"Wanneer jy jou nuwe uitgawe van SARIE KOS (winter 2010) in die hande kry, blaai sommer dadelik na bl. 74 vir Barbara se waterblommetjiebredie!

"Dis winter, dis koud en elke etenstafel soek só 'n kuierpot. Lekkerder as 'n regte, egte waterblommetjiebredie kry jy nie. Barbara se resep het my teruggeneem na 'n winteraand jare gelede toe ek vir die eerste keer Rieta (Barbara se ma) se bredie geëet het. Daar was baie dinge wat Rieta goed kon doen, maar kook en lekker eet kon sy besonder goed doen. Só saam met die beste rooiwyn.

"Dis Rieta se einste resep in hierdie winteruitgawe van SARIE KOS. Die enigste bestanddeel wat Barbara nié kon kry nie, is surings. Tradisioneel was 'n hand vol daarvan deel van die resep. Vandag doen vars suurlemoen die ding. So saam met Rieta se eintlike geheim: lamsribbetjie én lamsnek.

"Waterblommetjies is so Kaaps as wat kan kom. Dis 'n kossoort wat glo al in die 17de eeu deur die Khoi-San geniet is en waaroor liedjies en gedigte geskryf word. Anton Goosen sing uit die hart wanneer hy sê: "Waterblommetjies in die Boland, waterblommetjies in die Kaap, maak die bredie net soos in die Wynland ..."

"In die Overberg, tussen skaap en koring, het ek waterblommetjies leer ken. Wanneer hulle van

Groot prys vir SARIE KOS!

SARIE KOS het die Neil Hammann-toekenning, 'n grote in die tydskrifafdeling, by vanjaar se Media24-toekennings gewen! Baie geluk aan Barbara Joubert en die hele SARIE-span.

 

volwinter tot in die lente in seisoen was, het ons die trietsige koue getrotseer en tot middellyf-in-die-water die damme ingewandel om die plukwerk te doen. (Ek gril nou nog vir die modderige onbekende tussen my tone!)

"Ons het onsmandjies, wat gerieflik binne-in 'n binneband gedryf het, volgepak met dié wit en groen blomme wat soms na vanielje geruik het. Die vet blomme was baie kos en dít was eerste prys. Dan het ons gewag vir die proe. Waterblommetjies moes lank kook, so saam met aartappel, uie en vleis. Met die eerste lepel vol bo-op 'n hopie rys het jy gedink jy droom dalk. Met 'n tweede het jy geweet: dís lekker. Maar die heel beste was die dag daarna wanneer jy die bietjies warm oorskiet op 'n stuk vars brood geskep het.

"Dat vleikos só hemels kon wees. Geniet hierdie wonderlike Suid-Afrikaanse uitgawe saam met ons. Al daardie hartsmake wat ons só goed ken..."

Groete,

Michélle van Breda, SARIE-redakteur

Barbara vertel: Boerekos = lekker eet

"Hierdie uitgawe van SARIE KOS lê my baie na aan die hart, want ek is passievol oor ons eie tradisionele kos. Niks kom vir my by 'n Sondagmiddagete met 'n lamsboud, wat lank in die oond was, soetwortels en blomkool met 'n kaassous nie. My gesin is ook mal daaroor.

"En wie weet meer van boerekos as Peter Veldsman, vorige kosredakteur van SARIE? Ek en Herman het lekker met hom gesels oor waarvan ons hou en waarvan ons nie hou nie (bl. 18). Peter is onlangs deur die AKTV bekroon as 'n Afrikoon saam met C. Louis Leipoldt, S.J.A. de Villiers en Cass Abrahams vir hul bydrae tot die SA kosbedryf.

"Dis nou ook die tyd om te bak - my gunstelinge is ystervarkies en, natuurlik, lekker vetkoek vir ontbyt. Probeer ook 'n slag om jou eie koeksisters te maak (bl. 90) - dis makliker as wat jy dink. Kook hierdie winter eg Suid-Afrikaans en geniet elke oomblik!"

 
Gestoofde wildsvleis met sampioene 3 generasies gesels boerekos
Lamskenkels met kwepers Kwepers raak gekonfyt
Sondagkos soos ons dit ken
Pampoenkoekies met stroop Sondag-poeding - heerlik soet
Sagopoeding-wenner
Waterblommetjiebredie Bobaas bredies
Koeksisters Bak soos ouma
Pannekoek Goedvoel-kos
Volstruis-bobotie met gestoofde kwepers Veelsydige volstruis
Kerrieboontjie-bredie
Boontjie se loontjie