As sy nie van die voorgestelde verblyf- en broeiplek hou nie, pluk sy dit verwoed uitmekaar en die mannetjie moet oorbou.

’n Week tevore het ’n sjarmante vinkmannetjie in ons voortuin ’n lieflike nes aan ’n hangende berkeboomtak gebou. Die latwerk was reg, die weefpatroon volgens my benepe menslike oordeel netjies, die plek met insig gekies - nie te veel skaduwee nie en nie te veel son nie - in ’n groen hoek waar die boslelies floreer. Toe het die mannetjie die wyfie gaan haal vir haar goedkeuring.

Sy het eenkant in die geelhoutboom gesit en gekyk hoe hy met sy borriegeel broeipak aan, met sy swart gesig en borslap aan die nes hang en sy vlerke klap en kaperjolle uithaal om die glorie van sy handewerk en homself ten toon te stel.

Hulle het hulle nie aan my gesteur wat die hele spulletjie stil staan en betrag het nie. Toe het die wyfie nader gevlieg, by die nes ingekruip, ’n tydjie gebly, en toe weer uitgevlieg met die mannetjie agterna. Die nes het ongeskonde gebly en ek het gedink die koop is deur. Sy sou dit verder kom uitveer en gemaklik maak.

Teen die middag het ek uit die garage gekom en teleurgesteld gesien hoedat die mannetjie, met sy vere effe ver pluk, die nes in stukke afbreek totdat die grasperk met stukkies blaar en takkies bestrooi was. Daarna is hy vort, seker om op ’n ander plek van voor af te bou of dalk ook ander wyfi es te soek, soos dit ’n vink se aard is. Buitendien lê die hele somer nog voor om in sy ghrênd vere te kan paradeer voor hy letterlik vervaal vir die winter.

In die Kersgety dink ’n mens aan die merkwaardige Josef en Maria wat nes gemaak het in ’n oorvol somerse Betlehem in ’n stal. Dit was geen romantiese tragedie nie, want die stalle is meesal netjies skoongemaak en verhuur as oornagplekke terwyl die diere buite in die oop veld was. Hoe lank Maria-hulle daar gebly het met Jesus, is onseker. Toe is hulle vort, ná ’n wraaksugtige koning voor die voet kinders begin doodmaak het.

Maar ’n mens wonder of Jesus ooit ’n eie huis gehad het saam met Maria, sy ma, en hoe dit gelyk het. Waar het Hy gebly toe Hy timmerman in Kapernaum was? Hoe het “sy plek” gelyk? Hy het immers ook na die voëls gekyk en gesê hulle het neste, maar Hy het “geen plek om sy kop neer te lê nie”. Dit verwys na sy lang tye te voet deur die land, onder die oop hemel. En vreemd, in Nasaret waar Hy opgegroei het, wou hulle niks van Hom weet nie. Seker omdat Hy te volmaak was?

Daar is ’n ou legende dat Maria elke Kerstyd oor die aarde swerf om haar Seun in elke mensehart te soek. Want dis waar die Gees van Christus woon. Hoe ook al, wat gaan alles in die nuwe jaar in ons tuin of huis of hart kom nesmaak? Sal daar weer vinke na my tuin kom, selfs net vir ’n kort rukkie? Sal die houtkappers weer kom, en die vleiloeries? Gaan iemand die nes verlaat? Of gaan onwelkome peste kom nesplek soek, soos die bose geeste, waarvan Jesus in die gelykenis waarsku?

Ons weet nie, alles is moontlik. “Kyk na die wilde voëls ...” het Jesus gesê, “julle hemelse Vader sorg vir hulle.” (Matt. 6: 26) - selfs al verwerp die wyfie die nes en die mannetjie moet dit maar weer afbreek!

Ek is jammer dat die vinke nie by my plek wou kom intrek nie. Tog sou dit hoogstens ’n heerlike interessantheid gewees het. Maar my gebed vir ons almal in die nuwe jaar is dat Christus by ons sal woon, dat ons sy Teenwoordigheid sal aanvoel, dat Hy met ons sal reis waar ons ook al gaan, dat Hy nie ons gas sal wees nie maar ons gasheer. Dat Hy ons woning sal heilig en ons harte sal heelmaak.