Aktrise Hélène Truter vertel hoe sy en haar man, Percy Pretorius, ’n jaar gelede halsoorkop besluit het om hul huis in Johannesburg te verkoop en permanent na Onrus naby Hermanus te trek.

"Huisverbande het gestyg en ek het gedink ons moet ons vakansiehuis op Onrus verkoop. Sý reaksie: ‘Ek sal dóódgaan.’ Ek het in daai paar blou oë gekyk en gesien hy is ernstig. Toe verkoop ons maar die huis in Johannesburg en trek Onrus toe. Dis egter een ding om in die paradys te woon, maar wat doen jy vir ’n lewe?

“Percy kan sy werk as teksredigeerder by Binnelanders enige plek doen. Maar as regisseur by dié sepie was ek veronderstel om twee weke in Johannesburg en twee op Onrus te wees. Dit het nie altyd so gewerk nie. Ek was gereeld drie weke in Johannesburg en net ’n week in die Kaap. Deesdae pendel ek tussen Onrus en Groenpunt waar ek aan ’n kykNET-produksie werk, maar ek is ook gereeld as vryskut-regisseur en aktrise in Johannesburg.

“Percy is huisman en versorg ons dogter, Jana (12). Ek was nooit ’n wafferse huisvrou nie en dit was nie vir hom ’n aanpassing nie. Hy was ook nog altyd ’n hands on-pa. Maar Jana word nou ’n jong meisie en hy sukkel daarmee.”

Dis die emosionele goed, soos haar wipplank-buie, wat hom onderkry, sê Percy. Hy probeer sy bes, maar sy mis haar ma, al praat ma en dogter elke dag op die telefoon. Hy werk boonop teen ’n geweldige pas, selfs naweke. En dan voel Jana dis háár tyd. “Ek is haar ma, biegmoeder, maat, alles.”

 

Ons mis mekaar geweldig

en waardeer mekaar meer

 

Hy ken sy vrou – wéét sy kan nie stilsit nie. Sy speel toneel, skryf draaiboeke . . . daar moet altyd ’n uitdaging wag. Hy gee haar die ruimte.

Percy is die rustige een wat lag as sy haar oor nietighede opwerk.

Hélène sê: “Ons is verknog aan mekaar. As ek by die huis is, roep ons gedurig: ‘Waar’s jy?’ Hy sê dis vrek stil sonder my. Maar as ek daar is, shunt ek almal rond en dan mor hy: ‘Hoekom het ek jou ooit gemis?’”

Sý geniet dit dat sy in Johannesburg minder verantwoordelikhede het: Sy kan ná werk in die bed klim met ’n boek, sou sy so voel. Hý geniet die netjiese huis as sy weg is. Maar hulle is lank genoeg saam sodat hulle sonder sukkel oorskakel van “my” manier na “ons” manier.

Hy sê: “Ons vertrou mekaar ten volle.” En sy antwoord: “Ons praat méér op die telefoon as toe ons mekaar daagliks gesien het. Hy gesels oor goed wat pla, terwyl hy voorheen net grumpy en stil geraak het. Ons mis mekaar geweldig en waardeer mekaar meer.”

Maar, sê hulle, as jy wil pendel, moet jou huwelik sterk wees. Swak skakels gaan breek.

Ons kenner sê

Dr. Jannie Botha, sielkundige en skrywer van Pendelhuwelik (Lux Verbi.BM, 2008) sê:

“Die grootste gevaar van ’n pendelhuwelik is die wisseling tussen ’n onafhanklike, afhanklike en interafhanklike verhouding.

(In ’n interafhanklike verhouding het elkeen sy/haar eie identiteit, maar julle werk as ’n span saam. Julle baklei as ’t ware nie teen mekáár nie, maar sáám teen die wêreld.) Wanneer julle apart is, is julle ‘onafhanklik’ van mekaar. Dan is julle weer bymekaar en raak die verhouding ‘afhanklik’. Maar voor dit ‘interafhanklik’ word, is julle al weer op verskillende plekke. Dit lyk egter asof Percy en Hélène dié oorskakeling sonder probleme maak. Dit help baie dat hulle gereeld en goed kommunikeer.

“Wanneer hulle bymekaar gaan wees, moet hulle vooraf hul onderskeie verwagtings duidelik oordra. Dit

kan baie misverstande voorkom. Die gevaar is dat albei se emosionele ‘asblik’ vol is en hulle dit op mekaar uithaal. Bv.: As jy moeg is, laat weet jou huweliksmaat jy is ’n dag of wat nie lus vir mense nie.

“Kinders kry nie geborgenheid by ’n spesifieke mens nie, maar by die gesinseenheid. Wanneer jy as ouer te lank van die huis weg is, kan dit jou kind dwing om te vroeg verantwoordelikheid te aanvaar. Hy/sy kan emosioneel verantwoordelik voel vir die ouer by wie hy/sy woon, wat hom/haar angstig kan maak.”

Op Gordonsbaai aan die Valsbaaise kus wemel dit van vroue wie se mans in andermansland werk. En hulle trek sáám die wa deur die drif. Henriette Cowley, ’n eiendomsagent, vertel.

“My man, Raymond, is ’n siviele bourekenaar en die afgelope vyf maande in Doha, Katar. Voor dit was hy vyf jaar in Ethiopië.

Amanda Sameulson se man, Charl van der Merwe, is ’n kommersiële duiker. Marida Flack se Aiden,’n werktuigkundige, is in Gaboen. En Ann Rickard se Andy,’n bemarker, in die Emirate.

Ons wonder: Waar pas ons in? Ons is nie weduwees, geskei of alleenlopers nie. Ons is getroud, maar sien ons mans net 21 dae van die jaar. (In my geval. Dis al verlof wat Raymond kry en hy versprei dit deur die jaar. Die ander vroue sien hul mans meer en langer.)

“Die geld is goed in die buiteland. Maar jy betaal ’n hoë prys. Wanneer ek en Raymond op die telefoon gesels, maak ek staat op sy stemtoon om te peil in watter bui hy is. Daar is nie moderne tegnologie soos ’n webkamera nie.

“Al die belangrike dae, soos feesdae, is jy alleen. Ek kan alles hanteer: Totdat ‘Stille Nag’ Kersoggend in die kerk opklink. My kinders is groot. Etienne (24) woon op Stellenbosch en Arnu-Koch (27) is getroud en in Londen.

“’n Operasie, bouery, kinders, motorongeluk – jy is alleen. Maar ons vroue staan saam. Ons huil, lag en bid saam. Blaas saam stoom af. Ons vier verjaardae saam, hou kostuumpartytjies, pak nuwe dinge aan. Die jongste is kunsklasse. Ek en drie vriendinne, wie se mans ook in die buiteland is, wil vanjaar ’n kunsuitstalling hou. Staan opsy, Picasso!

 

Operasie, bouery, kinders, motorongeluk – jy is alleen”

 
 

“Soggens SMS ons mekaar: ‘Ek is wakker.’ Ná ’n vermoeiende dag drink ons skemerdrankies op Gordonsbaai se Bikini Beach. Maar dan gaan jy na jou leë huis toe terug.

“Susan, ’n vriendin, se man het jare lank ’n verhouding met ’n plaaslike vrou in Ghana gehad. Sy het uitgevind en verlede jaar selfmoord gepleeg. Sy het ’n gesamentlike vriendin gebel en toe die sneller getrek. Ons vroue het mekaar toe éérs nodig gehad. Hy was op die begrafnis saam met die ander vrou.

“Maar deur alles bly ons leuse: Go girl go!”

Dr Jannie Botha sê

“Wat dié vroue op Gordonsbaai goed doen, is om bymekaar te staan en mekaar emosioneel te ondersteun. Emosionele ondersteuning is seker een van die grootste tekortkominge in pendelhuwelike. Jy ervaar nou eenmaal emosie oor die telefoon as minder eg. As die kinders al groot is, kan jy dit dalk oorweeg om ses maande van die jaar by hom te gaan bly.”

 
Cindy* van Johannesburg se man, Mark*, ’n ouditeur, werk reeds drie jaar in Doebai. Sy ken pendelhuwelike se donker kant.

Sy druk ’n sigaret dood, steek die volgende een aan met hande wat effens bewe. Blond, fyn, goed versorg. Aan haar vinger pryk ’n diamant so groot soos ’n ertjie. Sy drink haar koffie swart en bitter. As Mark haar weer sien, wil sy tien kilogram ligter wees. Sy is reeds brandmaer.

Sy het geweet daar is ’n groot skroef los met haar huwelik. Hoe kan dinge “reg” wees as jou man twee jaar lank nie aan jou geraak het nie? Hy wou haar met mag en mening weghou van sy blyplek in Doebai. Sy het aanhou neul, sy het geweet die antwoord lê dáár. Hy het bly keer, vertel sy werk moet ’n visum reël, die geriewe daar is nie te waffers nie. Maar sy het haar sin gekry. En daar het alles in plek geval. ’n Kollega van haar man het haar vertel van sý vrou en kinders by die huis. Maar dié aand het die einste kollega met ’n plaaslike vrou in sy woonstel verdwyn. Kort daarna was die plek pikdonker.

“Wat is sy storie, hy is getróúd,” het sy Mark gevra. Mark het net daar ontplof, op haar begin skree. En uiteindelik gebieg: Daar is ’n ander vrou, iemand in Doebai. Twee jaar al. En ’n kind. Op die hakke van sy woede het die skuldgevoelens gekom. Hy wou haar vergifnis hê. Maar nooit gesê hy sal die ander vrou los nie.

“Dis ’n siek, siek leefwyse. Ek was daar . . . ek het gesien. Die mans leef soos bachelors. Seks word vir hulle op ’n skinkbord aangebied. Watter man gaan nee sê? En sy minnares is mooi, in haar laat twintigs met ’n bos hare. Hoe ding ek mee, ná drie kinders?

“En waar laat dit my? Die kinders is almal nog op laerskool. En hoekom hou hy die skyn voor? Want sy ‘gelukkige’ huwelik is die front waaragter hy sy ander lewe kan wegsteek. Hy is immers ’n gesiene lid van die gemeenskap. Hy probeer my met duur geskenke paai, soos ’n luukse motor.

“Ek het net ’n trofee op die kaggel geword.”

*Name en besonderhede verander.

Dr Jannie Botha sê

”Huweliksmaats word op drie vlakke aan mekaar verbind: geestelik, emosioneel en fisiek. Tyd en omstandighede kan dié ‘toutjies’ laat losgaan. (Kyk maar wat in net een besige week gebeur.) Met pendelhuwelike is dit nog meer só: Julle raak onafhanklik van mekaar. Egpare moet dus probeer om nie te lank alleen en ‘sonder verantwoordelikheid’ te funksioneer nie. Dis ook belangrik dat julle na albei kante toe pendel – dat jy dus ook vir hom gaan kuier. Veral as hy lang tye weg is. Die verskil tussen huwelike en buite-egtelike verhoudings is commitment versus opwinding. As julle lank getroud is, neig dinge meer na commitment. Daarom is dit só belangrik om die opwinding in ’n huwelik te probeer behou.”

Lizl Schutte van Pretoria se man, Christo, het ’n maatskappy wat vir oorlogslagoffers kunsledemate maak en hulle bystaan met rehabilitasie. Hy is tans in Burundi.

“Christo pendel al ses jaar lank, maar sedert 2007 is hy meer en langer weg, soms tot drie maande. Dan is hy dalk vyf dae hier, of ’n maand. Daar is nie ’n patroon nie en jy kan nie enigiets vooruit beplan nie. Dit raak eensaam: Saans tussen vyfuur en seweuur is die ergste. Jana (13), Dete (6) en Christian (5) is dan moeiliker, hulle soek hulle pappa.

“Ons eet dus vroeg, hulle bad, gaan slaap en ek klim in die bed met ’n boek. Ek lees nou baie meer. Sondae was altyd baie sleg. Deesdae sorg ek dat daar altyd mense by ons eet. As jy alleen is, verander jou vriendekring. Ek sien van ons ou vriende glad nie meer nie, maar het nuwes gemaak.

“My dogters mis hul pa, maar dis vir Christian die moeilikste. Anderdag sê hy vir ’n vreemde kind: ‘Werk jou pa? Kom hy óóit huis toe? My pappa werk ook, maar kom nie huis toe nie.’

“Wanneer Christo by die huis is, probeer hy opmaak. Die kinders wéét wat hy doen. As hulle iemand sonder bene sien, sê hulle: ‘Pappa moet daai oom help.’

“Ek probeer vir die gemis vergoed deur so dikwels moontlik saam met hulle te wees. (Ek werk van die huis af vir Christo.) En dalk raas ek nie so baie nie, omdat Pa se wegwees ’n leemte laat. Ek het ’n foto van hom geraam en as hulle stout is, sê ek hy kan sien wat hulle doen. Christian paradeer gereeld met sy speelgoed voor die foto: ‘Pappa, kyk hier!’

“Ouma Sippie, my ma en ’n onderwyseres, kom naweke kuier. Sy is kwaaier as ek. En skoonpa Chris help baie. Maar ek is selfstandig: Ek het ons boorgatpomp al self reggemaak!

 

Ons gesels

baie meer as pare

wat bymekaar is

 

“Ek en Christo gesels dalk meer as baie pare wat bymekaar is. Die SMS’e vlieg heen en weer. Ek weet altyd wat hy doen en omgekeerd. Ons bel hom daagliks en met die webkamera kan ons mekaar se gesig sien. Die kleintjies wys hom hul tekeninge en speelgoed. Die tegnologie maak dinge makliker.

“Hy het ’n passie vir sy werk en ek gun hom dit. Ons is albei rustige mense en dit maak dinge makliker. En ons het al ’n sak sout saam opgeëet vóór hy begin pendel het. Hy kón seker ’n 9-tot-5-werk gedoen het, maar dit sou hom nie dieselfde bevrediging gegee het nie.

“Hy moet in Burundi vir homself sorg en het leer kook – hy bak selfs brood! Ons maak saam kos as hy tuis is. En hy is soveel netjieser.”

Dr Jannie Botha sê

“Soos ek gesê het, kry kinders hul geborgenheid by die gesinseenheid. Daar moet dus ’n vaste roetine wees wanneer hulle met hul pa gesels. Dis seker nie elke dag nodig nie, maar sê nou maar drie keer per week op ’n spesifieke dag en tyd. Dit beteken egter nie hulle kan nie tussenin óók gesels nie.

“Die feit dat Christo se pendelry nie ’n vaste patroon het nie, skep waarskynlik baie onsekerheid by sy

gesin – dit terwyl pendel rééds so ’n onseker affêre is. Hy moet dus probeer om dit meer struktuur te gee. Bv.: Hy is ses weke weg en twee weke by die huis. Elke ses maande kan hy dalk drie weke huis toe kom. Dit sal hulle meer sekerheid gee.”