Kom uit die skuld

As jy een van hulle is, dink ’n bietjie oor dié wenke:

    * Stel vas of jou versekeringspremies mededingend is. Dalk kry jy ’n beter premie by ’n ander maatskappy.
    * Waak teen die gebruik van krediet- en winkelkaarte, asook oortrokke geriewe. Moet ook nie sommer ’n persoonlike lening aangaan nie. Dis duur.
    * Gaan die besonderhede van jou siekefonds na. Het jy werklik so ’n omvattende plan nodig?
    * Bereken jou bankkoste. Dalk kos dit jou R200 per maand! Besoek www.thinkmoney.co.za en www.justmoney.co.za en kyk watter bankrekeninge koste-doeltreffend is.
    * Bespaar op luukshede. Vier cappuccino’s kos sowat R54. Tel dit by die koste van een restaurant-ete (sowat R200 of meer vir twee) en jy’t R254 om in jou huisverband te stort. As jy DStv vir ’n maand of twee laat afskakel, spaar jy maandeliks R439.

Bron: GO Banking, Nedbank

Oorweeg die geldmark

As jy jou geld wil beskerm maar ook inflasie wil klop, belê gerus in ’n geldmarkrekening (wat onderliggend aan aandele gekoppel is). Hoewel die opbrengs dalk minder as sommige ander aandele in lae rentekoerstye kan wees (tans nie die geval nie), is jou geld besonder veilig. Doen navraag hieroor by groot bankgroepe soos Nedbank, Absa of FNB. Beleggingsmaatskappye soos Investec of Coronation kan ook raad gee.

Behou geloof

“Glo dat jy geld kan maak en laat dit gebeur. Werk hard en gee jou tiende vir liefdadigheid. Maar moenie meer uitgee as wat jy verdien nie en wees realisties oor beleggings vir jou latere jare. Eiendom is goed, maar dis beter om in verskeidenheid te belê. Kry hulp van ’n goeie finansiële raadgewer.” - Clementina van der Walt, keramiekkunstenaar

Clementina van der Walt

Maak soos die rykes

Moenie gedurig koop en verkoop as jy ’n neseier wil opbou nie, sê dr. Johan Dippenaar, skrywer van Sow and Grow Your Own Money Tree (Aardvark Press, 2006). Welgestelde mense koop bates soos eiendomme of aandele en hou dit vir ’n lang tyd.

Finansieel gelukkig?

How Much is Enough? deur Arun Abey & Andrew Ford (A&B Publishers, Australië, 2007, R149)
Daar is geen standaard-antwoorde op geldvrae nie, want jou behoeftes verskil van jou vriendin s’n. Hierdie boek wys jou hoe om seker te maak jy het genoeg geld vir dit wat jóú gelukkig maak. Daar’s ook ander interessanthede, soos hoe om vas te stel of jy ’n goeie finansiële raadgewer het.

How much is enough deur Arun Abey & Andrew Ford

Via die internet

Span die internet in om jou rekeninge te betaal. Dan hoef jy nie tjeks uit te skryf of bekommerd te wees dat jou geld in die pos sal wegraak nie. Banke gee baie geld uit om seker te maak jou persoonlike inligting is veilig. Span dus die elektronika in.
Bron: Suze Orman in Women & Money (Hay House, 2007)