4 porsies

  • 6 velle fillodeeg
  • strooisuiker
  • 100 g botter, gesmelt
  • 100 g sjokolade met 70% kakao
  • 4 eetlepels mascarponekaas
  • bevrore bessies
  • 4 rose
  • 1 eierwit, effens geklits

Spuit ’n groot kolwyntjie-pan. Verhit jou oond tot 180 °C. Sorg dat die rak in die middel van die oond is. Plaas die eerste vel fillodeeg op jou werkoppervlak en smeer gesmelte botter oor. Sprinkel so ’n eetlepel strooisuiker oor. Herhaal met die res van die fillovelle, maar smeer net botter op die boonste laag. Sny nou die deeg in 6 groot blokke - ek maak altyd 2 ekstra ingeval 1 of 2 breek. Bak vir 30 minute tot goudbruin. Haal uit en laat in die pannetjie afkoel. Smelt die sjokolade en smeer elke fillobakkie met die sjokolade. Jy kan dit vir so 10 minute in die yskas sit sodat die sjokolade hard kan word. Maak nou die versuikerde rose: Gebruik ’n klein kwassie en smeer die roos met eierwit. Sprinkel baie strooisuiker oor. Moenie die rose in die yskas sit nie. Sit elke bakkie in ’n groot glas net voor jy die nagereg voorsit. Skep ’n eetlepel mascarponekaas - meer as jy wil - in elke bakkie. Jy kan ook lekker roomys in plaas van die mascarpone gebruik. Haal die bevrore vrugte uit die vrieskas (jy kan deesdae gemengde bevrore vrugte in die meeste supermarkte koop). Plaas bessies van jou keuse bo-op, sit die roos langsaan en sit voor.

Om te drink
Koel muskadel -  wit of rooi! Slanghoek of Nuy sal die ding doen.