Die 19-jarige Francesca is as Mej Golden Globe aangewys. Sy is die dogter van Clint en die aktrise Frances Fisher (Titanic), en is ook bekend vir die realiteitsreeks Mrs. Eastwood and Company waarin die Suid-Afrikaanse a cappella-groep Overtone ook speel.

Francesca Eastwood

FOTO: Gallo Images/David Livingston/Getty Images

Dit is die tweede Eastwood-dogter wat dié beeldjie gaan oorhandig. Haar halfsuster, Kathryn, het die eer in 2005 gehad.

Francesca is op die oomblik ’n student in Kalifornië. Sy het ’n passie vir mode en wil haar stempel op die modewêreld afdruk. Alle oë gaan dus op haar rokkeuse tydens dié seremonie wees. 

Mnr. Golden Globe die jaar is Michael J. Fox en Tracy Pollan se seun, Sam. Anders as Francesca was die aantreklike 23-jarige mediasku met die aanloop tot die Golden Globes. Hy is ook nie in die filmindustrie nie, maar werk vir Farmers Web – ’n besigheid wat boere van klein plase help om hul goedere aan die groothandelaars te verkoop.      

Die Fox-gesin op die rooitapyt by die Golden Globes

Die Mej of Mnr Golden Globe is ’n jong akteur en gewoonlik die dogter of seun van ’n filmster. Dié tradisie het in 1963 begin toe Eva Six en Donna Douglas gekies is. Verskeie jeugdiges wat hierdie rol al vervul het, het hul eie toneelloopbane gevestig soos Linda Evans (Dynasty), Anne Archer (Fatal Attraction), Melanie Griffith (Working Girl), Laura Dern (Jurassic Park), Joely Fisher (Ellen), Freddie Prinze Jr. (I Know What You Did Last Summer) en Rainey Qualley (dogter van aktrise Andie MacDowell).

Clark Gable (Rhett Butler in Gone With The Wind) se seun, John Clark Gable, was die eerste Mnr. Golden Globes (1995).  

* Die Golden Globes vind Sondag 13 Januarie plaas.