Die 1.8 m lange Ricky Peters het kaalbolyf langs die akteur Suraj Sharma gestaan toe hy die bekende Hollywood-regisseur Ang Lee (Brokeback Mountain) die eerste keer ontmoet het.

Ang het aan Ricky, ’n Suid-Afrikaner wat in Taichung, Taiwan, woon, gesê hy moet gewig verloor om Suraj se dubbelganger in Life of Pi te speel. Suraj het die hoofrol in dié film gespeel. Die prent gaan oor 'n seun en 'n tier wat op 'n reddingsboot moet oorleef nadat 'n skip gesink het. Dié tonele is op ’n strand en in ’n ou lughawe-gebou in Taiwan geskiet, berig Taipei Times.

Ricky Peters en Suraj SharmaRicky Peters en Suraj Sharma

Ricky (links) saam met Suraj (regs) op die stel van Life of Pi

Ricky, wat Engels onderrig vir hoërskoolleerlinge, het ’n koerantadvertensie vir ’n dubbelganger in die film gesien. Hy het nooit gedink dié ekstra werkie sal soveel geleenthede vir hom inhou nie. Ricky is Australië toe gevlieg sodat hulle sy liggaam kon skandeer vir die film se 3D-beelde.

Wat begin het as ’n eenvoudige instaan-werk (om in die plek van die akteur op die stel te staan terwyl die beligting en kamera-hoeke gestel word) het vinnig in toneelspel ontwikkel.

Ricky, nou 30 jaar oud en getroud met twee kinders, sê dié ervaring twee jaar gelede was oorweldigend. “Ek het begin met staan-inwerk, toe ’n dubbelganger geword vir die aksie-tonele en al die belangrike en bekende mense ontmoet.”

Dit was Ricky, en nie Suraj nie, wat in die emosionele einde van dié fliek te sien is. Dit is hier waar die hoofkarakter sy metgesel (’n tier met die naam Richard Parker) ná hul lang reis moet groet wanneer hulle op ’n strand in Mexiko uitspoel. “[Ang Lee] het gesê ek was nie veronderstel om te bewe nie, maar dit was so koud,” het Ricky gesê. Dié aksie maak die slottoneel meer emosioneel en geloofwaardig.

Ricky het gesê hy is gekies om dié toneel te doen omdat hy maerder as Suraj was en dus meer soos iemand gelyk het wat lank op ’n roeiboot moes oorleef. Om dié toneel te voltooi het hulle met rekenaar-tegnologie Suraj se gesig op Ricky se liggaam gesit.

“My vriende sê, ‘Ons het jou nie gesien nie’," vertel Ricky, en dan antwoord hy hulle, "maar dit is die punt!

As hy terugkyk op sy ervaring op die stel van dié Oscar-bekroonde fliek (dis benoem vir Beste Film en het gewen in die kategorieë Beste Rolprentfotografie, Beste Regisseur [Ang Lee], Beste Musiek vir ’n Film, én Beste Visuele Effekte), sê hy dit was die gewone oomblikke wat hy sal onthou, soos om drie uur in die grimeerstoel te sit en dit aan die einde van die dag in die see af te was. Hy het ook saam met die akteurs en filmspan branderplank gery.

Ricky is nie heeltemal genees van die Hollywood-koors nie. “As iets oor my pad kom en hulle kort in die toekoms ’n maer bruin outjie, sal ek dit doen! Maar vir nou is my gesin my eerste prioriteit.”

Hieronder is die lokprent vir dié film:

Bron: Taipei Times