(4 porsies)

  • 30 ml sonneblom- of olyfolie
  • 1 groot wortel, in klein blokkies gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 selderystok, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 650 g beesmaalvleis
  • 2 tamaties, in blokke gesny
  • 10 ml droë gemengde kruie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 500 ml beesvleisaftreksel
  • 30 ml mielieblom
  • 50 ml water

Kapokaartappels

  • 8 groot aartappels, geskil
  • 60 ml botter
  • 150 ml warm melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olie in ’n kastrol. Braai die wortel, ui, seldery en knoffel tot sag. Voeg die maalvleis by en braai totdat die vleis los is en nie meer pienk nie. Gooi die gekapte tamaties, gemengde kruie en beesvleisaftreksel by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Laat prut vir sowat 30 minute. Verdik die sous deur die mielieblom met die water te meng. Voeg by die vleismengsel en laat kook tot dik. Gooi die vleismengsel in ’n oondbak van 30 x 25 cm of in klein individuele bakkies. Verhit jou oond tot 180 °C. Kook die aartappels tot sag vir die kapokaartappels en dreineer. Druk dit fyn en voeg die botter by. Meng die botter deur en voeg die melk by. Meng goed en geur met sout en peper. Skep die kapokaartappels bo-op en bak in die warm oond vir 30 minute.


Om te drink

Shiraz - Boschendal of Hartenberg