Het dit al met jou gebeur dat iemand jou vra waarom jy iets doen? Jy weet nie regtig nie, dan antwoord jy: “Sommer net.” Jy hoef nie ‘n rede te gee nie. Jy doen wat jy doen, sommer net. Nou ja, hierdie week is vir my so 'n week. As julle wil weet waarom ek nou juis hierdie boeke vir julle gekies het, dan is my antwoord: "Sommer net!"

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Defining Moments: An Autobiography of Marius Barnard, saam met Simon Norval (Zebra Press, R250)

Marius Barnard is plaaslik moontlik meer bekend as die broer en kollega van die hartchirurg dr. Chris Barnard as vir sy persoonlike mediese toewyding wat hom onder meer ‘n lid gemaak het van die pioniersgroep wat die wêreld se eerste hartoorplanting gedoen het.

Dié outobiografie bied ‘n eerlike, eerstehandse vertelling van die uitdagings en verstommende oorwinnings van Marius Barnard. As sendeling-kind het hy lewens oor die wêreld heen verander met die instelling van versekering teen gevaarlike siektes, met sy verbetering van gesondheidstandaarde vir torakschirurge in Rusland en sy anti-apartheidswerk in Suid-Afrika.

Sy gehardheid skryf hy toe aan die Karoo en sy grootwordjare, wat hom in staat gestel het om ten spyte van ‘n jare lange stryd teen kanker net een oorsese besoek in twintig jaar uit te stel.

‘n Fassinerende vertelling deur ‘n merkwaardige, begaafde mens. - Mariette Postma

Herinneringe aan Parys

Herinneringe aan Parys, André P. Brink(Human & Rousseau, R185)


Hierdie heerlike boek bestaan uit ’n keur van 28 stukke uit Brink se Potpourri (1962) en ParysParys: Retoer (1969). Vir Brink is Parys “die stad wat ek bo alle ander liefhet”. In die jare sestig het hy daar gewoon en met sy fyn waarnemingsin oor sy wedervaringe geskryf. Daar het hy met ander skrywers, filosowe en kunstenaars gemeng en Suid-Afrika se stormagtige politiek vanuit Frankryk beskou en beleef.

“Die dag van die pampoen” is met humor geskryf. Die tristesse (droefheid) van verganklikheid word pragtig in “En die blare val” beskryf. Hy dek die vriendskappe, liefdes en eensaamheid van ’n wye spektrum inwoners – van die boemelaars tot die teisterende amptenare vir wie ’n reël ’n reël bly. Elke verhaal is meesterlik geskryf, met deernis, spot of erns. - Malene Breytenbach

Cocktail hour under the tree of forgetfulness

Cocktail Hour Under the Tree of Forgetfulness, Alexandra Fuller (Simon & Schuster, R195)


Fuller skryf boeke oor haar en haar familie se lewens en dis altyd biografies van aard. In hierdie boek speel haar ma, Nicola, die sleutelrol. Nicola het in die jare vyftig in Kenia grootgeword. As 18-jarige is sy Engeland toe om as sekretaresse opgelei te word. Met haar terugkeer na Kenia ontmoet sy Tim Fuller met wie sy later trou. Die verhaal volg hul ervaringe in onder meer Kenia, Zimbabwe, Malawi en Zambië. Op hul oudag woon hulle in Zambië in die Zambezivallei, waar hulle boer met piesangs en die vissoort tilapia (Nicola is wêreldwyd bekend hiervoor).

Dis ‘n emosiebelaaide boek, maar tog vol humor. Byvoorbeeld: Nicola verwys na Alexandra se vorige boek (Don’t Let’s Go to the Dogs Tonight) waarin sy skryf oor haar eie kinderjare gedurende die 1970’s in Zimbabwe as “that awful book”. Sy sê telkens "don’t tell her that or she’ll put it in another awful book". As jy hou van biografieë, sal jy Fuller se boeke oor haar familie se doen en late geniet. – Karien Labuschagne

Newton and the counterfeiter

Newton and the Counterfeiter, Thomas Levenson (Faber & Faber, R147,95)

As jy, soos ek, aan vallende appels en die Principia dink wanneer daar oor Newton gepraat word, sal hierdie boek vir jou ‘n verstommende nuwe wêreld oopmaak.
Die verhaal fokus op Newton as die Bewaarder van die Munt (Keeper of the Mint), en later die Meester van die Munt (Master of the Mint). Dit was Newton se verantwoordelikheid om muntvervalsers vas te trek. Hier word jy dan aan Chaloner, meestervervalser van sy tyd, voorgestel.

Vinnig word jy ingetrek in die finansiële, politieke en strafregstelsel van die laat 17de eeu in Engeland. Die straf vir vervalsing was die dood en Newton het ‘n leër van ondergrondse agente gehad om die misdadigers vas te trek.
Daar is deesdae ‘n vinnig groeiende tendens om geskiedenis "op te maak", maar hierdie knap boek is nie een van hulle nie. Hoewel die verhaal soos suiwer fiksie lees, is dit die ware verhaal van Newton as baasspeurder. – Pieter Hugo

The Winter Palace

The Winter Palace, Eva Stachniak (Doubleday, R195)

Ek het hierdie boek in een dag verslind. Stachniak blaas lewe in geskiedenis op 'n manier dat jy nie anders kan as om aan te hou lees en lees nie. Dis die verhaal van hoe Katharine die Grote genadeloos verrys om Rusland te regeer, alles gesien deur die oë van ‘n Poolse weeskind, Varvara wat diens moet doen aan die hof van keiserin Elizabeth in St. Petersburg. Sy vertel van die geknoei en oor-en-weer-spioenasie deur al wat leef en beef aan die hof. Natuurlik is sy midde in die aksie en sy leer vinnig wat en hoe sy dinge aan haar meesters moet oordra. Sy moet die jong Pruisiese prinses Sophie,  ‘n moontlike bruid vir die keiserin se erfgenaam, se vertroue wen en oor haar rapporteer aan die keiserin. Varvara raak egter bevriend met Sophie en word haar vertroueling. Sophie word uiteindelik Katharine die Grote. Varvara moet heeltyd in haar spoor trap om nie uitgevang te word as ‘n spioen nie. Boeiende leesgenot. - Phyllis Green

Your voice in my head

Your Voice in My Head, Emma Forrest (Bloomsbury, R225)


’n Jong vrou se verhaal van afwyking, selfbesering, bulimie, verwoestende verhoudings en selfmoordpogings. As tiener het sy obsessief na Millais se skildery van die verdrinkende Ophelia gaan kyk en haar daarmee vereenselwig. Beskrywings van haar pyn en insinkings word met amusante beskrywings, veral van haar eksentrieke ouers, afgewissel.

Sy gaan vir terapie na die wyse, simpatieke Dr R, wat ongelukkig sterf. Sy sukkel om dié verlies te verwerk. As talentvolle roman- en draaiboekskrywer beweeg sy in filmsterkringe. ’n Verhouding met ’n minnaar wat sy GH (Gypsey Husband) noem (wat blykbaar Colin Farrell is), stoot haar byna oor die afgrond, nadat hy haar vernederend en genadeloos verwerp het. Beskadig in liggaam en gees, vind sy tog ná baie wroeging en worsteling weer heling. Malene Breytenbach

West of the moon

West of the Moon, Ron Selley
(30° South Publishers, R250)

Hierdie outobiografie bestaan uit twee afdelings, goed voorsien van swart-wit foto’s: in die eerste deel wei Selley uit oor sy idilliese kinderjare in die noordelike streke van die destydse Zululand, en in die tweede beskryf hy sy jare as wildbewaarder in die voormalige Rhodesië (nou Zimbabwe).

In lewende lywe is die bejaarde outeur waarskynlik ’n veel interessanter gespreksgenoot as wat blyk uit die materiaal wat in hierdie boek opgeneem is, maar ongelukkig is nie alle storievertellers ook goeie skrywers nie. Wat gelyk het na onderhoudende leesstof, verander spoedig in ’n blote lewensverslag. Klaarblyklik was die man se lewe tot dusver vol en opwindend, tog raak sy ongeërgde verteltrant, neerbuigende aanslag en didaktiese neiging naderhand erg hinderlik.

Lesers wat in die koloniale geskiedenis van Suider-Afrika belangstel, sal dié publikasie gewis na waarde skat. – Emsie Viljoen