Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Nog Sport
Twee Oseane: Kaalvoet vir goeie sake

’n Man (59) van Kaapstad het Saterdag sy dertigste Twee Oseane-ultramarathon kaalvoet ten bate van liefdadigheid voltooi.

Peter Taylor ná afloop van sy 30ste Twee Oseane-ultramarathon wat hy kaalvoet voltooi het. Hy het ten bate van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (Saga) gehardloop. Foto: Isak de Vries

Peter Taylor (59), ’n fasiliteitsbestuurder, het in 1984 sy eerste marathon gehardloop en was só uitgeput ná 30 km dat hy besluit het om sy skoene uit te trek en die res van die wedloop kaalvoet te loop.

“Ek het nie goed voorberei vir die wedloop nie. Toe ek die 30 km-merk van die marathon haal, het ek my skoene uitgetrek en begin loop, omdat ek so uitgeput was. Ek het die marathon kaalvoet voltooi en het sedertien elke jaar die wedloop sonder skoene aangepak,” vertel Taylor.

Hy het al sewe keer aan die Comrades, 30 keer aan die Twee Oseane en meer as 80 keer aan ander wedlope deelgeneem.

Taylor vertel hy het ’n video van die Londen-marathon gesien waarin hulle geld insamel vir liefdadigheid en het besluit om dieselfde te doen.

“Ek het besluit om iets anders te doen deur my liefde vir mense en diere te kombineer en het die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (Saga) genader.

“In 1987 was ek die eerste persoon in Suid-Afrika wat geld ingesamel het vir liefdadigheid deur middel van sport. Ek is al die afgelope 30 jaar by hulle betrokke.”

Taylor het ’n tuisgemaakte oranje rugsak aangetrek en dit so aangepas dat mense geld vir Saga daarin kan gooi.

Izak de Vries (48), heel links, het vanjaar sy vyfde ultramarathon-wedloop voltooi en drie daarvan was kaalvoet. Dié foto is verlede jaar by Chapmanspiekrylaan geneem. Foto: Jetline Action Photo

Hy sê hy hoop om nog vir lank kaalvoet aan wedlope soos die Twee Oseane deel te neem.

“Dertig jaar is ’n baie lang tyd. Dit verg baie moeite, maar solank as wat my hart nog klop en ek kan hardloop, sal ek definitief nog vir baie jare deelneem.”

Hy sê dit was ’n “baie aangename wedloop” en omdat dit sy 30ste Twee Oseane-ultramarathon was, was hy baie emosioneel teen die einde.

Taylor het die wedloop in 6 uur en 36 minute voltooi.

Izak de Vries (48) wat ook aan die ultramarathon deelgeneem het, het sy derde kaalvoet-marathon by die Twee Oseane-wedloop voltooi.

De Vries vertel hy het sowat drie jaar gelede begin om kaalvoet te hardloop.

Baie van die kinders het nie skoene nie en enige donasies in die vorm van skoene sal help.
Izak de Vries

“Ek het besef ek kan langer afstande kaalvoet hardloop. Daarna het my klub vir my gesê as ek dit gaan doen, is dit die moeite werd om ’n liefdadigheid daaraan te koppel. Ek is vir jare lank nou al betrokke by die Durbanville Kinderhuis, en ek het hulle gekontak en gevra of ek namens hulle kan hardloop. Hulle het my onlangs ’n ambassadeur van die kinderhuis gemaak.

“Dit is ook net ’n manier om te sê daar is ongelooflike kinders in die kinderhuis. Die kinderhuis het ook onlangs ’n hardloopgroep begin en ek wil graag die aandag daarop fokus. Baie van die kinders het nie skoene nie en enige donasies in die vorm van skoene sal help,” sê De Vries.

“Dit is verstommend hoe vinnig ’n mense se voete aanpas. Ek oefen kaalvoet, ek gaan stap kaalvoet. Ek doen alles basies kaalvoet. My voete is nog bietjie seer ná die wedloop gister en die kussinkies onder my voete is gevoelig, maar dit is nie pynlik nie.”

De Vries het die wedloop in ’n tyd van 6 uur en 56 minute voltooi.

De Vries en Taylor behoort albei aan die Celtic Harriers-hardloopklub.

Meer oor:  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.