STERBOEK

Timeless Karoo, Jonathan Deal (Struik, R254)
Skielik hou die Karoo en sy tydlose natuurgeheime ’n spesiale bekoring in. Ek wil in my motor klim en gaan kyk waar Jonathan Deal oral rondgeloop en gereis het om die stof te versamel vir dié lywige reisgids. ’n Magdom plekkies wat ek nie eers besef het vorm deel van die streek nie, is nou ’n potensiële vakansieplek! Die foto’s wys ook die anderste mooi van ’n veelsydige landskap. Sy gesprekke met karakters op elke dorp is op sigself interessante leesstof.
Phyllis Green

BEKENDSTELLINGS

Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Herman Giliomee, Bernard Mbenga, Monica Bot e.a. (Human & Rousseau, R299)
Die boek is ’n omvattende handleiding oor ons land se geskiedenis, van die eerste mense en nedersettings tot die presidentskap van Thabo Mbeki. Met dié publikasie is probeer om “ons geskiedenis in al sy diversiteit, kompleksiteit en dinamiek op ’n regverdige en gebalanseerde wyse aan te bied”.

Hemelhel, Marthinus de Beer

Hemelhel, Martinus de Beer (Human & Rousseau, R133)
De Beer se debuutroman handel oor ’n jong depressielyer wat vertel van sy paar weke in ’n kliniek in die Vrystaat. Hy kom ná sy behandeling tot die slotsom: “Daar is geen hemel sonder hel nie."

Trouble in My Head, Mathilde Monaque (Random House, R128)
“Ek wou hê die teks moet toeganklik wees, lewendig, en nie lees soos ‘n donker, vervelige persoonlike geskiedenis nie. Natuurlik praat ek baie oor myself.” Dié 14-jarige skrywer se outobiografie vertel van haar ernstige depressie, behandeling en die lang paadjie na heelwording.

RESENSIES

n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel, Johann Rossouw (Zebra, R119,95),
en Die Jakkalssomer, Dirk Jordaan (Tafelberg, R130)

Ek wil ’n vergelyking tref tussen dié twee debute. Jordaan skryf speurfiksie. Rossouw se filofiksie is ’n betreklik onbekende genre. Die Jakkalssomer is ’n oënskynlik gemaklike op-die-man-af speurverhaal oor die polisieman De Villiers Pelser. Hy ondersoek die dood van vier mans in die Oos-Kaap wat na apartheidsmoorde lyk. Jordaan slaag daarin om die verhaal op veelvuldige vlakke te ontknoop. Die eerste is die speurverhaal, ’n weldeurdagte en goed nagevorste who-dunnit.  Op ’n tweede vlak het die hoofkarakter ook ’n psigologiese agtergrond - bagasie wat in die verhaal subtiel geopenbaar word, ’n man met gewone lewensvraagstukke. En op ’n derde vlak loop die storie deur ’n Suid-Afrikaanse, psigologiese landskap. Op dié vlak is die boek uiters geslaag. Die taal is toeganklik. Iemand in jou huis gaan dit wil lees, en hierin lê die vergelyking met ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel. Rossouw tower woorde op soos “gnossies” en “filofiksie”. Die boek neig om ’n bietjie te slim te wees. Hy voer aan filofiksie is ’n poging om filosofiese vraagstukke meer toeganklik aan te bied. Sy (outobiografiese?) ek-verteller reis deur die buurte, winkelsentrums, kerke, ondergrondse parkeerareas en gimnasiums van Pretoria. Dan kontekstualiseer hy die “gnossie” (wat ’n rooi Z4 ry en in ’n Renaissance-kasteel woon) op geskiedkundige, filosofiese en metafisiese manier. Hoewel ek die verwysings na Heidegger en die verduidelikings oor die logosfeer, wat vervang word deur die videosfeer, waardeer en veral aanklank by Rossouw se beroep op Republikanisme vind, moet ek wonder wat dié filofiksie sê wat nie reeds gesê is nie? Dit kan wees dat ek dit net nie snap nie. Wat moontlik beteken dat mense in jou huis dit ook nie sal snap nie.
Neil Sandilands

Onsigbaar, Deon Meyer

Onsigbaar, Deon Meyer (Human & Rousseau, R150)
“Ek sien die bloed op haar bors, die uitskietwond.” Sy aanhangers gaan weer nie teleurgesteld wees nie. En as jy nog nie een van Deon Meyer se boeke gelees het nie, kan jy gerus. Afgesien van die aksie, spanning, skietery, die ryk meisie Emma en haar lyfwag is hier ’n lekker storielyn met karakters wat worstel met allerlei kwessies, sommige eie aan ons land.
Alida
Vos

Animal, vegetable, Miracle, B. Kingsolver

Animal, Vegetable, Miracle: Our Year of Seasonal Eating, Barbara Kingsolver (Faber & Faber, R169,95)
Kingsolver gee ’n liriese beskrywing van hoe haar gesin ’n jaar lank net kos geëet het wat hulle self geplant het of waarmee in die omgewing geboer is. Jy sal beslis anders na ’n aspersie kyk!
Lydia van der Merwe

BEKENDSTELLINGS

Soos klokslag, Margie Orford

Soos klokslag, Margie Orford (Oshun, R137,95)
’n Boeiende riller oor ’n reeks seksmoorde, pornografie en bendegeweld. Dan is daar die vreemde liefde tussen die profielsamesteller en die disfunksionele ondersoekbeampte, en die nóg vreemder liefde tussen twee slagoffers. (Vertaal uit Engels.)

Die val van die dice

Die val van die dice, Pat Stamatélos (Kwela, R128)
Ek kon Stamatélos se eerste boek, Kroes, nie neersit nie. Só ook dié meesleurende opvolg oor die verdere lewe van Pattie Peters. Haar paadjie loop anders as wat sy gedink het, ’n ongelukkige huwelik met ’n man wat haar verneder en uitmergelende huislike omstandighede. Haar kinders gee darem ’n hoop en lig aan haar tragiese lewe.

Oop kaarte, A. Coetser

Oop kaarte, Annemari Coetser (Tafelberg, R140)
’n Lekker debuutroman oor die liefde: Die jong Leandi raak betrokke by ’n man wat in ’n “oop huwelik” is. Dehlia, ’n ouer weduwee, hunker na sensualiteit en seksualiteit en droom van ’n nuwe verhouding. Haar en Leandi se paaie kruis op ’n baie vreemde manier en hulle leer albei meer oor menswees en die soeke na aanvaarding.

Jakkalsvoël, Kobus Maree

Jakkalsvoël, Kobus Maree (Human & Rousseau, R79,95)
’n Moet-lees vir tieners én ouers. Jacques is ’n matriekseun wat deur sy pa gedruk word om te presteer. Hy het ook verhoudingsprobleme, word uit die eerste rugbyspan geskop en moet sy ma se siekte hanteer. Die skokkende slothoofstuk beklemtoon die eise wat die moderne samelewing aan tieners stel. Dis ’n realistiese en boeiende verhaal vol empatie.