22 Augustus 20:31
Kaapstad Verander Area

Woensdag

14°C / 11°C

Wind 18km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 78%

Donderdag

14°C / 11°C

Wind 27km/h

Reënval 0mm

Humiditeit 59%

Vrydag

16°C / 11°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Saterdag

18°C / 10°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 56%

Sondag

19°C / 11°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 57%

Maandag

21°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 61%

Nog Sport
Jaguars se Jenny van Dyk jubel
Oplaas die bruid!
Jenny van Dyk gee haar Gauteng-Noord-spelers raad tydens die eindstryd van die nasionale netbalkampioenskap in 2014. Foto: Reg Caldecott/Gallo

Vir vier lang jare was die netbalroom van Pretoria immer die strooimeisie, nooit die bruid nie. 

Hulle was tweede in drie Premierliga-eindstryde. In verlede jaar se Varsity-eindstryd het hulle met ’n enkele doel verloor. Keer op keer moes hulle toekyk hoe iemand anders ’n trofee lig en dan bedremmeld huiswaarts keer.

Wel, die tyd vir lang gesigte is verby. Die afgelope week by die netbalbane van Tuks was dit die ene flitsende glimlagte en jolyt.

Die bruidskleed is aan, die Premierliga-trofee is in die kas gebêre en die deur na ’n opwindende volgende uitdaging is ontsluit.

Ek het gedink ­Norma gaan baie met die spelers praat, maar sy’t ­seker nie eens tien woorde gesê nie. Sy het vir elke speler gevra wat hulle sien.

“Elke gesiggie wat hierdie week by my kantoor ingekom het, het ’n groot smile opgehad,” sê die Jaguars-afrigter, Jenny van Dyk, Donderdag met ’n sonnigheid in haar stem. “Ons is almal net vol blydskap dat die harde werk die moeite werd is en ons nou iets het om daarvoor te wys.”

Van Dyk is al meer as ’n dekade in die afrigtingstrukture van Pretoria se netbalspanne, met die Tuks-span wat nog altyd ook die kern van Noord-Gauteng en die Jaguars gevorm het.

Daar is ’n paar groot suksesse agter haar. Tussen 2010, toe sy die eerste keer as hoofafrigter die leisels gevat het, en 2014 het Noord-Gauteng die nasionale kampioenskap vier keer gewen. Tuks was lank die oorheersende span in die USSA-reeks en deur haar hande het dosyne meisies van grootoog-studente in Protea-sterre ontwikkel.

Tshina Mdau van die Jaguars verdedig teen Rome Dreyer van die Flames in vanjaar se eindstryd.

Maar ná ’n paar maer jare, waarin eers Bloemfontein se netbaltrots en verlede jaar Potchefstroom s’n die netbaltoneel begin oorheers het, het Van Dyk besluit, tot hiertoe en nie verder nie.

“Ons het altyd geweet ons is ’n bestendige span en vir ons was al die eindstryde waarin ons gespeel het ’n sterkpunt. Ander mense het ons sien verloor en gedink dis swakheid, maar jy kom darem ook nie net in ’n eindstryd nie,” sê Van Dyk.

“Onthou ook, ons het begin met ’n groep onervare spelers. Die talent en die wil om te wen was altyd daar, maar dit vat tyd om die span op ’n punt te kry waar almal die regte ding op die regte tyd doen.

“Ons het vyf spelers geïdentifiseer aan wie ons wou vasklou, om die ankers in die span te wees. Dit het ’n verskil gemaak, want daar was tien nuwe spelers in die Jaguars-groep, maar dis tien wat nie die letsels van die vorige eindstryde het nie, saam met vyf wat daardeur gevorm is.”

Ná hul nederlaag met 56-55 teen Pukke in verlede jaar se Varsity-eindstryd het Van Dyk en die kondisioneringsafrigter, Waldo van Heerden, besluit om “op die klein goedjies te konsentreer”.

“Ons het die spelers se hersteltyd anders benader en minder maar meer intensiewe oefensessies gehad. Ons het ook al in November begin werk om reg te wees vir die Premierliga, toe almal anders nog gewonder het hoe hulle die seisoen gaan benader,” sê Van Dyk.

Die 34-jarige Pretorianer is een van die jongste afrigters in Suid-Afrika en sê sy het nog nie opgehou leer nie. Haar groot mentor, sê sy, is die voormalige Protea-afrigter Elize Kotze, by wie sy in 2010 as Tuks-breier oorgeneem het. 

En die huidige Protea-sweepslaner, die Aussie Norma Plummer, het ook groot indruk gemaak toe sy Van Dyk verlede jaar as hulpafrigter by die nasionale span betrek het.

Sy het vir elke speler gevra wat hulle sien, wat kon beter, wat het goed gewerk – sy het die bal in hul hande gesit.
Jenny van Dyk

“Ek onthou voor die eerste videosessie van die Proteas wat ek bygewoon het, het ek gedink Norma gaan baie en hard praat met die spelers, maar sy’t seker nie eens tien woorde gesê nie. Sy het vir elke speler gevra wat hulle sien, wat kon beter, wat het goed gewerk – sy het die bal in hul hande gesit.

“Ons as Suid-Afrikaanse afrigters sal ’n Plan C en D en E uitwerk vir wanneer die eerstes nie werk nie, maar op daardie manier neem jy alles op jouself. Ons doen al die dinkwerk.

“Norma verwag van die spelers om vir hulself te dink, want dis tog hulle wat die besluite op die baan neem. Hulle moet self hul wedstryde ontleed en self uitwerk hoe om volgende keer beter te wees. En as een nie die mas opkom nie, kies Norma iemand anders.

“Dit was vir my moeilik om dit ook só te doen, want dis soveel makliker om net vir hulle die oplossings te géé. Met haar manier kweek jy egter beter spelers.”

Van Dyk-hulle vlieg volgende week Nieu-Seeland toe, waar hulle as Premierliga-kampioene aan die Wêreld-klubkampioenskap gaan deelneem. Hulle weet dit gaan taai wees – Nieu-Seeland se ANZ-kampioen én ’n Aussie-span is in hul groep – maar hulle is opgewonde, sê sy.

“Dit is nog ’n geleentheid om te gaan leer en ons horisonne te verbreed,” sê sy. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.