Dié tydskrif word op straat verkoop en die verkopers verdien kommissie op die hoeveelheid tydskrifte wat hulle verkoop.

Op die voorblad staan Richard Branson in dié verkopers se uniform met ’n paar kopieë van die tydskrif in sy hand.

Hy is mal oor die idee dat die verkopers entrepreneurs is. Hy glo hulle lewer ’n bydrae tot die ekonomie en The Big Issue skep vir mense geleenthede om te groei.

Die redakteur van The Big Issue, Melany Bendix, sê dit is vir haar wonderlik om saam met Virgin Unite (die Virgin-groep se nie-winsgewende organisasie) te werk en een van die wêreld se invloedrykste mense te kry om die verkopers se doel en belangrikheid te bevestig.

“Ons wil hê die publiek moet weet dat The Big Issue se verkopers mikro-entrepreneurs in hulle eie reg is. Ons gebruik ons tydskrif om sosiale probleme te verlig,” vertel Melany.

Die hele uitgawe gaan oor entrepreneurs. Daar is ’n onderhoud met die welbekende Michael Norton. Jy kan jou gunsteling- sosiale entrepreneur nomineer en die kans staan om self in The Big Issue te verskyn, asook ’n 6-maande-kontrak by Virgin Active en Richard Branson se boek, Screw it, Let’s Do it: Lessons in Life te wen.

Voormalige Big Issue-verkopers wat nou hul eie suksesvolle ondernemings besit, word ook in die uitgawe vereer. Richard gesels oor die Branson Centre for Entrepreneurship en vertel dat mentorskap van uiterse belang is vir entrepreneurs in SA.