Ek drink reeds vroegoggend koffie op die tweede terminaal by die Charles de Gaulle-lughawe, alvorens ek die vliegtuig na Istanboel bestyg. Ek geniet die lekkerste Turkse hazelneute denkbaar asook Franse wyn, op die vliegtuig. Ja, ek weet die Boeing is nog nie oor nie, maar ek is mos binne-in die vliegtuig, so ek skink én klink my Bordeaux-rooi.

Istanboel slaan my vierkantig tussen die oë. Met ‘n swaar vuishou. My tone kriewel van sweet in my tekkies; die serp moet af en die wit Roma-sonbril moet weer uit. Die lug is soel en bedompig, mense rook en skree en die verkeer raas woes. Die taksi-minibus is toegerus met ‘n sitkamertafeltjie voor-in wat dien as lêplek vir tasse!

Uiteindelik is ek gehuisves in my hotel naby die historiese stad. Ek kan genadiglik van my stink skoene ontslae raak en weer sandale en koeler klere aantrek ná ‘n stortbad. Die spierwit seep is van olyolie gemaak; nou ruik ek die lugredery se komberse weer - pure Turkse seep... Ek vra die hotelpersoneel na ‘n paar Turkse woorde en ... een, twee drie kan ek groet, tel, bestel en bedank. Ek koop plastiek koeponne vir die trem en reis na Kumkapi, ‘n buurt langs die see. Ek kon net sowel in Kalkbaai gewees het! ‘n Koue bier bied lafenis teen die lou namiddaghitte en ek verbreed my Turkse woordeskat terselfdertyd - die kelners leer my bedrewe en skryf al die woorde netjies neer.

‘n Vrou by ‘n naburige tafel is omring met ruikers gehul in selofaan. Ek stap oor, groet met my nuutgeleerde merhaba en doen navraag na die ruikers, waarna ek haar gepas gelukwens met haar verjaarsdag. Summier word ek genooi om saam fees te vier. Maar ek wys die hartlike gebaar met ‘n tesekkür ederim (dankie) van die hand, vereffen my rekening en verkas na die restaurant-hart van Kumkapi vir aandete.

En ongelukkig is dié buurt hopeloos toeriste-mal. Ek gee maar toe, en gaan sit te midde van die stringe feetjieligte en gulhartige kelners. Antonio-kelner bring vir my bakkies voorgereg: strepe ansjovis gerol om groen olywe, gemarineerde brinjals en ‘n bakkie pers beet. Ek smul aan al die vars, eenvoudige geregte, gevolg deur vis en dan ‘n Turkse koffie. Çok güzel (baie lekker).

Tussendeur die maaltyd stroom plaaslike Turkeye verby (dalk op pad stasie toe?) en ek beloer die mense, maar veral die donker, smeulende mans. En nie kort voor lank nie, kom plak ‘n meneer hom by my tafel neer nadat ek vir hom (én almal anders) geglimlag het. O, wee! Ek is effe uit die veld geslaan as hy vra of hy my vriend kan wees en of ons elders kan gaan koffie drink. Ek sorg dat ligte gesels die bo-toon voer, maar meneer bly intens aandring dat ons êrens anders moet gaan kuier en suig met mening aan ‘n glasie Turkse tee, en dan weer aan sterk sigarette. Na ‘n wyle gaan vra ek hulp by die restaurant-personeel en meneer kry die boodskap. Ek slaak ‘n sluk van verligting dat die petalje verby is.

Ek mis Janine, my vroeë reisgenoot, opeens vreeslik. Sy het met haar terugkeer vanaf Italië ook in Turkeye oorgestop en haar belewing van die Turkse verblyf en openbare vervoer was glad nie rooskleurig nie. Vroue trek soms hier aan die kortste ent en op my eie sal ek beslis meer versigtig met mans moet omgaan.

Naby my hotel gewaar ek ‘n bakkery met Turkse fyngebak. Terstond koop ek nagereg: baklava, kataifi en ander stroperige soetgoed. Ek verslind die helfte van die kardoes se inhoud in my hotelkamer - seda (perfek). Die gunstige Turkse wisselkoers maak eetgoed baie meer bekostigbaar as in Parys. Ek slaap daardie nag ‘n hond uit ‘n bos uit.

Deel 19 Kaapstad

Die dag breek aan dat ek besef dat ons by omdraai verby is: Op 18 Julie 2008 verklaar ons huweliksberader dat daar geen hoop vir ons huwelik is nie. Dit is nou nádat ek by sielkundiges, ‘n psigiater, ‘n neuropsigiater, ‘n geestelike berader asook ‘n paartjie van die kerk, om hulp aangeklop het. Ook het ek die dienste van ‘n arbeidsterapeut vir ‘n week-lange evaluasie bekom en die kerk- en selgroepleiers het vir ‘n paar maande berading en leierskap verskaf. Nevermaaind al die gebede. Alles te vergeefs. Ons huweliksrolle het onherroeplik ná die beroerte verander; ons bly vasgevang in ons verwronge rolle – dié van versorger teenoor pasiënt. Voeg daarby die tameletjie van skoonfamilie, finansiële druk en emosionele aftakeling en jy het ‘n boksemdaais vol konsternasie. En wie het gesê dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel?

18 Julie 2008

Wat is die doel en lewensvisie van ‘n wurm?

Om eendag te verander in ‘n skoenlapper!

En dié van die lelike eendjie?

Dié groei en verander in ‘n pragtige swaan.

Wat word van die swart gebrande suikerbosse en fynbos?

Dit groei weer ná die Kaapse winterreëns.

Wat word van onderdrukte woede?

Dit manifesteer in psigosimptomatiese gedrag.

Wat gebeur met onvervulde drome?

Dit vergestalt in briewe, skilderye, gedigte, poësie, prosa, toneelstukke, begrafnisbriewe, laatnag gesprekke, sms’e, terapie-sessies, ensomeer.

En skuldgevoelens?

Dit sak af tot op die bodem van die koue see, en week in die sout en word sag en die visse en ander seediere knibbel daaraan totdat dit heeltemal verdwyn.

En wat word van trane wat teruggesluk word?

Dit styg op na die hemel toe en amalgameer en vermeerder saam met die wolke en word self ‘n groot wit wolk wat weer teruggestuur word na die aarde toe in tye van emosionele nood.

En die vrees vir die onbekende? Vrees vir die donker toekoms?

Nee, daarvoor is daar geen raad of antwoord nie. Die lewe self moet jy leef, selfs al vrees jy dit. 

Ek baklei om selfbehoud; dit voel asof 'n donker, swart moeras my stadig insuig en opslurp. Die swart modder versmoor my logiese denke, doof alle hoop uit, selfs vir myself. My sielkundige maan dat ek gaan ineenstort... Maar ek baklei ook teen skuldgevoel teenoor God se wet en wil, teen handdoek ingooi, erkenning dat my pogings om my huwelik te red gefaal het. Dit neem my amper 'n volle jaar om die huweliksraadgewer se prognose te verwerk en te verwoord en afstand te doen van die leë, hol dop van ons huwelik.

05 Mei 2009 More gaan my lewe onherroeplik verander. Ek gaan more vir my man sê dat ek van hom wil skei. Ek gaan my huis, my tuin, my katte en my man verloor. Ek gaan my opstaan en my neerlê en my kom en gaan verander. Ek gaan verander. Inisiëel gaan ek dalk deur hel gaan, maar ek gaan weer heel word, myself word, en lewe! Want ek het myself verloor, jare gelede, in ‘n donker kom van smart. My beker is leeg, my hart is swaar en as terugkyk, was my pad oneindig lank, swaarder en seerder as wat ek wou erken. Maar nou kyk ek vorentoe, na lig en lewe en hoop. Ek glo dat God na my sal kyk, maar vir eers moet ek breek deur die kors van nou, deur die gebrokenheid, die nyd en kwaad, die woede, die konstante verantwoordelikheid. Ek wag nou, op more...

Die dag van ons egskeiding stuur Janine vir my ‘n e-pos:

09 November 2009

Welkom

Hi vriendin,

Welkom in die nuwe fase van jou lewe!

Ek hoop dat die jare se ‘challenges’ wat jy soos ‘n ‘champion’ uitgeleef het, jou gereed gemaak het om die sukses voorspoed en geluk wat vir jou voorlê, te geniet.

Ek het vir jou ‘n geskenk inbetaal om by te dra tot die nuwe JY. Gaan doen jou hare en koop vir jou blomme. Jammer ek kan nie daar wees om saam met jou hierdie tye te deel nie.

Liefde,

Janine

Ek spandeer Janine se gawe geskenk op twee rondtes sjampanje vir my en ‘n handvol vriendinne by die Mount Nelson-hotel. Ten minste vier ek my mislukte huwelik in styl.