Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Die week wys sy ons hoe om vervelige grys trappe kleurryk te verf.

Jou kleurtoonleer vir ’n stel trappe

Ombré [äm'bra', äm bra']

Hierdie gonswoord in dekor beteken die geleidelike vermenging van een kleur in ’n ander. Dít laat my dink aan ’n kleurtoonleer.

Ek het gedink ’n kleurtoonleer is net die ding vir die trappe wat lei na ons kreatiewe ateljee waar ons werksessies aanbied, Verbeelding.

klaar 4 Ombré-trappe

Jy benodig

  • ’n Stel trappe
  • Annie Sloan Chalk Paint™. Ek het Emperor’s Silk, Scandinavian Pink en Pure White gebruik (Of ’n gewone PVA en universele onderlaag)
  • Verfkwas
  • Maskeerband
  • Mengbakke
  • ’n Vernis met ’n waterbasis, soos Harlequin Paints se Exterior Waterbasis-vernis

Stap 1: Beplan

Om hierdie ombré-effek op trappe te skep gaan ons stelselmatig kleure moet meng. Meng dit in verhoudings en elke trap sal sy eie kleurtoon hê en die kleur sal geleidelik verander.

Dit help baie om vooraf te beplan.

Ek het 17 trappe wat ek wil verf. Ek begin met Emperor’s Silk. Dié rooi gaan gemeng word om geleidelik oor te gaan in Scandinavian Pink. Dié pienk gaan dan gemeng word totdat die trappe eindig met Pure White.

Ek werk eers uit watter een is my middelste trap. Trap nommer 9 gaan ek dan suiwer Scandinavian Pink verf. Die heel onderste trap Emperor’s Silk en die heel boonste trap (trap 17) gaan ek die suiwer wit verf. Daar is dus 7 trappe (van kleurgradering) tussen die middelste trap en die onderste trap, en die middelste trap en die boonste trap.

Stap 2: Meet en meng

Annie Sloan Chalk Paint™ het geen skadelike chemikalieë in nie en is selfs veilig vir speelgoed. Daarom kan jy na hartelus met jou kombuismaatkoppies en -lepels meet en meng.

meet en meng 1

  • Ons begin onder by trap 1: Suiwer Emperor’s Silk.
  • Trap 2: Meng 30 ml Emperor’s Silk met ½ teelepel Scandinavian Pink.
  • Trap 3: Meng 30 ml Emperor’s Silk met 1 teelepel Scandinavian Pink.
  • Volg dié "resepte" vir die res van die trappe tot by trap 9.
  • Die "resepte" is op die sketse aangedui.

meet en meng 2

Stap 3: Verf

Voor jy verf: plak lekker breë maskeerband rondom die trap-gedeelte wat jy gaan verf sodat jy nie verf teen die mure of op die loopvlak mors nie.

Ek gebruik sommer ’n groterige kwas vir die projek – dit gaan nie hier oor tekstuur nie, maar oor kleur, daarom kan ek sommer lekker rof verf.

Klaar

En SIEDAAR! Jou kleurtoonleer is klaar! Jy kan dit nou seël met ’n vernis met ’n waterbasis. Omdat die verf nie op die loopvlak van die trappe is nie, gaan die vernis nie enige swaar voetverkeer hanteer nie. Jy kan selfs wegkom om ’n tipe dekoratiewe vernis te gebruik.

klaar 1

Die ombré-effek gee ’n ongelooflike mooi gevoel en impak in enige vertrek – ek is dol daaroor! Ek wil sommer nóg ’n trap verf.

klaar 2

klaar 4

Hoop julle almal verf pragtige kleurtoonlere die naweek.

Jani Goussard, 
Paint & Decor DIY
Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.
Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard, Paint & Decor DIY.

Jani se vorige blogs