Party vroue sal wel sê g’n man is dit werd dat jy jou skoene - oud of nie - agter hom aangooi nie. Dis sulke vroue wat dan jou houtwerkprojek, wat jy in matriek gemaak het, sal stukkend trap. Flenters en aspris, dan maak sy of sy daaroor geval het.

“Sien jy nou? Ek’t gesê iemand gaan nog hieroor val, ek gooi jou sommer met die ding!”

Dit kan jy ook weet: Dat hulle al hul arms oorgehaal het om te gooi, maar dan bedink hulle hulself op die nippertjie - uit jammerte vir die ding waarmee hulle wou gooi, sê maar ’n Swarovski-kristalglas. (Net nie haar enigste paar Manolo Blahnik-sandale nie.)

Want dis die ding van vroue wat mans met goed gooi: Hulle gooi met die ding waarmee hulle op daardie oomblik in die hand staan, hetsy ’n aartappelskiller of ’n haardroër. Dis wat dit so gevaarlik maak vir ’n man.

Gelukkig het sy die haardroër sommer in ’n rigting gegooi sonder om te mik, maar toe die elektriese koord styfpluk en die haardroër kom terug soos ’n blasende boemerang, toe tref dit die bedlampie. (Die haardroër het nie gebreek nie, die bedlampie wel. Boardmans, R399.)

Of sy gryp die naaste huishoudelike artikel waarop sy haar hande kan lê. Gelukkig is ’n mikrogolfoond nogal swaar om op te tel, maar verbeel jou die opskrif: Man gegooi met sy eie aktetas (dat jou toebroodjies binne-in skoon van mekaar af skuif).

Sy het jou ook al met ’n selfoon gegooi. Jóú selfoon. Én met die sak van jou skootrekenaar - met die skootrekenaar binne-in. (Kon sy nie vóél die sak is nie leeg nie? Partykeer ken ’n vrou nie haar eie krag nie.)

Eendag was sy besig om wors te braai in die pan, toe gooi sy jou met die wors, nie die pan nie. En die wors was nie eens heeltemal gaar nie.

“Sit liewer neer daardie vleismes,” sê jy van agter die broodplank. “Jy werk nie in die sirkus nie.” Kyk uit vir ’n nat lap deur die lug as jy dalk met vuil voete oor ’n skoongewaste kombuisvloer loop ... Of sy gooi jou met ’n bondel klere wat jy op die vloer laat lê het, of met ’n tandeborsel.

“Moenie dink ’n tandeborsel is so onskadelik nie,” kla jy. “Jy kon my oog uitgegooi het.”

“Kry jouself jammer,” sê sy.

Die redes waarom ’n vrou ’n man met enigiets - tot ’n tandeborsel - sal wil gooi? Sleg geslaap? Stres? Hoofpyn? PMS? Die goudprys? Jy kan seker wees dit sal iets wees wat jy gedoen of gesê het, of nie gedoen of gesê het nie. Dalk weggeloop van ’n argument toe sy nog iets wou sê? (Loer omkyk-omkyk terwyl jy wegloop, Meneer, want jy weet nooit.) Of net om jou tot lewe te wek voor die TV? (As jy per ongeluk aan die slaap geraak het, gaan jy nie daardie skoen of remout sien kom nie.)

Eintlik, sal sy vir jou sê, het ’n vrou nie rede nodig om ’n man met iets te gooi nie. Sy gooi hom met iets omdat sy weet hy gáán nog iets doen.

“Waarvoor was DIT?” sal jy vra. “Net vir ingeval,” sal sy sê. “Hoekom sit ons in die donker?”

“Jy’t vanoggend die bedlampie met die haardroër gebreek, onthou?”

“Sit die een aan jou kant van die bed aan.”

“Ek’s nie lus nie.” Jy voeg nog ewe by: “Laat daar maar duisternis wees,” toe gooi sy jou met die kussing van die bed af ...

PS: Dit kos jou die lig aansit én vir haar ’n crème caramel uit die yskas gaan haal voor jy weer jou kant van die bed kan terugkry.