Ingrid Jonker sou vandag 83 jaar oud gewees het.


Hier volg ’n uittreksel uit een van André P. Brink se briewe aan Ingrid soos saamgevat in Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink en Ingrid Joker. 

Vlam in die sneeu

My liefling, my Kokon,

Ek moes al geskryf het, en ek wou en tog was alles nog eintlik onsegbaar, te´ tenger om met woorde aan te raak. Veral omdat die terugkom hier so ’n terugtuimel was in banale realiteite van eksamenskrifte nasien, opgehoopte werk organiseer en – swaar – leer aanpas by ’n lewe-sonder- kommunikasie.

Liefling, van ons laaste, amper surrealistiese, nag is alles eintlik ’n eienaardige, ongeloofbare en vaag skrikwekkende dwarreling. Was dit ons wat daarin betrokke was? Het ons dit gese^? Waar – en hoekom het alles dan skielik op ons afgekom?

En tog as ek die week in ’n geheel sien, dan bly dit een van openbaring; dan het

ons deur en ten spyte van al die opwellings op ’n dieper manier by mekaar uitgekom

as ooit tevore. En ek voel nou meer verbonde aan jou e´n hartgrondiger lie´f vir jou as wat ooit moontlik gelyk het. “What a piece of work is a man ...”

By alles onthou ek Gordonsbaai, ons kristalbal van wonder en geluk en vervulling. Want di´t was soos ons vooraf geglo het, die heel suiwerste wat ons ooit saam was.

En die ander dinge, liefling, waaroor ek nog skaars kan praat, dalk was ook di´t noodsaaklik, op ’n irrasionele, wrede manier, omdat dit ons in ons verlorenheid en dringendheid voor mekaar gestel het. Oor die onvergeefbare seer wat ek jou aangedoen het, kan ek niks se^ en niks vra wat toereikend is nie. Net dat dit vir my ’n akute gewete sal bly, a´ltyd. Omdat ek jou liefhet en in nood verknog is aan jou en nie kan verduur dat jy moet verwond word nie.

Die rit terug was ’n nagmerrie van skuld en verlange en hunkering. En ek was moeg – is nou nog. En toe raak ek buite Knysna in ’n ongeluk ook nog betrokke.

Ek het elfuur tuisgekom, uitgeput. Saterdag eksamen gehad, die middag na Port Alfred om Naas [Steenkamp] te sien wat vir ’n dag daar was en hom sy Die ambassadeur te gee, gister in ’n swym gele^ en vandag werk ek dat dit opslae maak.

Jou pakkie het toe al die tyd hierheen gekom – gek! Ek het hom vandag gekry (die strokie het al laas week gekom). Veral die wit-en-swart stelletjie lyk mooi. Die ander meer gewoon. Ek stuur hulle vir jou aan. Ek wil jou so graag sien daarin, veral in die bikini’tjie met die strikkies. Januarie?

....

Vir sowat 50 jaar is hul liefdesbriewe in bruin koeverte bewaar. Met die verskyning van Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink en Ingrid Joker word jy opnuut bewus van die intensiteit van die´ twee litere^re ikone se jong liefde ... 

Dis een van die grootste tragiese liefdesverhale in die Afrikaanse litere^re we^reld: Die digter Ingrid Jonker en skrywer Andre´ P. Brink se passievolle verhouding in die jare sestig.

Vir byna twee jaar stort hulle hul gevoelens vir mekaar op papier uit: Hy in Grahamstad vir sy “Kokon”; sy in Kaapstad vir haar “liefste man”. Albei so jonk. En dan, enkele maande na´ die laaste brief, loop sy die see by Drieankerbaai in.

Haar oorspronklike briewe, saam met afskrifte van syne aan haar,

is sowat vyftig jaar lank in bruin koeverte in sy studeerkamer bewaar. Dit het so pas in boekvorm verskyn.*

Sedert Andre´ haar die briewe die eerste keer gewys het, het sy verstaan hoe kosbaar dit is, vertel Karina Brink, sy weduwee en litere^re kritikus.

Op persoonlike vlak, vir haar, ja. Maar ook vir die Suid-Afrikaanse litere^re geskiedenis. Sy het die briewe gelees, chronologies georden, geskandeer en laat oortik.

“Die gevoel wat die botoon gevoer het terwyl ek daarmee besig was, was vreugde: Dit het gevoel asof ek en Andre´ weer saam werk.

“Die inhoud is diep roerend. Die briewe selfs esteties baie mooi. Veral Ingrid s’n. Haar handskrif was elegant en sy het dikwels pragtige papier gebruik. Selfs die´ wat sy getik het, het ’n bekoring. Andre´ s’n is kopiee¨ van die oorspronklikes en sommige het van ouderdom verbleik. Om dit na´ sowat ’n halfeeu te lees en insig in hul ongelooflike verhouding te kry, was vir my wonderlik.”

Die projek het haar nie gehelp om heling te vind na´ Andre´ se dood vroee¨r vanjaar nie. Sy voel steeds “rou, sonder vel, broos”. “Maar om daarmee te kon werk, was ’n bron van sterkte.” – Lydia van der Merwe

**Die artikel het oorspronklik in ons November 2015-uitgawe verskyn.