Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Gholf
Marizanne gesels met Dean Burmester
Sondag-spook verjaag

Dis ’n Vrydagmiddag in een van Bloemfontein se sportwinkels en by die rugbyballe speel ’n heel alledaagse situasie hom af: ’n Peuter is op stewige beentjies besig om die balle uit te haal, terwyl sy jong pa probeer keer.

Dean Burmester verlede Sondag tydens die laaste rondte van die Tshwane-ope. Foto: Getty Images

Op 20 maande is klein Jordan Burmester so betower deur balle soos enige ander seuntjie. Maar sy gunstelingsport behels ook ’n verskeidenheid stokke.

Soos sy pa, Dean, wie se naam steeds in vars ink op die Europese reeks se lys van toernooiwenners staan, vrek Jordan oor gholf.

“Hy het natuurlik al ’n plastiekstelletjie en wanneer hy in die oggende wakker word, is al wat uit sy mond kom ‘gholf, gholf, gholf’,” sê Dean Burmester die afgelope week met ’n lag in sy stem oor sy eersteling. “Hy swaai na links, so ons sal maar sien of dit so gaan bly.”

Dean self slaan regs – en hy doen dit met gróót sukses. Verlede Sondag, ná agt jaar as beroepspeler en ses titels in die Sonskynreeks, het hy eindelik ’n trofee in die Europese reeks bo sy kop gelig, danksy ’n wonderlike laaste rondte in die Tshwane-ope.

Die Bloemfonteiner was op die eerste bof nog ’n hou agter die voorlopers – die Sweed Alexander Björk en Skotland se Scott Jamieson – maar voëltjies by al drie sy eerste putjies het hulle gou in sy stof laat stik. Nog ses het oor die volgende 11 putjies gevolg, sodat selfs brouhoue by die 16de en 17de hom nie van ’n sege met drie houe kon weerhou nie.

“Ja, ek raak nou al gewoond aan die idee dat ek ’n Europese wenner is, maar ek dink dit sal eers behoorlik insink wanneer ek in Europa kom en die ouens daar wens my geluk,” sê Burmester.

“Dis ’n emosionele ding vir my, want daar het soveel harde werk ingegaan om uit te kom by die breukdeel van ’n sekonde waarin ek ’n sethou wat my hele lewe sou verander, moes inslaan.”

Dit het in Burmester se geval 22 jaar van gholfstokke swaai geverg voordat sukses op die wêreldverhoog bewaarheid is.

Daar was plaaslik heelwat om oor te kraai – verlede jaar is Burmester byvoorbeeld as Investecbeker-kampioen gekroon en in 2015 en 2016 was hy onderskeidelik vierde en tweede op die Sonskynreeks se geldlys.

Maar Europese sukses is ’n trappie hoër. En vir Burmester was dit die afgelope twee jaar iets wat hy ’n paar keer geruik het, maar nooit kon behaal nie.

In die Tshwane-ope was hy in 2015 en 2016 onderskeidelik derde en vierde. Sedert die begin van vanjaar het hy vierde in die Suid-Afrikaanse Ope, sewende in die Abu Dhabi-kampioenskap en 11de in die Joburg-ope geëindig. Sondae was vir hom ’n frustrerende dag.

Dit sal eers behoorlik insink wanneer ek in Europa kom en die ouens daar wens my geluk.

“Dit was vir my ’n groot motivering om so baie naby te kom, want ten minste het ek geweet ek kan myself in ’n posisie plaas van waar ek kan wen. En jy leer mos baie uit sulke slegte Sondae, jy moet net besluit om die lesse ter harte te neem. Dié keer het ek Sondag opgestaan en vir myself gesê, as ek kalm bly en met vryheid speel, sal dit goed gaan. Ek was, soos hulle sê, in die zone. Ek onthou ná die voëltjie by die eerste putjie het daar so ’n kalmte oor my neergedaal, en toe ek weer sien, stap ek by die 18de skoonveld op met die wen in my bereik.”

Die sege het Burmester terug in die top-100 op die wêreldranglys gekry (hy is nou 95ste) en hom van Europese spelersregte verseker tot aan die einde van 2018.

Hy kan sy skedule nou plooi soos dit hom pas, en fokus op sy volgende groot doelwit: Om in ’n major te speel.

“Ek gaan ongelukkig nie in die Meesterstoernooi (in April) kan gaan speel nie, maar my visier is daarop om te kwalifiseer vir die Amerikaanse Ope en Britse Ope,” sê Burmester.

“Die beste manier is om in die top-50 op die wêreldranglys te kom, want dan kwalifiseer jy outomaties vir al die majors, maar daar is ook kwalifiserende toernooie vir albei majors, so dis nie al manier nie.”

Die eerste van die Europese reeks se ope-kwalifiseerders is in Mei in Japan.

Tot dusver was Burmester se enigste proesel van gholf tussen ritse supersterre verlede jaar se HSBC-kampioenskap in Sjanghai, in die WGC-reeks.

’n Nuwe Tshwane Ope-kampioen is verlede Sondag by die Pretoria-buiteklub gekroon. Dean Burmester soen sy trofee. Foto: Gallo Images

Hy wou ook verlede jaar Olimpiese gholf speel vir sy geboorteland, Zimbabwe, maar is deur rompslomp van die kans ontneem. Dis maar goed so, sê Burmester, want daar sou geen omdraaikans gewees het as hy met die Zimbabwiese vlag op sy gholfsak in Rio gespeel het nie.

Nou kan hy onder Suid-Afrika se reënboogvlag aanhou glorie jaag vir die land wat hy die afgelope 14 jaar sy tuiste noem.

Burmester het as vyfjarige in Zimbabwe vir die eerste keer nege putjies gespeel, maar sê dit was nie sy eerste liefde nie.

Sy pa, Mark, het in 1992 drie kriekettoetse vir Zimbabwe gespeel en jong Dean was aanvanklik ook versot op dié spel.

“Tot op 16 wou ek eintlik net krieket speel, totdat ek op ’n dag besef het dis nie meer my groot passie nie. My gholf het in daai tyd ál beter geraak, so dit was ’n vanselfsprekende keuse.”

Sy familie het vierkant agter hom gestaan, en dit was veral sy oupa Greville, wat net meer as ’n jaar gelede dood is, wie se rol in sy loopbaan hy altyd sal onthou.

Dean het sy Tshwane-sege aan hom opgedra.

“My oupa was ’n kalm invloed en passievol oor alle sport. Hy was net altyd daar. Met my eerste Sonskynreeks-sege (in 2013 in Polokwane) het hy tree vir tree saam met my gestap. Net die dag voor dit was hy in Johannesburg vir chemoterapie, maar hy het besluit hy sál kyk hoe ek speel.”

Wanneer hy die volgende hoofstuk van sy loopbaan aanstaande maand in Europa afskop, sal sy vrou, Melissa, en klein Jordan saamgaan.

Jordan sal sy plastiekstokkies buite die toue speel-speel links swaai, en Dean sy regte ysters binne die toue regs.

En die lewe sal goed wees op Planeet Burmester – soos dit alreeds is.

Meer oor:  Dean Burmester  |  Marizanne Kok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.