Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Menings
Gedurige getorring lei tot Super-misoes
Gert van der Westhuizen

Die Superrugby-doodsklok het toe Vrydag, soos al geruime tyd voorspel word, vir die Cheetahs en die Kings gelui.

Ondanks die geluide wat nou oor deelname aan die Europese Top-14-reeks gemaak word, voorspel dit niks goed vir die toekoms van dié twee unies nie. Almal weet eintlik al die provinsiale aandag en hulpbronne is deesdae feitlik uitsluitlik op die Superreeks gerig.

Die beëindiging van die Kings se deelname behoort veral vrae oor die motiewe en optrede van Suid-Afrika se rugbybase te laat ontstaan. Daar is lank hard gewerk om te verseker dat die bakermat van swart rugby in Suid-Afrika ’n plek in die Suidelike Halfrond se top- provinsiale reeks kry.

’n Mens kan nie transformasie predik en dan die provinsie met die meeste swart spelers uit jou vernaamste provinsiale reeks hou nie. Transformasie gaan tog oor veel meer as die getal swart spelers in ’n span.

Jy wil darem seker hê jou provinsie met die meeste swart ondersteuners moet gereeld wedstryde van gehalte huisves sodat die rugbykultuur dáár al hoe sterker word en jong mense inspireer om die spel te speel?

Nou moet die mense in die Oos-Kaap, wat hul span vanjaar baie goed ondersteun het, droëbek sit tydens die Superreeks, terwyl die een niksseggende wedstryd ná die ander in ’n leë stadion in Singapoer gespeel word.

Leë paviljoene het toenemend ’n algemene gesig in Superrugby geword omdat dié lomp reeks sukkel om ondersteuners te boei. Maar dit is te betwyfel of ’n meer “vaartbelynde” reeks skielik tot ’n groter vraag na kaartjies gaan lei.

Daarvoor het die reeks net té min tradisie; iets wat toeskouers in enige sportsoort na stadions lok. Superrugby is miskien nog te jonk om ’n gevestigde tradisie te hê, maar die rugbybase in die Suidelike Halfrond se rondspringery gaan beslis nie help nie.

Daarvoor word daar té gereeld aan die reeks getorring. Dit was eers ’n Super 10 wat ’n Super 12 en toe ’n Super 14 geword het, net om in ’n Superlompe Super 18 te verander.

Streke in Australië waar daar minder rugbyspelers is as in ’n Oos-Kaapse township, het gekom en een sal nou klaarblyklik weer gaan. Japan se beste spelers speel klubrugby en steur hulle nie juis aan uitstappies na Singapoer toe nie.

Provinsies in Suid-Afrika en klubspanne van Doer Onder het eers in die reeks meegeding voordat daar franchises gestig is. In Suid-Afrika het dit aanvanklik beteken dat ’n franchise soos die Western Stormers (wat later Stormers geword het) in Wellington moes uitdraf. Die Bulle (eers Northern Bulls) was selfs in plekke soos Brakpan en Witbank (later eMalahleni) in aksie, waar die kleiner stadions dit darem laat lyk het of daar groot belangstelling was. Nou draf hulle net tuis op meestal ’n leë Loftus uit.

Die Western Stormers het eers in ’n psigedeliese uitrusting uitgedraf wat eerder aan ’n advertensie vir die Arrive Alive-veldtog herinner het as aan ’n rugbytrui. Later het hul uitrustings tot die ergernis van die
Coastal Sharks (deesdae net Sharks) swart geword, voordat dit weer blouerig geraak het met allerhande strepe in ’n flouerige poging om aan die tradisieryke kleure van die Westelike Provinsie te herinner.

Die Bulle het nog ’n paar stappies verder gegaan en met pienk en selfs kamoefleeruitrustings uitgedraf. Een keer was hulle selfs in bloedrooi truie geklee.

In Suid-Afrika het spanne ook gekom en gegaan. Die Cheetahs en die Leeus is gedwing om een span in die veld te stoot, maar dié proefneming genaamd die Cats is later laat vaar.

Toe moes die Cheetahs sonder Superrugby klaarkom en het hul spelers elders ’n heenkome gaan soek. Later is die Leeus gerelegeer om vir die Kings plek te maak. Toe kry die Leeus én die Cheetahs én die Kings kans om Superrugby te speel.

Maar van dié drie spanne bly daar nou net die Leeus oor.

Kan ’n mens enige ondersteuner, veral dié in Bloemfontein en Johannesburg, verkwalik as hulle ietwat van ’n identiteitskrisis beleef het?

Die ergste is egter dat al die aandag aan die Superreeks en die voorkeur wat dit van rugbybase gekry het, algaande die glans van die Curriebekerreeks laat verdof het.

Dié reeks is deesdae byna soos ’n nagedagte wat êrens tussen al die internasionale rugby ingedruk word terwyl die Springbokke ’n bietjie rus. Dit is nogal jammer.

Want as daar nou een reeks in die Suidelike Halfrond was wat nie ’n gebrek aan tradisie gehad het nie, was dit die eens glansryke Curriebekerreeks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.