Jy het my lewe kom omvergooi, maar net vir die beste. Jy het my hart en oë oopgemaak vir die wonder van die lewe self. Jy was so haastig en nuuskierig dat jy reeds op 30 weke jou opwagting gemaak het en ons groot laat skrik het. Van jou eerste asemteug was jy ’n vegtertjie. Jy kon skaars op jou twee beentjies staan toe storm jy al die branders in, en klim bo-oor banke en stoele sodat ouma Wilhelmina se hart wil gaan staan.

Mamma hoop dat jy altyd so onverskrokke deur die lewe sal gaan net omdat ’n mens nie iets ken nie, beteken nie jy moet bang wees daarvoor nie. Mag jy daardie spontane gawe van jou vir altyd saamdra en met almal deel. Die wêreld kan doen met ’n paar energieke “kansvattertjies”.

Mag jy altyd so kinderlik eerlik bly. Iewers verloor ’n mens dit en konformeer tot sosiaal aanvaarbare konvensies. Sjoe, my liefiekind, jy sal eers baie groter moet wees om hierdie sin te verstaan, en dan hoop Mamma jy onthou dat jy nie altyd in ’n boksie hoef in te pas nie. Let wel, dis nie ’n verskoning vir slegte maniere nie.

Mag jy altyd tyd maak vir die klein goedjies in die lewe. Die groot goed wat ’n mens najaag, bring nie geluk nie. Dis die klein, rêrige oomblikke en mense wat jou bybly. Hierdie sal jy seker eers verstaan as jy moeg gejaag is na die groot goed, maar dis nooit te laat om terug te stap op jou treetjies en te kyk wat jy langs die pad laat val het nie. Onthou, my Kiewiet, ons almal maak foute en dis oukei. Solank jy heel anderkant uitkom en daarop kan voortbou.

En soos my mamma vir my geleer het, daar is nie iets soos “kannie” nie. Jy kan alles! Dalk nie die eerste keer nie. Dalk nie die tweede keer nie, maar aanhouer wen. Jy kan nooit te groot droom nie. Bou jou lugkastele, my kind, en dan gaan fight jy vir hulle.

Luca, wat so gepas beteken “kind van die lig”, mag die son altyd op jou skyn en mag jy vir almal lig bring waar jy gaan.

Liefde,

Mamma