26 April 13:48
Kaapstad Verander Area

Woensdag

20°C / 16°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 66%

Saterdag

27°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 41%

Sondag

20°C / 17°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Maandag

19°C / 15°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Rugby
Dié drie wenspanne het Ruan in gemeen

Professionele sportspanne se bestuurspanne is voortdurend aan die toeneem met allerlei spesialiste wat betrek word. Ook in Suid-Afrika het al hoe meer afrigtingspanne nou ook ’n sportsielkundige.

Die Knights, Crinums en Cheetahs, wat al drie in die laaste tien maande ’n nasionale kroon verower het, het almal só ’n kundige in hulle midde gehad. In al drie se geval was hy Ruan Botha.

Ruan Botha, ’n “mental coach” of kopdokter soos dit meestal in Afrikaans vertaal word, is besig om ’n nuwe wêreld vir spelers en afrigters oop te sluit. Hy glo ’n fokusfasiliteerder sal ’n goeie woordkeuse wees om sy beroep te beskryf. Foto: Mlungisi Louw

Dié “mental coach” of kopdokter soos daar meestal in Afrikaans na verwys word, is besig om ’n nuwe wêreld vir spelers en afrigters oop te sluit.

“ ’n Span wat die beste wil wees, sien die leemte in sy mondering raak wat hy wil aanvul en dis die sielkundige deel. So was dit ook met die Knights. Ek is bevoorreg om met mense te werk wat die hele prentjie sien,” sê Botha oor die mees onlangse span waarmee hy begin werk het.

Deurlopende proses

Die 36-jarige Botha sê hy verkies die Engelse term “mind coach” bo “mental coach”, maar glo die woord fokusfasiliteerder sal ’n goeie een wees om sy beroep te beskryf.

“Kopdokter beteken iemand is siek en jy moet dit regdokter. Dit het niks daarmee te doen nie. Ek is ook nie ’n sielkundige nie, maar ’n fasiliteerder.

“Daar is drie aspekte betrokke by ’n span – ’n plan wat die afrigter se werk is, die verstaan van die plan wat die afrigter én spelers se verantwoordelikheid is, en die uitvoering daarvan wat die spelers se taak is. Die verstaan van die plan is waar ek as fasiliteerder inkom, veral met kommunikasie.

“In sessies is óf die hele groep teenwoordig, óf ek werk in kleiner groepies of individueel. Ek verkies dat die afrigters altyd teenwoordig is. Die belangrikste sessies is juis met hulle. Afrigters is die ouens wat die spelers elke dag sien. Jy filter die inligting deur hulle na die spelers.

“Die grondbeginsels hoe die brein werk, is dieselfde, daar is wel verskillende fokuspunte in verskillende sportsoorte. Die hardeware bly dieselfde, net die sagteware verskil,” verduidelik Botha die benadering met verskillende sportsoorte.

Hy volg drie stappe wanneer hy met sportlui begin werk. Die evaluering van die sportman en sy persoonlikheidstipe, die identifisering van ’n groeimodel en die inwerkingstelling van die plan.

Volgens hom is sessies met spanne en sportlui ’n deurlopende proses en nie ’n eenmalige gebeurtenis nie.

“Deel van my werk is om mense te leer om besluite te neem, ongeag of dit die regte of verkeerde besluit is. Foute gebeur, dis ’n konstante, jy moet hulle maak om hulle te kan minimaliseer. Ons evalueer dit en kyk wat volgende keer gedoen kan word wanneer dieselfde of ’n soortgelyke situasie hom op die veld afspeel.

“Uiteindelik moet my bydrae ’n verskil op die sportveld teweegbring. Ek kan net iemand help om homself te help.”

Ruan Botha maak van die TAP-sisteem gebruik wat spelers se sportpersoonlikheidstipe toets. Suid-Afrika is die eerste land buite Amerika wat dit implementeer. Foto: Mlungisi Louw
Ruan Botha was by die Crinums, Cheetahs én Knights betrokke toe hulle almal in die laaste tien maande ’n nasionale titel gewen het. Foto: Mlungisi Louw
Ruan Botha tydens ’n sessie met die Knights. “ ’n Span wat die beste wil wees, sien die leemte in sy mondering raak wat hy wil aanvul en dis die sielkundige deel. So was dit ook met die Knights,” sê hy. Foto: Mlungisi Louw
Ruan Botha tydens ’n sessie met die Knights. Links is Tumelo Bodibe en regs Pite van Biljon.Foto: Mlungisi Louw

Verskillende sportpersoonlikhede

Dié oudleerling aan Grey-kollege en ’n pa van twee kinders is die stigter en eienaar van die A-Game mental performance coaching system.

Hy maak van die TAP-stelsel gebruik wat spelers se sportpersoonlikheidstipe toets. Suid-Afrika is die eerste land buite Amerika wat dit implementeer.

Amerikaanse voetbal is volgens Botha al so ver gevorderd, hulle soek ’n spesifieke sportpersoonlikheid vir ’n sekere posisie.

“ ’n Speler se sportpersoonlikheid kan op soveel gebiede ’n invloed hê. Soos hoe jy met ’n speler met ’n sekere persoonlikheid moet kommunikeer of watter persoonlikheidstipe beter as kamermaats oor die weg sal kom.

“Vir ’n kolwer met ’n sekere sportpersoonlikheid wat byvoorbeeld op 80 lopies staan, kan gelukwensing van ’n kolfmaat tydens die kolfbeurt teenproduktief wees. Daai speler kan dan maklik dink hy het reeds in sy doel geslaag en sy paaltjie vinnig daarna prysgee.

“As kommunikasie nie ’n taak of opdrag aan die einde daarvan het nie, kan dit ’n afleiding wees. Sê eerder vir daardie kolwer iets soos ‘jy doen goed, maar hou dit vol of mik vir ’n 100-tal’.

Neem besluite, reg of verkeerd

Sedert Botha in 2014 na die Rosestad teruggekeer het, bied hy die meeste van sy dienste deur die Vrystaatse sportwetenskapinstituut aan.

“Dis in dié stadium hoofsaaklik vir professionele sportlui, maar ek help ook individue. Tussendeur rig ek tennis af en besit ek ’n koffiewinkel.”

Botha, wat tennis en krieket beoefen het, sê die mededinging in sport en die druk wat daarmee saamgaan, het hom van jongs af geïnteresseer.

“Ek wou altyd kyk wat ek onder druk kan doen en het dit nooit as ’n bedreiging gesien nie. Ek dink iemand het eendag vir iemand gesê druk is ’n slegte ding en nou glo soveel mense dit. Druk is immers waarom sportlui doen wat hulle doen, hulle soek dit. Daardie gevoel van jy is nie nou in beheer nie en jy moet iets daaraan doen.”

Botha het B.Rek. aan Kovsies gestudeer en daarna in Stellenbosch tennis gaan afrig.

“Ek het met professionele tennisspelers gewerk waar ek besef het die verskil tussen wen en verloor is ’n paar sleuteloomblikke binne ’n gebeurtenis waarin jy besluit jy wil daarop reageer of jy wil eerder wag dat dit verbygaan.

Ruan Botha (links) en Francois Venter, kaptein van die Cheetahs, ná verlede jaar se Curriebeker-eindstryd. Volgens Botha is dié span vooruitstrewend, wat hul eie sukses skep. Foto: Mlungisi Louw

“Dis soms moeilik om te praat oor wat in daai oomblik gebeur, maar ek het gevoel ek kan.

“Sportsielkunde het nie daai tyd as ’n beroep of studierigting bestaan nie. Ek het sport en werk as twee verskillende goed gesien en nooit gedink dit kan gekombineer word nie.”

Hy het ’n nagraadse kwalifikasie in sportsielkunde deur ’n oorsese universiteit behaal waarna ’n jaar se navorsing gevolg het. Hy werk nou agt jaar in die beroep.

Vertrou voorgevoel

Om rugbytellings of die punteverskil te voorspel, is iets wat baie rugbykenners al met pap op hul gesigte gelaat het.

Hoewel hy vinnig daarop wys dat dit ’n skoot in die donker was, erken Botha hy het verlede jaar voor die halfeindstryd en eindstryd voorspel het die Cheetahs sou met onderskeidelik 38 punte teen die Leeus en 19 punte teen die Blou Bulle seëvier. Hy was in die kol met die 38 en net een punt uit in die eindstryd.

“Ag, dis maar wat ’n mens noem jou gut feeling, daardie voorgevoel is iets kan jy kan vertrou, hoewel min mense bereid is om te doen.

“Elke liewe besluit en sessie wat ek doen, gaan vir my daaroor om my vinger op die pols te hê oor wat nodig is.

Om daarby uit te kom, gebruik ek my gut feeling.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.