1.My wens vir Suid-Afrikaners in 2006 is: Wees kreatief, wees oorspronklik, wees veral jouself! En dóén wat jy moet doen!’ Só skryf Sarie Mueller, uit Eching, ’n dorpie naby München in Duitsland, waar sy al 3 ½ jaar woon. Sy is oorspronklik van Melkbosstrand, en sy mis haar geliefdes, die see, Tafelberg en die ontspanne SA leefstyl.

2. ‘Ek glo vrede sal nommer 1 wees vir elkeen in SA. Daarmee saam liefde en innerlike vreugde. Met hierdie drie kan almal ’n goue plek in SA geniet.’ Dít is die boodskap van Rozanne de Simon, ’n Overberger van Bredasdorp, wat al 5 jaar woon in Osoppo, in die provinsie Udine in Italië.

3. ‘Daar’s nêrens in die wêreld ’n plek soos SA nie, en ek hoop dat die mense daar ons goeie, ou land waardeer. Mag vrede, liefde en geloof in 2006 oorheers. Sien net die positiewe raak. En wees lief vir jou naaste asof daar geen môre is nie!’ Dié wens kom van Augusta McCarthy van Sunshine Coast, Australië, voorheen van Brits in Noordwes. Haar hart is vol vreugde oor nuwe geleenthede in die land van kangaroes en billabongs, maar sy verlang nog steeds na die mense na aan haar, al is sy al 6 jaar Down Under.

4. ‘Ons wense vir die nuwe jaar is: Minder onverdraagsaamheid, aggressie, rassisme en klassisme, en meer respek en tyd vir mekaar. Minder eie ek en meer ons as Suid-Afrikaners!’ Dit kom van Talitha Keating, wat sedert Februarie 2004 saam met haar gesin in Groningen, Nederland, woon. Hulle is oorspronklik van Jacobsbaai aan die Weskus.

5. ‘Mag 2006 dié jaar wees van indringende besinning oor geweld. Gelukkige mense is makliker tevrede mense. En mag die rand só styg in waarde dat julle almal kan kom kuier!’ Só skryf Johan Bernard, vervaardiger van onder meer die TV-reekse Konings en Onder Engele. Hy is sedert 1999 in beheer van die kombuis van die gewilde gastehuis Ma Cachette in die suide van Frankryk. Pierre Knoesen, akteur, doen die res, en Fritz, ’n gebore Johannesburgse kat, hou die muisbevolking in toom en geniet die Afrikaanse gaste.

6. ‘Vrede, voorspoed, verdraagsaamheid en vreeslik baie vars lug! Hier in Taiwan kry ons nie veel daarvan nie,’Liezel van Beek. Sy kom van Howick, KwaZulu-Natal, en woon en werk tans in Taiwan. Sy het twee jaar gelede ’n SA restaurant, Sa-fa-re (“safari” in Chinees), daar begin en voer ook SA wyne in.

7. ‘Vir Suid-Afrika wens ek genoeg reën vir die aarde en baie vrede vir sy mense. Veiligheid en vrede. En genoeg om te eet, en ’n tafel met vriende en familie wat gesellig saamkuier. Die lewe se plesier is in minder dinge - minder koopure, genoeg tyd om goeie boeke te lees en meer tyd vir jouself en ander.’ Dit kom van Louise Luttig, tegniese skrywer in Auckland en buitelandse korrespondent vir RSG. Sy en haar gesin woon al ’n jaar en ’n half in Nieu-Seeland, naby Long Bay, ’n strand aan die Hauraki-golf, met sy groot baaie en inhamme wat Auckland so uniek maak. (“Ons is Noord-Kapenaars en Vrystaters wat later in Pretoria gaan woon het, maar my man skree nog steeds vir die Cheetahs.”)

8. ‘Respek - teenoor mens, dier, artikel, eiendom, land, geloof, taal en kultuur. Dit vorm tog die grondslag vir vrede en geluk, asook respek vir jouself. Die woordjie “respek” ontsluit so baie dat ek glo dit omvat ons hele menswees.’ Só skryf Melanie en Cornus Moore, oud-Mosselbaaiers en voorheen ook van Welgemoed in die Kaap. Hulle woon al 3 jaar in die klein dorpie Oberägeri in die Switserse berge.