(4 porsies)

Krummellaag

  • 100 ml olyfolie
  • 300 ml vars broodkrummels (ek het ’n ciabatta in ’n voedselverwerker fyngekap)
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 100 g pecorino-kaas, gerasper
  • 30 ml fyngekapte pietersielie

Verhit die olyfolie in ’n pan. Braai die broodkrummels saam met die knoffelhuisie tot bros en goudbruin. Gooi die krummels uit op kombuispapier en laat afkoel. Meng die gebraaide krummels met die pecorino-kaas en pietersielie. Hou eenkant tot benodig.

  • 50 ml olyfolie
  • 1 ui, in skywe gesny
  • 500 g sampioene, in skywe gesny (ek het wit sampioene gebruik)
  • 1 rooi brandrissie, pitte verwyder en in skywe gesny (opsioneel)
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • sowat 6 vars basiliekruidblare, gebreek, of 5 ml droë basiliekruid
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 g spaghetti
  • 250 ml room

Verhit jou oond tot 200 °C. Verhit die olyfolie in ’n diep pan (wat jy later in die oond kan sit). Braai die ui vir 5 - 10 minute tot sag en deurskynend. Voeg die sampioenskywe, brandrissie (as jy wil) en knoffel by en braai vir nog 10 minute. Gooi die basiliekruid by en geur met sout en swartpeper. Kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Meng die spaghetti (in dieselfde pan waarin die sampioene gebraai is) met die sampioenmengsel en roer die room deur. Druk die krummellaag styf bo-op die pasta en plaas in die oond. Bak vir sowat 15 minute tot mooi bruin.


Om te drink

Blaauwklippen maak ’n wit Zinfandel, maar die wyn se kleur is effe pienk omdat zinfandel ’n rooi druif is. Dié druifsoort en die Italiaanse primitivo-druif is een en dieselfde.