Die gewilde grimeerhuis M.A.C het pas Viva Glam, 'n lipstiffie en lipglans wat deur Lady Gaga geïnspireer is, bekend gestel. Die wins wat uit die verkoop van die M.A.C Viva Glam-produkte gemaak word, sal aan die M.A.C Vigs-fonds geskenk word. Vir meer inligting of om die Lady Gaga-lipstiffie of -lipglans te bestel, besoek www.vivaglam.com. Dié gewilde kunstenaar het ook by die pas afgelope Paryse Modeweek 'n verskyning as model vir Thierry Mugler op die loopplank gemaak. Sy was ook die musiekdirekteur van die modeparade en haar liedjies was die ritme waarop modelle hul uitrustings ten toon gestel het. Sy was blykbaar vreeslik op haar senuwees voor die tyd, maar toe haar groot oomblik aanbreek, het sy haar met twee poniesterte en 20 cm hoë hakke uitstekend van haar taak gekwyt. Die hele vertoning was regstreeks op Thierry Mugler se Facebook-blad te sien. Sy is bekend vir haar unieke uitrustings op die rooi tapyt – dikwels baie gewaagd. En tog is sy super-gewild, al is sy vreemd. Mense is mal oor haar skerp aanslag en waagmoed, en natuurlik haar musiek. Haar eerste album, The Fame, wat in 2008 die lig gesien het, het die 12 miljoen-verkoopsyfer verbygesteek. En Born This Way, haar jongste album, doen nog beter. Haar Twitter-blad is van die grootste ter wêreld en staan tans op 8,6 mijoen volgelinge. Sy het vrou-alleen die manier waarop ons dink, musiek luister en aantrek in 'n japtrap kom verander.