LEEF 100%

Leef 100% is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n hipnoterapeut en holistiese terapeut tot ’n SARIE-leser en skrywer van boeke oor selfkennis in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

'My pa het baie gedrink en my ma moes met min geld regkom. Eendag het sy ’n kredietkaart opgetel en kos en klere daarmee gekoop. Sy is gevang en tronk toe gestuur. Sy was swanger. Ek, my pa, sussie en boetie het by sy suster en haar man gaan woon. My oom het my pa baie verneder. En drie jaar lank het hy my en my jonger sussie verkrag. Ek was net 6, my sussie 5. Hy het later dieselfde aan my jongste sussie, wat in die tronk gebore is, gedoen. Ek is vandag gelukkig getroud met 2 seuntjies . . . en ’n drankprobleem. Ek wil hê my oom moet betaal. Sy perfekte familie, wat op my neerkyk omdat ek ’n drankprobleem het, moet weet watter soort mens hy is. Hý moet weet: Ons het nie vergeet nie.'

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

ANTWOORD

  • ’n Mens kan verstaan dat jy voel jou oom kan nie skotvry daarvan afkom nie. Moenie langer aan die mite van sy perfekte lewe glo nie. Iemand wat só iets aan ’n kind doen, is bitter ongelukkig. Ek dink ook nie die saak van jou ma en die kredietkaart is so eenvoudig nie. Daar moet ’n storie agter die storie wees, wat nooit vir jou vertel is nie.
  • Wat ook al, dis nie jou skuld dat dié goed met jou gebeur het nie. Maar wat jy met die pyn doen, is beslis jou verantwoordelikheid. Jy kan jou kinders die pyn van ’n ma met ’n drankprobleem spaar en ’n vry mens wees - ten spyte van die seer wat jou aangedoen is.
  • Of jy kan die pyn verdubbel deur ’n ongelukkige mens te wees en dit aan jou kinders oor te dra. Net jy kan besluit of jy die res van jou lewe met jou wond gaan identifiseer. En of jy gaan omdraai en daarvan wegkyk. Dit lyk of jy wil hê die wêreld moet weet dis jou oom se skuld dat jy ’n drankprobleem het. Dit gaan nie jou probleem of jou verantwoordelikheid verminder nie.
  • Gebruik eerder die energie om aan ’n gelukkige lewe te werk. Om ’n gelukkige en suksesvolle mens te wees is die beste “wraak” wat daar is.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

ANTWOORD

Niemand behalwe jyself kan regtig verstaan waardeur jy is nie. Jý moet besluit of jy jou oom en sy gesin gaan konfronteer. Ek is egter bekommerd dat jou aandag te veel afgetrek word van al die gevoelens waarmee jy elke dag saamleef: verwarring, angs, vrees, onsekerheid, vernedering, skuldgevoelens, skaamte, woede en veral magteloosheid. Wat word van die mishandelde meisietjie in jou as jy soveel aandag en energie op jou oom en sy gesin fokus en uitstort? En alkohol misbruik? As kind was jy ’n slagoffer. Maar moenie nóú een bly nie. Konsentreer op jouself en soek professionele hulp - ’n dokter of Alkoholiste Anoniem (AA) vir jou drankprobleem, ’n terapeut of berader vir die trauma in jou kinderjare. Moet ook nie tou opgooi nie.

Lees gereeld die woorde van dié liedjie deur Libby Roderick - vir jou binnekind (en sommer vir jou seuntjies ook!)

How could anyone ever tell you
You were anything less than beautiful
How could anyone ever tell you
You were less than whole
How could anyone ever fail to notice
That your loving is a miracle
How deeply you’re connected to my soul

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

ANTWOORD

  • Jy het geen veiligheid as kind geken nie, net storms en ontnugtering. En jou selfwaarde het baie skade gely. ’n Ligpunt is jou gelukkige huwelik en kinders.
  • Jy moet nie net jouself nie, maar ook jou gesin teen hernude trauma beskerm. As jy ’n stormagtige lewe gehad het, kan jy dalk onbewustelik en onopsetlik ook storms in jou huidige opset ontketen. Die ketting van verwonding loop waarskynlik deur jou voorgeslagte. Laat dit by jóú doodloop - en neem verantwoordelikheid vir jou helingsproses. Dis verstaanbaar dat jy met soveel woede vervul is, maar moenie in ’n moeras van woede of ’n maalkolk van wraak vasval nie: Dit gaan nie jou probleem oplos nie.
  • Só ook gaan ’n blote wilsbesluit om jou oom te vergewe, nie help nie. Positiewe denke alleen gaan jou nie van jou drankprobleem genees nie. Sluit by die AA aan. Alkohol is ’n formidabele vyand, wat jou siel (en dus jou vermoë tot heling, geluk en selfvervulling) kan insluk. ’n Mens kom nie sonder warm ondersteuning uit die greep van drank nie. Dan moet jy ’n terapeut besoek sodat jy in ’n veilige omgewing jou kwaad kan uitwoed om uiteindelik die pyn daaronder te kan voel en verduur. Soos ’n wond genees, kan jou psige ook heel word. Net jý kan egter dié proses aan die gang sit.


Marleen de Villiers

Holistiese terapeut en sielkundige van Johannesburg

ANTWOORD

  • Jy het op soveel vlakke seergekry en is duidelik diep gewond. Die feit dat jy gelukkig getroud is en 2 seuntjies het, kan help om balans in jou lewe te bring. Gee aandag aan jou drankprobleem. Daar is diepliggende redes daarvoor en niemand (ook nie jyself nie) kan jou veroordeel nie. Jy probeer dalk onder die newel van drank vir die pyn van die verlede wegkruip. Jy het waarskynlik reeds agtergekom dit help nie. En dat dit boonop ’n klomp ander probleme veroorsaak.
  • Seksuele molestering veroorsaak langdurige letsels en vra diepliggende genesing. Hoewel jou woede en bitterheid geldig is, kan die behoefte aan vergelding en wraak die genesingsproses vertraag. Bemagtig jouself deur op jou eie genesing en groei te fokus. Begin met ’n soort terapie waarmee jy gemaklik voel. Probeer ook meditasie, joga, visualisering en ander vorme van selfgenesing. ’n Doeltreffende manier van katarsis is om jou gevoelens in ’n dagboek neer te skryf. Moenie dat iemand dit lees nie, dis jou private eiendom. Moet ook nie te betrokke raak by jou familie se maniere om hul pyn te hanteer nie. Stel grense, maak tyd vir jouself en vermy wraak-gesprekke. Eer jou gevoelens, jou ervaringe en jouself.

Ons praat seks

VRAAG
Ek het iewers gelees oor ’n nuwe voorbehoedmiddel in die vorm van ’n plakker. Is dit so doeltreffend soos die Pil? Gebruik jy dieselfde een ’n week lank of moet jy dit daagliks omruil? Ek vergeet dikwels om die Pil te neem en sedert ek dit gebruik, het ek geen libido nie.

Dr. Elna McIntosh

seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

ANTWOORD

  • Die plakker (Evra) het in Amerika ’n hap uit die oralevoorbehoed-mark geneem. Die tydskrif Time het dit as een van die beste uitvindings van 2002 aangewys. Jy vervang dit net een keer per week, drie weke lank. Dan slaan jy die vierde week oor en menstrueer. Dit bevat hormone soortgelyk aan die Pil en is net so doeltreffend.
  • Die plakker word op die maag, boarm, bolyf of boud geplak. Dis dun en onsigbaar onder klere. Dit val ook nie sommer af nie - selfs as jy oefen of ’n stoombad neem. (As jy dit egter vir langer as 24 uur nie dra nie, kan jy swanger raak.)
  • Navorsing toon dat vroue tussen 15 en 24 jaar langer daarmee volhou as met die Pil. Vroue los dikwels die Pil weens vaginale bloeding (spotting), wat kan gebeur as jy een of twee Pille in ’n siklus oorslaan. Die doeltreffendheid van die plakker word nie beïnvloed as jy diarree het of sekere soorte antibiotika neem nie. Dit beïnvloed nie vrugbaarheid op lang termyn nie - as jy dit los, kan jy dadelik swanger raak. Vroue wat ’n probleem met estrogeen het, kan dit egter nie gebruik nie.
  • Dis minder doeltreffend as jy meer as 90 kg weeg. Dis op voorskrif by apteke beskikbaar en kos sowat R100 per maand. Wat die Pil betref: Met die nuwe laer hormoon-doserings is daar selde probleme met libido. Dit het wel met die ouer, hoër dosering van veral progesteroon voorgekom. Bespreek jou probleem met jou ginekoloog.