Weeksaand, baie laat, nog hope werk, wil net vinnig loer na CNN om te kyk wat gebeur op die raserige planeet. 'n Dame met 'n string pêrels vertel van die lollery in die Midde-Ooste, 'n span navorsers het ontdek water maak vet en in die Oosblok word jou kop geskeer as jy jou treinkaartjie verloor.

Ek kyk af. Voor my staan 'n halwe glas wyn. Ek neem 'n sluk. Ja, ek het dit al voorheen geproe. Hoe het dit hier beland? Ek loop na die yskas, in die deur staan 'n
bottel, een glas is reeds geskink. Ek besef onmiddellik hier's 'n probleem. Dis wel waar dat wanneer ek die slag ontspan, al is dit net vir 'n uur, ek graag op hierdie stoel by hierdie tafel sit, 'n kers aansteek en 'n glas wyn skink. Hoe lank doen ek dit al? Is dit al só 'n gewoonte dat ek nie meer besef ek skink wyn wanneer ek na daai stoel kyk nie?

'n Spook kielie my arm, ek raak yskoud. Ek het 'n drankprobleem. Waar sal ek die onthulling doen? Sondagkoerant of televisie? Of is daar nog gewoontes? Dankie, dankie, daar is. Met verligting én skok onthou ek die ding met die koekies. Elke keer as gaste of kollegas vertrek en ek pak die orige koekies weg, eet
ek nog twee. Altyd. Dis hoekom ek al meer in tydskrifte verskyn het oor my gewig as oor my werk.

Daar is nog. Om een of ander rede kan ek nooit vir iemand net een geskenk gee nie, altyd drie. Dis 'n hopie, dit vertel 'n storie, dit maak iemand bly, een geskenk is 'n ellende. Waar het dit begin? My rekenmeester sê as ek hierdie belaglikheid nie afleer nie, sal ek eers op 150 kan aftree.

En nog. Twintig jaar gelede was ek by 'n ete in 'n ronde restaurant. Ek het die hele aand gevoel soos 'n goudvis in 'n bak. Tot vandag eet ek net in 'n plek met
hoeke.

Daar's die pratery. Ek kan nie ophou nie. Bel my om te vra hoe laat is die afspraak, en ek sal jou vertel van my skooldae, die nuutste vertoning, wat ek vanoggend gehad het vir ontbyt en hoe swak mense bestuur. Daar is ook die gewoonte om geen winkelsentrum OOIT sonder 'n arm vol pakkies te verlaat nie. Al is ek laat, finansieel gebroke of net op soek na groen glitter vir 'n peetkind se konsert, op 'n manier sal daar 'n stel borde, 'n paar boeke en 'n ingevoerde koek in my sak beland, my motor ry nie op 'n leë kattebak nie.

Feitlik alle ellende, hartseer of eensaamheid in my lewe word veroorsaak deur my eie gewoontes, rotsvaste, onbreekbare roetines en maniertjies wat van iewers af
verskyn het om nooit weer te wyk nie.

Maar ek is nie al een nie. Ek ken mense wat elke twee minute - al sit hulle in 'n vergadering of by 'n begrafnis - kyk of daar nie 'n boodskap op die selfoon is nie. Elke twee minute! Daar is mense wat net kan praat sodra hulle kos in die mond het, grootmense, mense met wysheid en opvoeding. Daar is mense wat klagtes, arrestasie en irritasie sal ignoreer ter wille van 'n sigaret, 'n hand met net vyf vingers is 'n gebrek. Daar is nog duisende dinge, klein goedjies wat lewens
verwoes, dinge waarsonder duisendes nie kan nie, onbewustelik of doelbewus. Hulle spoeg, hoes, snuif, steel, skinder, stink, loer af, verneuk, is laat, bly jaloers,
herhaal stories en vreet, vreet, vreet.

Net 'n paar, diegene van staal, ontsnap. Knak 'n gewoonte en ontdek 'n nuwe lewe. Mense van staal kan ophou rook, drink, eet, vloek, rondlê of twyfel. Hulle kan hul goed pak en na 'n beter plek vertrek. Hulle kan die droomgewig bereik sonder moord. Hulle glo onwrikbaar. Hulle kan 'n besluit neem en daarby hou. Hulle doen meer en babbel minder. Wens ek was een.