“Die wêreld bewonder Suid-Afrika veral oor drie dinge – ons vreedsame oorgang in 1994, die WVK en Nelson Mandela – hy is verreweg die mees bewonderde en hooggeagste staatsman ter wêreld en een van die belangrikste mense op aarde.”

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, aanhaling vertaal uit Mandela The Authorized Portrait

Nelson Mandela, gebore 1918, oorlede 2013. Dit was ‘n lang en roemryke lewe. ‘n Lewe wat mense wêreldwyd gefassineer het, geïnspireer het. Nelson Mandela was voorwaar ‘n uitsonderlike mens en sy erfenis sal mense vir altyd bly inspireer. Die lewenswyshede wat in sy woorde is, sal altyd daar wees vir ons om te lees. Hier is maar enkele van die boeke wat oor Madiba geskryf is.

Mandela The Authorized Portrait, Mike Nicol en ander (Wild Dog Press)

Oud-pres. Bill Clinton sê in hierdie boek: “What makes Mandela so special is that he’s a real human being. He laughs, he cries, he gets mad, he fell in love with Graça Machel. He’s got a real life.”

Wanneer jy deur die boek blaai, besef jy hoe waar dié woorde is. Hier lees jy oor iemand wie se lewe soveel ander mense geraak het. En juis daaruit kom die inspirasie wat jou sal bybly. Daar is ’n hele paar nuwe onderhoude ingesluit in hierdie nuwe weergawe. Heelparty foto’s uit Mandela se lewe as jong man in Johannesburg, Londen, Ethiopië en Marokko, en dit wat in die laaste dekade in sy lewe gebeur het, is ook bygewerk.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Nelson Mandela, Conversations with myself, voorwoord deur president Barack Obama (Macmillan)

Nelson Mandela is ‘n wêreld-ikoon en beslis een van die mense oor wie ongelooflik baie geskryf word. Hierdie besondere boek is saamgestel uit sy persoonlike argiewe wat bestaan uit persoonlike briewe, gesprekke op band met vriende, onderhoude met die skrywer van sy outobiografie, aantekeninge in notaboekies en selfs doodles. Mens kry ‘n baie meer persoonlike blik op wie Nelson Mandela nou eintlik is, omdat daar meer van sy persoonlikheid deurskemer. Dit gee ‘n ander beeld van hom as dié van gevangene, politikus en staatsman. Sy slotwoorde in die boek handel juis oor hoe die wêreld hom beskou: “One issue that deeply worried me in prison was the false image that I unwittingly projected to the outside world; of being regarded as a saint. I never was one, even on the basis of an earthly definition of a saint as a sinner who keeps on trying.” Maar dat hy ‘n inspirerende en indrukwekkende mens is, is beslis!

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

The Madiba Mindset, Tyrrel Fairhead (Jacana)

Die doel van hierdie boek is om mense aan te moedig en te help om Mandela se voorbeeld te volg. Dis ’n praktiese werkboek wat geskoei is op die strategieë en lesse wat Mandela en sy medegevangenes beoefen en geleer het om hulle voor te berei op hul lewe as vrye landsburgers. Van die lesse is: Om altyd na die goed in ander en situasies te soek; om altyd aan te hou leer; om te weet wanneer om te kies, te baklei, te vlug of te onderhandel.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Hart van Nelson Mandela – Die epiese verhaal, Kobie Korf(Kobie Korf)

Bestel by www.graffitiboeke.co.za

Korf het die boek geskryf as ’n verjaardaggeskenk aan Nelson Mandela. Sy sê dit “vertel die ongelooflike verloop vanaf sy beeswagterdae op Qunu [in die Oos-Kaap] tot en met die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2011. Al is daar baie boeke oor die kliniese feite van sy lewe, is dit die emosie en hart van sy lewe en lyding wat hier vasgevang word.” Die boek sluit ’n CD in met onder meer ’n deel uit Madiba se inhuldigingstoespraak en ’n mannekoor wat die volkslied sing.

The Rough Guide To Nelson MandelaThe Rough Guide to Nelson Mandela,Max du Preez(Rough Guides Ltd)

Die politieke kommentator Max du Preez gee in hierdie gids ’n bondige oorsig van die lewe van Nelson Mandela, die impak daarvan en sy nalatenskap vir die mensdom. Danksy die ontspanne skryfstyl voel jy nie toegegooi onder feite nie. Bykomende inligting oor byvoorbeeld die Madiba-hemp, die Grondwet en die Nobel-vredesprys gee waardevolle agtergrond en kleur aan dié groot staatsman se geskiedenis.

Nelson Mandela by HimselfNelson Mandela By Himself (Macmillan)

Die boek bevat meer as 2 000 aanhalings deur Madiba oor ’n tydperk van 60 jaar. Dis ingedeel in afdelings soos courage, character, democracy en reconciliation vir maklike naslaan. Vir inspirasie: “There are few misfortunes in this world that you can not turn into a personal triumph if you have the iron will and the necessary skill.”

The Children's MandelaThe Children’s Mandela, Tyne Doyle (Future Design)

Het jy al ooit ’n bekende persoon deur ’n kind se oë probeer bekyk? Dis presies wat dié interessante boek doen. Tyne Doyle het tussen 1994 en 2004 kinders oor die ganse Suid-Afrika gevra hoe hulle Nelson Mandela sien en wat hy doen, wat hy aantrek, wat hom kwaad maak en nog ’n klomp ander vrae. Sy het ongeveer 40 000 antwoorde en prentjies gekry waaruit sy die interessantste, wysste en onskuldigste antwoorde en prentjies gekies het vir dié huldeblyk aan Madiba.

Craig (11) sê: “He was a little boy with a big mind”, terwyl Nicola dink

“... he gets his clothes from the Rainbow Factory because they are so

colourful and he believes in the Rainbow Nation.” Michael (9) sê: “I think

he says his prayers before he goes to bed because he needs to pray for

the next day not to go out of control.” Só is daar juweeltjie ná juweeltjie uit die mond van suigelinge! Die prentjies sal jou ook ure amuseer. Dis waarlik ’n inspirerende boek.