24 Junie 07:26
Kaapstad Verander Area

Saterdag

15°C / 9°C

Wind 16km/h

Reënval 0

Humiditeit 63%

Sondag

16°C / 11°C

Wind 20km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Maandag

18°C / 10°C

Wind 9km/h

Reënval 0

Humiditeit 60%

Dinsdag

17°C / 13°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 69%

Woensdag

15°C / 13°C

Wind 40km/h

Reënval 10mm

Humiditeit 79%

Donderdag

14°C / 9°C

Wind 11km/h

Reënval 0

Humiditeit 64%

Menings
’n Hommeltuig om toeskouers te bederf

Daar’s ’n lekker reeks oor sport in die toekoms in die Guardian en verlede week ’n artikel oor die ontwerp van nuwe sportstadions. Tottenham Hotspur se White Hart Lane, wat tans seriaas opgedollie word, is een van die stadions van die toekoms.

Spurs keer in 2018 soontoe terug; dan is hul stadion die afguns van die sportwêreld.

Dit sal onder meer warm sitplekke met USB-sokke hê, asook ’n glastonnel waardeur jy die spelers vooraf sal kan sien, ’n eksklusiewe kaasproekamer, die langste kroeg in Engeland, ’n ordentlike wynkelder en sy eie mikrobrouery. Ondersteuners sal selfs oor die dak kan loop.

“Dit moet mense rede gee om van hul rusbanke af op te staan en hul vyftigduim-TV’s te verlaat,” verduidelik die argiteksfirma.

Akoestiek word só beplan dat die skare behoorlik kan lawaai. Die nuwe suidpaviljoen sal net een vlak hê om sy 17 000 kele so hard te laat weerklink as dié van Liverpool se Kop of Borussia Dortmund se Geel Muur.

In Amerika, weer, trek die Atlanta Falcons later vanjaar by hul nuwe stadion in. Met die wêreld se eerste videomuur van 360 grade, ’n tamaai 335 meter reg rondom die Bowl.

  • Dis nog niks: Jy sal glo weldra groot sport deur hologramme in honderde stadions om die wêreld tegelyk kan beleef. Met hommeltuie wat jou drankies bring.

                                                                                       ****

Vir ons arme skepsels wat deesdae net by arme Nuweland kom, klink dit mos soos wetenskapsfiksie. Die atmosfeer wat die ou Kaapse stadion eens gekenmerk het, is boonop lankal skoonveld nadat die ringkoppe goedgedink het om die staanplek voor die Grootpaviljoen vol duurder, onoogliker en meestal leër stoele te stop.

Deesdae probeer hulle steeds gees gooi deur die Province-dreunsang van 30 jaar gelede met hul krapperige klankstelsel te pomp. Daar is uiteraard nie kaasborde of boetiekbier nie.

’n Videomuur van 360 grade? Ba! As niemand jou wys nie, sal jy sukkel om Nuweland se videoskermpie te kry nadat onbekookte knoeiery met Aerios die WP se sakearm insolvent gelaat het en die groot videoskerm saam met die spaargeld vort is.

  • Teen die tyd dat hulle eendag bes gee en Groenpunt toe trek, lyk dié seker ook lankal alledaags en muwwerig. As die nuwe White Hart Lane dan Sport 2.0 is, is Nuweland seker maar Sport Commodore 64. My rusbank sit lekkerder, om van my spyseniering en Wi-Fi nie te praat nie.

                                                                                      ****

Die voorgenome geveg tussen die bokser Floyd (Money) Mayweather en die UFC-vegter Conor McGregor stoot brekfis ’n entjie in my keel op. Hulle gaan nie skop, skiet en dôner soos in UFC nie, hulle gaan proppers bóks, iets wat McGregor meer as tien jaar gelede gedoen het.

Hy staan natuurlik g’n kans nie, maar Mayweather het self meer as tien jaar gelede eens probeer om ’n duik in ’n kasteroliekuttel te moker. Vir $75 miljoen sou ek self ingestem het om vergeefs houe te swaai agter die immer retirerende driemalig uitgetrede kampioen aan.

  • As hulle skop en wurg en dies meer toegelaat het, het dinge dalk interessant geword. Wag al jare om iemand die grinnik van Money se smoel te sien afmoker, maar daarvoor is hy gans te ’n goeie bokser en gans te min lus vir ’n blou oog.

                                                                                      ****

Laas dat ons só ’n klug moes verduur, het ek pas in ’n kors puisies en verleentheid verander. Maar nie so verleë as Muhammad Ali nie. The Greatest is in 1976 oorreed om vir die destyds ongelooflike bedrag van $6 miljoen teen ’n Japanse rofstoeier, Antonio Inoki, in die Budokan te baklei.

Die idee was dat Inoki sou rofstoei en Ali boks. Maar hoe nader die geveg gekom het, hoe minder dinge sou Inoki veroorloof word. Almal wis dis ’n klug, maar die twee kampe het agter die skerms gestry oor wie veronderstel was om te verloor.

Inoki is eindelik so aan bande gelê dat hy ten einde raad op die grond gaan lê en skop het na Ali. Die raadop bokser het naderhand self skoppe na Inoki se agterent gemik-mik sonder veel gevolg en eers in die sewende ’n flouerige vuishou mis gekorrel. Ontstoke toeskouers het soveel vullis in die kryt gegooi dat dit die skoonmakers meer as ’n dag besig gehou het. In silwerskone, hiperbeleefde Japan.

  • Inoki se stewelveters het met die geskoppery Ali se kuite só bebloed gelaat dat hy bloedklonte ontwikkel het. Sy dokter, Ferdie Pacheco, glo dié het eindelik ’n peperduur tol geëis – Ali was daarna merkbaar stadiger en kon nooit weer iemand uitslaan nie. Die houe wat hy gevolglik gevat het, het sy Parkinson help veroorsaak. Ses miljoen dollar was te min.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.