18 Augustus 22:16
Kaapstad Verander Area

Saterdag

20°C / 10°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 52%

Sondag

18°C / 12°C

Wind 23km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 31km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 81%

Dinsdag

14°C / 11°C

Wind 37km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 64%

Woensdag

13°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 6mm

Humiditeit 79%

Donderdag

13°C / 10°C

Wind 34km/h

Reënval 0

Humiditeit 58%

Nog Sport
F1 ontleed: 2017 se spanne en die jaers

Tien spanne neem aan vanjaar se Formule 1-reeks deel. Die seisoen begin op 26 Maart, wanneer die enjins in Melbourne, Australië, brul.

Hier volg ’n bondige opsomming van die spanne wat in aksie gaan wees, hul onderskeie renjaers en hul moontlike plekke ná die seisoen.

Die nommer wat aan elke jaer se naam gekoppel word, is die een wat hy gekies het vir die duur van sy loopbaan as beroepsjaer in die F1-reeks.

Die man om vanjaar te klop? Die Brit Lewis Hamilton van Mercedes vier sy wêreldtitel in 2014. Foto: Getty Images

MERCEDES

44 – Lewis Hamilton (Brittanje); 77 – Valtteri Bottas (Finland)

Bottas is in die plek van die wêreldkamioen Nico Rosberg in die span, wat sy uittrede aangekondig het. Die Fin het die meeste oefenrondtes (628) in die voorseisoen afgelê en Mercedes die meeste kilometers van al die spanne (5 102).

Die driemalige kampioen Hamilton het in die winter 468 rondtes voltooi en was effens stadiger as sy spanmaat. Mercedes het 51 van die 59 renne gewen waaraan hy deelgeneem het sedert hy in 2014 na ’n V6-turbo- hibriede enjin oorgeskakel het.

Verlede seisoen was die span 20 uit 21 keer eerste op die wegspringrooster.

Om die oorheersing vanjaar te handhaaf gaan egter moeilik wees, aangesien nuwe regulasies die speelveld meer gelyk gemaak het vir die deelnemers.

Mercedes se tegniese hoof, Paddy Lowe, het sy tasse gepak en is deur James Allison vervang.

Waarskynlike uitslag: ’n Vierde konstruksietitel vir Mercedes, of moontlik ’n tweede plek. Hamilton is die gunsteling om as wêreldkampioen gekroon te word.

RED BULL

3 – Daniel Ricciardo (Australië); 33 – Max Verstappen (Nederland)

Die enigste jaers buiten Mercedes se span wat verlede seisoen renne kon wen. Gaan die RB13-renmotor geluk bring vir Red Bull?

Die vroeë aanduidings is die Renault-enjin, nou met ’n nuwe Tag Heuer-handelsmerk, het positiewe resultate gelewer, selfs al was dit soms onbetroubaar gedurende toetsrondtes.

Red Bull het straks nie sy ware spoed gewys in die voorseisoen nie, maar dit wil voorkom of hy gaan sukkel om by Mercedes en Ferrari te hou.

Verstappen en Ricciardo sal in ’n taai stryd met mekaar gewikkel wees.

Waarskynlike uitslag: ’n Plek in die top-drie. Moontlike seges in sommige renne.

Sebastian Vettel van Ferrari in aksie gedurende die voorseisoense toetsrondtes op 10 Maart. Foto: Getty Images

FERRARI

5 – Sebastian Vettel (Duitsland); 7 – Kimi Raikkonen (Finland)

Raikkonen was die vinnigste in die voorseisoense toetsrondtes en Ferrari, wat verlede jaar nie ’n enkele ren kon wen nie, het ’n lae profiel in die buiteseisoen gehandhaaf. Dit wil voorkom of hy ’n plan in die mou voer.

As die span kan voortbou op ’n goeie voorseisoen en dit omskakel in goeie resultate in die eerste paar renne, sal die span net sterker word en ontwikkel. As hy boonop die strategiese foute van die verlede kan uitskakel, behoort daar goeie nuus te wees vir motorsport-entoesiaste wat graag ’n ander span as Mercedes op die wennerspodium wil sien.

Die SF70H-renmotor en nuwe regulasies pas skynbaar vir Vettel en Raikkonen.

Waarskynlike uitslag: Aanspraakmakers op die titel. Moontlike eerste kontruskiestitel sedert 2008. Vettel is op soek na sy vyfde wêreldkroon. Raikkonen sal alles gee, want hy sal na verwagting ná die seisoen uittree.

FORCE INDIA

11 – Sergio Perez (Mexiko); 31 – Esteban Ocon (Frankryk)

Verlede seisoen was die span se beste tot nog toe en die fokus vanjaar sal ’n plek onder die top-drie wees . . . veral met daardie treffende pienk motor.

Dit lyk egter na ’n onwaarskynlikheid vir ’n span wat in private besit is en reeds ver bo sy gewigsklas moet baklei. Om sy vierde plek van 2016 te behou is wel moontlik.

Perez is nou die spanleier en sal mik na ’n verbetering op sy twee podiumplekke verlede siesoen. Ocon is ’n jong talent met Mercedes-konneksies en hy gaan sy Mexikaanse spanmaat behoorlik opkeil.

Waarskynlike uitslag: Dit sal afhang van hoe hard die ander spanne terugveg, maar vierde is waarskynlik weer Force India se voorland.

WILLIAMS

19-Felipe Massa (Brasilië); 18-Lance Stroll (Kanada)

Bottas het die span verlaat om hom by Mercedes aan te sluit en die hoofingenieur, Pat Symonds, is deur Paddy Lowe van Mercedes vervang.

Die bloedjong nuweling Stroll is die groentjie op die wegspringrooster en het reeds sy gebrek aan ondervinding gewys met botsings in oefenrondtes. Dit gaan ’n skerp leerkurwe vir hom wees.

Die span sal op Massa peil trek om punte in te samel en ’n leiersrol te vertolk nadat hy omgepraat is om sy “uittrede” opsy te skuif, iets wat hy in elk geval nooit wou doen nie.

Waarskynlike uitslag: As die motor so goed is soos wat daar tydens oefenrondtes beweer is en die jaers kan uit die moeilikheid bly, is ’n vierde plek binne Williams se bereik.

Gaan McLaren se Fernando Alonso sy frustrasie met die renmotor se gesukkel vanjaar in toom kan hou, of is hy op pad uit?Foto: Getty Images

MCLAREN

14 – Fernando Alonso (Spanje); 2 – Stoffel Vandoorne (België)

Zak Brown is nou die baas van die plaas, maar die opskrifte in die media bied neerdrukkende leesstof. Sesde verlede jaar ná ’n negende in 2015 en die eens magtige McLaren loop nou die gevaar om nog verder terug te sak.

Probleme met die motor se enjin het ook die toetsfase in die voorseisoen gepootjie en die span het veel minder rondtes as sy teenstanders afgelê. Die motor was ook veel stadiger op reguit dele van die oefenbaan.

Alonso se frustrasie groei by die dag en die kans dat die tweemalige kampioen nog ná die seisoen gaan rondhang, word ál skraler. Vandoorne is ’n baie talentvolle jaer, maar sonder ’n behoorlike motor gaan hy sukkel om uit te troon.

Waarskynlike uitslag: ’n Afwaarste kurwe op die algehele puntestand. Honda beter vinnig inspring en red wat te redde is.

TORO ROSSO

55 – Carlos Sainz (Spanje); 26 – Daniil Kvyat (Rusland)

Die span sal vir ’n tweede seisoen agtereenvolgens op die sesde plek fokus. Hy gebruik nou Renault-enjins, eerder as die jaar oue Ferrari’s van 2016. Sainz word hoog aangeslaan en is waarskynlik in ander spanne se visier vir 2018, terwyl Kvyat iets het om te bewys nadat hy verlede seisoen deur Red Bull uitgeskuif is.

Dis een van die mooiste renmotors op die wegspringrooster en in baie opsigte soortgelyk aan dié van Mercedes.

Waarskynlike uitslag: Kan dalk ’n verrassing of twee bied.

HAAS

8 – Romain Grosjean (Frankryk): 20 – Kevin Magnussen (Denemarke)

Die enigste span wat deur Amerikaners besit word, neem nou deel aan ’n sport wat deur Amerika besit word.

Die doelwit is om in sy tweede seisoen een plek in die rangorde te verbeter en Haas het die jaers en die (Ferrari-) enjin om dit te vermag.

Magnussen het van Renault af oorgeskuif en sal ’n verbetering wees op Esteban Gutierrez, wat gepos is.

Waarskynlike uitslag: ’n Beter plek op die algehele puntelys.

Die Le Mans-wenner Nico Hulkenberg skuif oor van Force India en is gretig vir ’n eerste F1-podiumplek vir Renault.Foto: Getty Images

RENAULT

27 – Nico Hulkenberg (Duitsland); 30 – Jolyon Palmer (Brittanje)

Die Le Mans-wenner Nico Hulkenberg skuif oor van Force India en is gretig vir ’n eerste F1-podiumplek. Palmer is hier vir sy tweede seisoen.

Verlede jaar se enjin was basies ’n Lotus in Renault-gewaad, maar vanjaar behoort daar iets veel beter onder die bakwerk te skuil. Die teiken is algeheel vyfde.

Waarskynlike uitslag: Vyfde as alles uitwerk, maar dis ambisieus.

SAUBER

9 – Marcus Ericsson (Swede); 94 – Pascal Wehrlein (Duitsland

Sauber het net in een ren verlede seisoen punte aangeteken, maar dit was genoeg om sy neus voor Manor te kry, wat as 11de span in die 2016-reeks vanjaar nie saamjaag nie.

Die Sweedse span gebruik jaar oue Ferrari-enjins die seisoen. Dis betroubare tegnologie ja, maar die gebrek aan spoed is ’n probleem en die kanse is goed dat Sauber gereeld ’n rondte agter die vinniger spanne gaan raak.

Waarskynlike uitslag: Laaste met dalk ’n paar punte hier en daar. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.