Bartek Kolodziej het eksklusief in Hollywood met dié hartebreker gesels

Hoe het jy voorberei vir jou fisiek uitdagende rol in Prince of Persia? Jy moes baie toertjies uitvoer en het baie spiere bygekry!
Ja, dis reg. Ek moes elke dag vir 'n maand lank gimnasium toe gaan en met gewigte oefen. Ek't 3 kg se spiermassa opgetel, en het myself byna nie meer in die spieël herken nie. Maar dit was eintlik lekker. Ek was nog altyd baie maer, so hierdie was 'n vreemde maar bevredigende verandering.

Het vroue anders na jou gekyk, met al daardie spiere?
Jy bedoel, het hulle my soos 'n regte man behandel? (Lag.) Nee, dit het nie so gevoel nie. My slag met vroue was beslis meer suksesvol toe ek normaal gelyk het (sonder die lang hare en die spiere). Op stel maak die voorkoms natuurlik sin, met al die toertjies en fisieke uitdagings.
 
Jy's mos nie eintlik 'n sportman nie...
Ek is. Maar ek doen nie ekstreme sport nie. Ek staan lekker vroeg op soggens en gaan draf of ry fiets. En my twee honde is net so mal daaroor.
 
Is dit nie vervelig om alleen te bly saam met jou twee honde nie?
Nee, ek's in elk geval min by die huis. Ek kuier saam met vriende, en gaan museum of kroeg toe wanneer ek nie op 'n filmstel is nie. My dae is vol gelaai. Ek kan nie sit en niks doen wanneer ek by die huis is nie. En of ek nou 'n goeie boek lees of kook, ek sal iets vind om te doen.

Wat van iets soos om meisies te ontmoet?
(Lag.) Ja, dit is ook een van my aktiwiteite.

Jou onlangse verhoudings het nie regtig gewerk nie...
Alles in die lewe is 'n ervaring. Selfs al gaan jy deur 'n slegte ervaring is dit nie 'n katastrofe nie, want jy leer uit sekere situasies. Krisisse maak jou 'n sterker mens. Jy moet nooit opgee as iets nie uitwerk nie, maak net seker dieselfde situasie speel hom nie herhaaldelik af nie...
 
Is jy gelukkig met jou lewe soos dit is?
Ja, ek's baie gelukkig! Ek's net 29 en het al so 'n ongelooflike lewe tot dusver gehad. Dit voel omtrent of ek al 6 lewens gehad het omdat daar so baie gebeur. Geluk is beslis aan my kant, ek's mal oor my werk. Dit gee vir my vryheid. Ons almal het drome, maar ek't nooit gedink myne sou op so 'n besondere manier waar word nie.

Wou jy nog altyd 'n akteur word?
Ja, my hele familie is in die vermaaklikheidsbedryf, ek's automaties daarby betrek. My ma is 'n draaiboekskrywer, my pa is 'n regisseur en my ouer suster, Maggie, is 'n baie suksesvolle aktrise. Maar ek't geleer in Hollywood kan jy net suksesvol wees as jy nie tot almal probeer spreek nie. Dit sal nie werk nie. Daar sal altyd iemand wees wat nie van jou werk hou nie. Maar dit maak nie saak nie. Solank daar ander mense is wat jou wel wil sien, dan's dit oukei. Jy sal werk kry, mense sal jou wil huur.
 
Ding jy en jou suster mee oor wie die beste akteur is?
Ja, daar's 'n bietjie kompetisie tussen ons. Maar dit help net die kreatiewe proses aan. Ons is albei gedurig besig om te dink wat om vorentoe aan te pak, en dan spog ons soms by mekaar. Ons help mekaar ook baie en gesels gereeld oor rolle, tegnieke en als waarmee 'n akteur bemoei is. Dis heerlik om 'n familielid te hê wat in dieselfde bedryf as jy werk. Sy weet presies hoe ek voel in situasies.

Is dit moeilik vir jou om met jou voete plat op die aarde te bly wanneer jy soveel sukses in Hollywood smaak?
Nee, en ek's my ouers dankbaar. Hulle het altyd vir my gesê ek's baie bevoorreg, maar ek bly 'n gewone mens soos almal anders. Ek's nie beter omdat die wêreld my ken nie. Ek's bewus daarvan dat als in 'n oogwink kan verander en dat ek net soveel energie in my nuwe rolle moet insit as in die eerste een. Ek dink wanneer 'n mens te gemaklik begin voel, jy baie hard aarde toe gebring gaan word.
 
Jake, baie mense sien jou as 'n sexy ou, die in-ou, 'n rolmodel vir ander. Is dit vir jou moeilik?
Nee, hoegenaamd nie. Daar's geen druk nie. Dis vir my 'n eer dat mense my bietjie anders sien. Ek's mal oor nuwe modes en om nuwe goed te koop. Miskien kom mense agter dat ek omgee vir my voorkoms en dat hulle my trends wil volg. Dis cool!
 
Wat's jou planne vorentoe?
Ek wil beslis 'n fliek vervaardig of regisseur speel. My samewerking met Jerry Bruckheimer aan Prince of Persia het hierdie wens nou weer lewendig gemaak. Ek't so baie by hom geleer. Nou kan ek nie wag om dit in my eie werk te implimenteer nie!

Sal jy graag binne die volgende paar jaar jou eie gesin wil hê?
Ek weet nie. Ek's nou eers aan die begin van my loopbaan en wil nou daarop konsentreer. Daar's nie nou plek vir 'n gesin in my lewe nie. Maar ek's nog jonk en daar's nog goeie jare wat voorlê, so 'n mens weet nooit...

Waarvan hou jy in 'n meisie?
Sy moet eerlik wees. Wanneer ek iemand vir die eerste keer ontmoet, is ek 100% myself. En ek verwag dieselfde van haar. Leuens maak nie sin nie, want voor jy jou oë uitvee, kom die waarheid in elk geval uit.