Dit is enige ster en model se droom om op die voorblad van Vogue te pryk, maar Beyoncé het net weer bewys – in 2013 word haar drome waar. Dié uitgawe van Vogue (foto bo) is nog nie op die Amerikaanse rakke nie, maar die voorblad het vroegtydig via Twitter gelek.

Op die voorblad staan “Beyoncé regeer die wêreld” – en vir hierdie tyd in haar loopbaan is dié stelling redelik akkuraat. Sy het die Amerikaanse volkslied gesing tydens Barack Obama se inhuldiging (alhoewel sy opslae gemaak het omdat sy nie werklik gesing het nie) én sy is gekies vir die rustyd-vertoning van een van die grootste sportgeleenthede in Amerika, die Super Bowl. Hierdie vertoning is deur 104 miljoen mense gekyk. Hierna het haar album-verkope op die internet met meer as 230% gestyg, berig MTV.

Beyoncé het ook ’n dokumentêr oor haar lewe geskryf en vervaardig. Life is But a Dream is teen 16 Februarie op Amerikaanse televisie te sien. Dit beloof om die mense agter die ikoon te wys en sluit beeldmateriaal van haar kinderdae in. Sy praat ook oor haar rol as besigheidsvrou en ma vir Blue Ivy Carter (Beyoncé en Jay-Z se dogtertjie).

Maar Beyoncé is nog nie klaar nie. Sy het oor die naweek die Grammy gewen vir Beste Tradisionele R&B Vertoning en haar vyfde album word in April vanjaar verwag. Sy verleen ook haar stem aan die nuwe tekenprent Epic wat in Mei vanjaar vrygestel word.

Boonop begin haar wêreldtoer, The Mrs Carter Show, op 15 April in Europa en eindig eers in Augustus in Noord-Amerika. Ongelukkig vir Beyoncé-aanhangers tree sy nie in Suid-Afrika op nie.

Kyk hieronder na die lokprent van Life is But a Dream: