Sagte hare oor haar wang, soet asemhaling op die kussing, ’n warm blos op haar vel, die swanemeer van haar slanke nek en sleutelbeen. Haar wimpers lê stil op haar oë. (Dis in dié toestand van slapende stilstand dat sy oor niks kla, niks vra én niks kan koop nie.) Pragtig! Soos maneskyn diep waterkuile raak om daar te droom in silwer skemering, begin jy dig.

Behalwe: Die maan is oor en verby, dis oggend en sy moet opstaan. Jy streel die hare van haar wang af.

“Hû-û,” sê sy. “Hû-û.”

Jy help haar in ’n sittende posisie op die kant van die bed.

“Hû?”

Sy val na links om. Haar balans is daarmee heen, haar sintuie het haar verlaat. Jy keer dat sy nie na regs terugval nie, want as sy haar kussing in die hande kry, moet jy haar van vooraf regop help. (“Waals my klussing?”)

Haar tong is nog loom. Jy probeer haar op haar voete kry, maar sy gly tussen jou arms deur en beland weer in die sittende posisie op die kant van die bed.

“Mowhe, ywhief,” sê sy. Jy ken al die taal van haar ontwaking. Sy sê eintlik: “Môre, my lief.”

In sulke omstandighede het jy al vir haar ontbyt in die bed gebring, laas in 1993. Nie meer nie, want IEMAND stamp altyd die tamatiesousbottel van die skinkbord af en dan moet sy die duvet was.

“Hoe whlaat is whit?” vra sy met haar mond in jou skouer.

Opstaantyd.

“Wattel dag is dilt?” Sy maak haar oë oop.

Sit solank, sê jy, ek trek die gordyne oop, dit sal help. Moenie omval nie.

“Maak toe! Maak toe! Die lig is te skerp.” Sy knyp weer haar oë dig en duik reguit agteroor.

Nou moet jy haar kop eerste onder die duvet uitkry. Sy kan darem al sit sonder om om te val. Sit net so, sê jy, ek gaan maak koffie. Luister na die voëltjies daarbuite.

“Dis nie voëltjies nie, dis ’n simpel hadida,” sê sy. “My ore!”

Toe jy terugkom, is die hadida se verbyvlug verby nes die maan en sy’t haar kussing in die hande gekry. Julle begin van vooraf.

Eers sit. Kop op. Skuif vorentoe.

Dan’t jy haar regop, maar jy weet jy kan nie nou los nie. Dis soos om ’n voëlverskrikker regop te hou, dink jy, maar jy sal dit nooit hardop sê nie, netnou klink dit nie reg nie. Haar knieë knik. Jy sou hoop dis jy wat haar knieë so lam maak, maar daarvoor is dit nog te vroeg in die dag.

Jul slaappatrone verskil effens.

Sy wil die venster toe hê vir warmte, jy wil die venster oop hê vir vars lug. Sy wil die kamer skemer hê, jy wil die kamer stikdonker hê. Sy kry gou koud, jy kry gou warm. Sy slaap met haar bene opgetrek, jy slaap met jou een been bo-oor haar een been.

“En jy omsingel my met jou arms,” verweer jy. “Ek versmoor omtrent in jóú kussing.”

“Jy stamp my met jou elmboog in my sy,” sê sy.

En daardie klassieke een, die een oor grense van alle ouderdomme en neusvleuels heen: “IEMAND snork!” (Jy sê dis nie jy nie en draai op jou sy. Gee terug die duvet, sê sy.)

Só slaap julle as ’t ware by mekaar verby. Skepe in die nag.

Aha! Sy begin die koffie ruik. Jy laat versigtig los, maar hou jou arms byderhand vir ingeval. Sy staan en wieg effens vorentoe, agtertoe, versit haar voete en toe ... staan sy ... sowaar op eie bene.

“Ek’s net nie ’n oggendmens nie. Jy weet ek het meer slaap nodig as jy,” sê sy. Jy weet sy’s wakker as sy twee behoorlike volsinne ná mekaar kan sê. En dis in daardie wakker oomblikke dat julle mekaar weer vind.

“Ek’s nou wakker!” sê sy. “Kom ons klim terug in die bed ...”

Dankie tog vir daardie wakker oomblikke. Jy voel kompleet nes ’n Kellogg’s-graanvlokkie.