Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nog Sport
Opkikkers: ‘Skors Rusland uit álle sport’

Die internasionale vereniging van organisasies wat die gebruik van verbode middels in sport beveg (Nado), het ná ’n beraad gevra dat Rusland uit alle sportsoorte geskors word totdat ’n geloofwaardige stelsel teen die gebruik van opkikkers in dié land in werking gestel word.

Viktor Lebedev, ’n stoeier vir Rusland, is een van vele sportsterre van dié land wat verlede jaar deelname aan die Olimpiese Spele ontsê is. Foto: Getty Images

Nie minder nie as 19 nasionale liggame wat deel van Nado is, het in Dublin vergader om die tweede verslag deur prof. Richard McLaren, ’n Kanadese regsgeleerde, te bespreek. Dié verslag het die grootskaalse gebruik van verbode middels deur Rusland in atletiek ontbloot. Die ondersoek is uitgevoer in opdrag van die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels in sport (Wada).

Sou Rusland vanweë sy skandes uit internasionale sport geskors word, sal dit beteken dat Russiese sportlui net as neutrale atlete kan deelneem, mits hulle kan bewys dat hulle nie van verbode middels gebruik gemaak het nie.

In 2016 is net een Russiese atleet toegelaat om aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deel te neem in die baan- en velditems.

Die skorsing uit internasionale atletiekbyeenkomste is in Desember 2016 verleng met Russiese atlete wat moontlik nie aan die IAAF se Wêreldkampioenskappe in Londen in Augustus sal kan deelneem nie.

Die land sal ook nie meer in Maart die bobslee- en skeleton-wêreldkampioenskappe aanbied nie.

“Die tweede deel van McLaren se verslag het skokkende bewyse ingesluit wat ’n strukturele probleem (in Rusland) ontbloot het wat nog nie ten volle aangespreek is nie,” het Joseph de Pencier, hoof-uitvoerende beampte van Nado, in ’n onderhoud gesê.

“Daar moet grootskeepse hervorming in Russiese sport plaasvind, met ’n sterk, sentrale liggaam wat die gebruik van verbode middels bestry. Voor dít gebeur, kan ons nie Russiese sport vertrou nie.”

Volgens De Pencier is die pad vorentoe duidelik, maar help dit niks as daar nie berou van die Russe se kant af is nie.

Hy het bygevoeg dat dit jare kan neem voordat ’n geloofwaardige stelsel teen die gebruik van verbode middels in Rusland gevestig word, maar dat ’n verbod op deelname aan die Pyeongchang-Winterspele, wat in 2018 in Suid-Korea plaasvind, dalk die nodige wekroep vir die Russe sal wees.

Travis Tygart, hoof van die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada), het De Pencier se uitlatings beaam en ook sy frustrasie bekend gemaak.

“Ons het dit (berou vanaf die Russe) beslis nog nie in die openbaar gesien nie, met die Russe wat nie eers wil erken dat institusionele gebruik van verbode middels plaasgevind het nie,” het Tygart gesê.

Wladimir Poetin, die Russiese president, sowel as Dmitry Peskov, Kremlin-woordvoerder, het in Desember ontken dat die land enigsins betrokke was by ’n staatsgesteunde program vir die gebruik van opkikkers.

Rusland bied ook in 2018 die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan en sal beslis onder druk voel om voor dan die vertroue van organisasies soos Wada en Nado te herwin.

– Reuters

Meer oor:  Verbode Middels  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.