Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Rugby
Rohan Janse van Rensburg: Uit die doodskadu
Rohan Janse van Rensburg praat dié week met Rapport in Midrand.FOTO: DEON RAATH

Rohan Janse van Rensburg het Sondagoggend met ’n glimlag opgestaan. Vir Sondag het hy weke lank gewag, vir hierdie dag het hy die laaste week die ure afgetel.

Hierdie Sondag gaan Rohan Janse van Rensburg weer rugby speel. Een deel van ’n lewe wat die laaste vier maande koponderstebo gegooi is, is terug na normaal.

Geen wonder die 22-jarige stormram-senter se oë blink so nie.

Dis grou buite terwyl ons Vrydagoggend in Midstream se Mugg & Bean gesels, maar op Janse van Rensburg se gesig skyn die son. Hy is vol grappies en staaltjies. Oor hoe sy honde heeltyd gate grou, hoe hy met hulle gaan stap net om sy nuwe kamera uit te toets, hoe sy meisie maar die inkopies hanteer terwyl hy by die deur met die ooms rugby praat.

Ek het gedink ek sal eerder my lewe gee sodat hulle nog ­dinge kan bereik.

Maar die jong Leeu hou ook nie terug oor die skadudae wat hy vanjaar moes deurleef nie. Hy moet nog die trane wegsluk wanneer hy praat oor sy ma, erken hy, maar hy wíl oor haar praat. Hy raak nog kwaad wanneer hy dink aan die nag toe hy in sy eie huis oorval en beroof is, maar hy kan dit nie uitvee nie. En die kniebesering wat hom tussenin neergevel het, was dalk nodig om hom tot stilstand te dwing.

Janse van Rensburg se ma, Rentia, het op 1 Maart haar kankerstryd van sewe jaar verloor, en ’n seun agtergelaat wat haar elke dag mis, maar ook nog elke dag wil trots maak.

“Ek was nog op skool toe ons gehoor het sy het kanker, en die dokters het gesê sy het net ses maande oor. Toe baklei sy vir sewe jaar,” vertel Janse van Rensburg. “Daar was tye dat jy kon vergeet van haar siekte. Ons was verlede jaar by my nefie se troue, en mense het nie geweet my ma het kanker nie. Maar toe dit begin skeefloop, het dit vinnig gegaan. Alles het binne ses weke ingegee, eers haar longe en toe die res. Dit was ’n skok.

Rohan en sy ma, Rentia.

“Ek was die aand voor haar dood in Witbank by ’n Manne van die Woord-aand en op pad terug het ek net so ’n vreemde gevoel gekry oor haar. Ek is mal oor gospelmusiek en ek luister meestal daarna, so dit was aan oor die radio toe dit vir my voel God sê vir my dis tyd. Hy wou sy dogter kom haal, sy was moeg.

“Natuurlik wou ek redeneer met Hom, ek wou vra wat van ons wat agterbly en hoekom sy. Maar toe ek by die huis kom, het ek vir Anzelle (sy vriendin) gesê ons moet ons regmaak vir slegte nuus.

“Ek het daai oggend so drie-uur se kant wakker geword van ’n hoes wat nie wou ophou nie, en terwyl ek in die badkamer water gedrink het, het die ligte in die huis net aangegaan. Toe kom staan Anzelle daar en sê in so ’n hartseer stem: ‘Liefie.’ Net dit. En toe weet ek. Toe ek na my foon kyk, was die boodskap daar, my ma is nou net dood.

“Dit was sleg, natuurlik, maar jy kan ook nie net op ’n hopie gaan sit nie, jy moet sterk wees. Sy het geweet sy gaan doodgaan; sy sou in die laaste dae goed sê soos, ‘Wanneer jy en Anzelle eendag trou . . .’ of praat oor my kinders asof sy hulle nie gaan sien nie. Ek het een middag by haar op die bed gaan lê – sy het haar suurstofmasker opgehad – en gesê, ‘Mamma, jy gaan orraait wees.’ En toe sy sê nee, sy gaan nie, want ‘ek weet mos hoe ek voel’. Toe was dit tyd dat ek ook begin vrede maak.”

Hulle het 100 mense by haar begrafnis verwag, sê Janse van Rensburg, maar toe kom daar omtrent 450. “Sy het ’n lewe gelei waarna ons almal moet streef, sy het mense se harte geraak en ’n verskil gemaak. Dit het my ook geleer: Sién ander mense en moenie dinge net oor jouself maak nie. Ek probeer hard.”

Foto:

Hoedanig en hoe gou hy daardie les sou moes uitleef, het die jong Rohan nie in Maart geweet nie, maar twee maande later het die lewe hom in ’n maalkolk gegooi waaruit selfsug hom nie sou kry nie.

Drie mans het op die aand van 27 April in sy huis in Boksburg ingestap terwyl hy, Anzelle, en ’n vriend, Runan Venter, ’n fliek gekyk het.

“Hulle het die ander twee vasgemaak en gesê ek moet hulle iewers gaan aflaai. Ek was op krukke, want ek het mos net voor dit my knie beseer. Runan-hulle wou nie hê ek moes gaan nie. Hy het vir my gesê, wat as ons jou nie weer sien nie, ons dink nie ons gaan jou weer sien nie.

“Dit klink dalk nou snaaks, maar ek het gevoel dis juis ek wat moet gaan, want ek het darem al ’n paar dinge bereik wat die meeste 22-jariges nie het nie. Ek het gedink ek sal eerder my lewe gee sodat hulle nog dinge kan bereik.

“Maar ek het ook nooit gedink dis regtig my laaste aand op aarde nie. Die enigste tyd wat ek ’n bietjie bang was, was toe hulle sê ek moet die kar stop, hulle gaan my nou skiet. Toe vra ek net of ek maar kan bid, en ek het vir seker vyf minute gebid, maar jis, dit het meer soos ’n uur gevoel. Toe ek my oë oopmaak, toe’s hulle weg.”

Janse van Rensburg het nooit weer in daardie huis geslaap nie en twee dae later Midrand toe getrek.

“Nee, ek sou dit nie kon vat om daar te wees nie. Nou nog raak ek soms benoud, maar hier is dit so veilig as wat jy kan wens. Nou is ek eintlik net kwaad dat sulke dinge kan gebeur.”

Dit was veral moeilik vir Anzelle, wat vir ure vasgebind gelê en wonder het of sy hom ooit weer sou sien.

“Sy het vir ’n ruk daarna elke deur in die huis gesluit, élke een. Dit het my mal gemaak. Ek sou in die oggend by die badkamer wil instap, en dan is die deur gesluit. Toe sê ek een dag, nee, dit stop nou, ons moet aangaan met ons lewens,” sê Rohan.

Dit was baie moeilik dat hy nie in die weke ná die rooftog na rugby kon draai nie. In die week ná sy ma se afsterwe was dit sy toevlug.

“Jis, ek het dit gemis. Dis frustrerend om te kyk hoe die ander ouens speel, want ek wou ook daar wees, by die Leeus én die Bokke.

Jis, ek het dit gemis. Dis frustrerend om te kyk hoe die ander ouens speel, want ek wou ook daar wees, by die Leeus én die Bokke.
Rohan Janse van Rensburg

“Ek het die week voor die Ellispark-toets ’n paar van die ouens in die gimnasium gekry, en dis heeltemal anders daar as verlede jaar. Toe ek my kans laasjaar gekry het, was dit in die stadium van die seisoen waar almal dit net wou verby hê, maar dit gaan nou net goed in die Bok-kamp. Ek kon nou die dag met ouens gesels oor goed waaroor ons nie toe in daardie slegte atmos­feer kon praat nie.

“Jy kan sien die Bokke speel vir mekaar, en dis baie soos by die Leeus, maar daarvoor moet Wazza (die Bok- en Leeus-kaptein Warren Whiteley) krediet kry.

“Dis so maklik om op te kyk na hom. Hy’s daai ou wat na jou toe sal stap en vra wie jy is en wat jou gelukkig maak, omdat hy jou deur en deur wil ken wanneer hy langs jou speel. Ek streef daarna om ook so te wees,” sê Janse van Rensburg.

Die Leeus se sterk senter sal vandag sy terugkeer tot die rugbyveld maak in die kwarteindronde van die Supersport-uitdaagreeks, teen Griekwas. Meer gereed vir ’n wedstryd was hy lanklaas.

“Ek was al verlede week reg om te speel, maar coach (Johan Ackermann) het besluit dis beter dat ek eers in die Supersport-reeks weer begin, en dan hopelik volgende week teen die Haaie Superrugby speel. Dis dalk maar goed dat ek nie laasweek gespeel het nie (in die Leeus se vermorseling van die Sunwolves, met 94-7). Ek dink my longe sou gebrand het, want daar was nie ’n oomblik van stilstaan nie.”

Moet egter nie dink stilstaan is iets wat hy voorstaan nie.

Rohan glo in vorentoe beur. Op die rugbyveld – soos soveel verdedigers al tot hul spyt gevoel het – én deur die diep waters van die lewe.

Net ’n régte Bok-trui, Pa

Toe Rohan Janse van Rensburg op 5 November 2016 teen die Barbarians ’n Springbok-trui oor sy kop trek, was dit die eerste keer – óóit.

“Ek het nooit ’n ondersteunerstrui of selfs net ’n Springbok-hempie aangetrek nie, want ek het vir my pa gesê, die eerste keer wat ek dit doen, moet dit ’n régte Springbok-trui wees,” sê hy.

“Dit was die trotsste oomblik van my lewe, dit was ongelooflik.”

  • Janse van Rensburg het in daardie wedstryd teen die Barbarians sy eerste drie in ’n Bok-trui gedruk, en ’n week later teen Wallis in sy eerste volwaardige toets gespeel.
  • Janse van Rensburg sê dit het hom gemotiveer om te sien hoe Jan Serfontein geblom het in die groen nr. 12-trui wat verlede jaar om sy skouers was.

“Dit het my maar net gewys hoe hard ek sal moet werk om weer vir die Bokke te speel, en dis altyd ’n goeie ding. Dit het my trots gemaak om te sien hoe goed die Springbokke weer speel, maar ek het verlede jaar al gesê die gety sal vir die span draai.”

Meer oor:  Leeus  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.