Frankie Bard, ‘n Amerikaner, is ‘n radio-verslaggewer wat in Engeland is om te rapporteer oor die Blitz in 1940. Terug in Amerika is Iris James, wat die posmeesteres is van Franklin, Massechusetts. Dan is daar Emma Fitch. Sy en Will, die plaaslike dokter, is pasgetroud en sy het onlangs na die dorp getrek. Dié drie vroue se lewenspaaie kruis uiteindelik wanneer Frankie terugkom Amerika toe en vir Emma gaan opsoek om ‘n brief af te lewer. En die brief vorm die spil van die interaksie tussen die drie hoofkarakters.
Frankie is eers net ‘n stem op die radio vir Iris en Emma, wat na haar verslaggewing oor die oorlog luister. Emma, met baie meer emosie as Iris, want Emma se man het haar gelos om Londen toe te gaan om iets te probeer doen aan skuldgevoelens en om te probeer om ‘n doel aan sy lewe te gee. Emma is in afwagting vir elke brief of poskaart wat sy van hom kry. En die aflewering van die pos is in die hande van Iris, die oujongnooi wat verlief is op Harry, en wat alles weet wat in haar dorp aangaan. Sy ken elke inwoner se klein geheimpies en is soort van die bewaker van die orde op haar manier. Sy doen dinge op haar manier en besluit self wat die beste is vir die ander partye in die situasie.
Elkeen van die vroue vertel hul eie verhaal, van hoe die oorlog hul lewens beïnvloed en hoe ‘n oorlog wat eintlik ver van hulle is ‘n groot emosionele verandering in hul lewens bring.
Dis ‘n roerende verhaal vol deernis vir almal wat geraak word deur die omstandighede rondom oorlog, direk en indirek. Die menslikheid raak jou en laat jou lank dink oor die onreg van konflik.

Ek het per e-pos met Sarah Blake gesels oor haar boek, The Postmistress (Viking, R166)

Vertel bietjie meer van jouself en jou skrywery.
Ek was een van daai meisietjies wat altyd storietjies opgemaak het, dit neergeskryf het en dit dan in ‘n laai gebêre het vir altyd. So, ek veronderstel ek was maar altyd aan die skryf - in kollege en daarna het ek meer gedigte geskryf en dit het my geleer om visuele beelde te skep. Maar toe vind ek dat ek wil hê mense moet praat, argumenteer en stil kan bly - dis toe dat ek voete eerste reguit in die skryf van fiksie ingespring het. Ek skryf, want daar is so baie dinge van die lewe wat vreemd en wonderlik is. . . brokkies van gesprekke wat ek hoor, kortstondige blikke van verbysnellende gebeure wat ek net wil neerpen op papier. Ek hou daarvan om goed wat ek nie verstaan nie aan die gang te sit.

Hoekom die titel, "The Postmistress"?
Hier in die VSA is daar nie iets soos ‘n postmistress nie - jy is ‘n postmaster, of jy nou ‘n man of ‘n vrou is. Maar vir my, die beeld van ‘n postmistress bring iemand na vore wat nie streng hou by die beperkinge van haar werk nie, sy is betrokke by die mense in haar gemeenskap, so asof sy soos ‘n engel oor hulle waak, oor hul lewens asook hul pos. Dit is wat my karakter, Iris James, word, al druis dit teen haar grein in. Daai subtiele verskuiwing van postmaster na postmistress was die kern van wat haar vir my interessant gemaak het.

Waarom ‘n storie oor oorlog, maar een waarin geen bloedige gevegte voorkom nie, eerder die menslike storie van die effek van oorlog op ‘n paar karakters se lewens?
Ek het die verhaal begin in 2000, toe die VSA nog nie direk betrokke was by die oorlog in Irak of Afghanistan nie, en toe die idee van oorlog iets was wat iewers anders plaasvind of in ‘n ander era gebeur het. Natuurlik het ek koerant gelees, radio geluister, nuus op TV gekyk, maar die nuus het op ‘n afstand gebly. Een oggend het ek die koerant oopgemaak en ‘n foto gesien van ‘n seuntjie wat in die kruisvuur beland het in konflik wat iewers anders en ver plaasvind en om een of ander rede het dié foto my hard geruk. Op daardie oomblik het ek tot die besef van die ooglopende gekom: Oorloë is nóú aan die gang op baie plekke in die wêreld en terselfdertyd beleef ons vrede en gaan met ons gewone lewens aan. Die aakligheid van ‘n wêreld wat terselfdertyd in oorlog en vrede gedompel is, is iets waaroor ek wou skryf. Spesifiek die patos van die mense wat in oorlog vasgevang is vir wie dit lyk asof die res van die wêreld nie ‘n snars omgee nie. Ek het doelbewus begin skryf aan ‘n verhaal wat fokus op die war on the edges of a battlefield en wat die alledaagsheid, asook die effek van oorlog weergee.

Hoe het jy jou navorsing gedoen?
Ek het biblioteek toe gegaan en gelees en gelees - geskiedenisse, biografieë, koerante uit die 30's en 40's, Life Magazine. Ek is gelukkig om in Washington DC te woon waar die United Postal Museum, die Holocaust Museum en die National Archive is, wat ‘n versameling van mondelinge geskiedenisse van die Depressie huisves. Ek het ook onderhoude gevoer met mense wat op Cape Cod gewoon het tydens die oorlogsjare.

Frankie lewer verslag vir radio oor die oorlog in Europa. Wanneer het sy die skuif gemaak van blote verslaggewer na iemand wat kommentaar lewer oor die oorlog?
Frankie se stryd regdeur die boek is om te probeer hou by die beginsel van objektiewe joernalistiek. Edward R. Murrow, die prominente uitsaaier, het die goue standaard van sy verslaggewing gestel van wat hy tydens die Blitz gesien het, terwyl hy baie versigtig was om nie ‘n standpunt te stel in sy verslae nie. Hy het geglo "vivid word pictures" is op hulle eie reeds baie oortuigend. Maar Frankie se gewaarwording van wanhoop en woede oor wat sy sien, groei oor die verloop van die verhaal, sodat dit vir haar moeiliker en moeiliker raak om "bloot" te rapporteer.

Is sy geskend deur wat sy sien en wat sy rapporteer en het dit haar sosiale gewete beïnvloed?
Ek dink nie sy is geskend nie. Ek dink sy was diep geraak deur haar tyd op die vlugteling-treine en wat in haar gegroei het was ‘n desperate gevoel van hoe onmoontlik dit is om die volle storie van so 'n grootse menslike tragedie te kry. Haar sosiale gewete was altyd volledig in plek. Ek dink haar tyd in Europa het haar kapasiteit om te glo in die mag van joernalistiek om die wêreld te verander beïnvloed, iets wat ek dink sy geglo het toe sy Europa toe gegaan het om die storie oor die oorlog te kry.

Hoe het jy die narratief gemanipuleer om te verseker dat Frankie, Iris en Emma ontmoet?
Die verhaal het vir my begin met ‘n beeld van ‘n vrou in ‘n poskantoor wat ‘n brief in haar sak steek in plaas van om dit af te lewer soos sy behoort te doen. So, die verhaal sou altyd die drie vroue bymekaar bring, want die aksie om ‘n stuk nuus te hou, was die sentrale instrument.

Iris is ‘n vreemde karakter. Hoekom het jy haar storie begin deur haar vir ‘n maagdelikheidstoets te laat gaan? En wat is die belangrikheid van hierdie optrede vir haar karakter in die geheel?
Iris was die karakter waarmee ek begin het en al wat ek van haar geweet het was dat sy ‘n ontsaglike geloof in orde het. Toe eendag, toe ek begin skryf het, het hierdie toneel in die dokter se spreekkamer net vanself ontvou. Ek het nie eens geweet wat sy daar doen nie tot sy vir die sertifikaat gevra het nie en skielik het dit haar as ‘n karakter skerp in fokus gebring. Sy is bitter lief vir Harry en dis haar manier om dit te wys. Dit wys ook hoe diep sy glo in die mag van skoon velle wit papier!

Hoe het jy Will se karakter laat ontwikkel - het sy hang-ups en skuldgevoelens gemaak dat hy Amerika verlaat?
Soos Frankie en Iris kom Will se karakter tot ‘n sekere punt wanneer hy besef hy kan dit wat in Europa gebeur nie meer net laat staan en dit laat gaan nie, sonder om betrokke te raak nie. Sy redes is egter vasgevang in sy eie behoefte om te probeer regmaak wat hy glo hy en sy familie gedoen het. Hy gaan Europa toe met ‘n behoefte vir boetedoening.

Voel hy verlos deur in Londen te wees en betrokke te wees by die oorlog?
Ja, absoluut. Vir die eerste keer voel hy sy lewe is volledig en dat elk van sy gebare ‘n rede en doel het. Die ironie natuurlik is dat hy sy vrou gelos het om hierdie sin van doelgerigtheid te vind.

Is Emma ‘n slagoffer en sal sy emosioneel oorleef?
Ek dink nie sy is ‘n slagoffer nie. Ek dink sy is nogal gehard omdat sy so jonk wees gelaat is. Dit gesê, sy is diep eensaam en ek wil graag dink sy en Iris kom bymekaar vir die res van hulle lewens, Iris as ‘n soort peetma vir Emma se baba en terselfdertyd wakend oor Emma op die manier wat Emma die meeste nodig het.

Wat was die grootste uitdaging met die skryf van die boek?
Dit het agt jaar geneem om die verhaal te skryf, deels omdat hoe dieper ek in die navorsing en die oorlog gekom het, hoe breër het die storie geraak en hoe verder wou ek dit volg. Die uitdaging was om fokus te behou op die drie vroue en op hoe hulle karakters en stories oorvleuel en bots op ‘n manier dat dit nie onnatuurlik of te bepland voorkom nie.

Wat is die laaste ding wat jy wil hê in lesers se koppe moet vassteek na hulle The Postmistress gelees het?
O genade, dis ‘n groot vraag! Ek veronderstel wat meeste by my getalm het, selfs ‘n jaar na die skryf daarvan, is die oorweldigende gevoel van hoe onmoontlik dit is om ooit die volle storie oor, veral ‘n oorlog of ‘n tragedie, te kry. En daardie onmoontlikheid bevat die smart en die mooi van wat dit beteken om mens te wees. Vlugteling-brokkies, glimpe van lewens, flenters van stemme soos die wat Frankie versamel het, is wat op die ou end ‘n totaal vorm.

Waaraan werk jy nou?
Ek werk aan ‘n verhaal wat afspeel in 1959 en 2009 op ‘n ou familie-eiendom aan die kus van Maine. Die verhaal spring heen en weer tussen die twee eras en volg drie generasies van dieselfde familie en hoe hulle stories herhaal, voorafskaduwing en eggo's van mekaar sonder dat die karakters dit weet. Ek stel belang in die laaste dae van die Amerikaanse aristokrasie, met die laaste jaar van die vyftigs as die draaipunt.