae. Ek ken nie almal nie, maar ek het net die foon opgetel en hulle gevra. Soos Rosemary Church van CNN, wat die doelbewuste besluit geneem het om die nagskof te werk sodat sy in die dag by haar kinders kon wees. Van die stories is snaaks, ander is regtig hartseer.

Om vir radio te skryf en om ’n boek te skryf is twee heeltemal verskillende dinge. Hoe het jy dit ervaar?
Dit was in die begin nie maklik nie. Vir radio skryf ons kort en kragtig. Ek sê altyd vir ons span hulle moet minder woorde gebruik en in korter sinne tot die punt kom. Aan die begin het ek baie kort sinne geskryf. Een gedagte per sin. Die eerste keer toe ek dit lees, het ek besef dis nie ’n nuusbulletin nie en ek werk toe aan die vloei. Toe ek eers aan die gang kom, was ek mal oor die langer formaat. Dit was ’n baie moeilike maar ongelooflik vervullende ervaring. Dit was moeilik, want die boek is baie persoonlik. Ek is glad nie gewoond daaraan nie. Ek het eers halfpad deur die proses besef iemand gaan hierdie goed lees en presies weet wat ek dink en voel. Ek probeer by die werk baie hard om nie te wys wat ek dink en voel nie. Die boek gaan nie net oor ma’s wat in media werk nie. Allesbehalwe. Ek het ’n kollega wat glad nie kinders het nie, en sy is deur die boek geïnspireer om ’n gesin te oorweeg. Sy was voorheen baie bang en het gedink dit sal nie moontlik wees om kinders te hê én te werk nie.

Die laaste hoofstuk van die boek is ’n brief aan jou seuns. Sal jy wil hê hulle moet ook eendag die boek lees?
Ja, ek sal graag wil hê hulle moet dit lees sodat hulle partykeer in my skoene kan staan. As ek op hulle skree wanneer hulle by die swembad speel, dan sal hulle weet hoekom ek dit doen. Ek kan dit nie nou vir hulle verduidelik nie, maar hopelik sal hulle eendag verstaan.