27 Maart 00:48
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 74%

Dinsdag

20°C / 16°C

Wind 35km/h

Reënval 0

Humiditeit 62%

Woensdag

23°C / 15°C

Wind 18km/h

Reënval 0

Humiditeit 53%

Donderdag

21°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 68%

Vrydag

19°C / 15°C

Wind 24km/h

Reënval 0

Humiditeit 82%

Saterdag

20°C / 16°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 72%

Aktueel
Die debat oor Afrikaans aan die US is verby
Conrad Steenkamp

Enigiemand wat sukkel om die uitmergelende stryd oor die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te verstaan, het my opregte simpatie. Hoe meer woorde, hoe minder duidelikheid.

Onlangs nog argumenteer prof. Arnold Schoonwinkel byvoorbeeld in Die Burger dat Afrikaans veilig is aan die US en dat diegene wat anders beweer, ’n onwaarheid verkondig.

Die rektor bevestig self by verskeie geleenthede dat Afrikaans “nêrens” heen gaan nie en ’n plek aan die US het. Die US wil ’n “meertalige” instelling wees wat niemand op grond van taal uitsluit nie.

Word Afrikaans aan die US dan nou behou, of uitgeroei, soos ander sê? Wie moet ’n mens glo?

’n Belangrike bestepraktykbeginsel vir ’n goeie beleid is dat almal wat deur ’n beleid geraak word, dit maklik en op dieselfde manier moet kan verstaan, iets waaraan die US se taalbeleid duidelik nie voldoen nie.

Trouens, by die lees van Schoonwinkel se uiteensetting dink ’n mens onwillekeurig aan daardie straatdobbelspel met die drie koppies wat so behendig heen en weer geskuif word.

Daar is ’n boontjie onder een van die koppies, maar watter een? Laat my toe om te verduidelik.

Meertaligheid ’n flouswoord

Bestepraktykbeginsels vereis dat ’n goeie beleid nié primêr moet fokus op die metodes waarvolgens dit in werking gestel moet word nie, maar eerder om duidelike en meetbare doelwitte te stel. As iets nie meetbaar is nie, kan jy dit immers nie bestuur nie.

Die US se taalbeleid bevat egter geen sulke doelwitte nie. Dit fokus ook hoofsaaklik op die meganismes wat – waar “redelikerwyse uitvoerbaar” – in die lesingsale gebruik sal word om “meertaligheid” te bevorder. Die Afrikaanse boontjie lê dus onder ’n koppie met die naam “bevordering van meertaligheid”.

Uiteindelik blyk dit dat die blote uitdeel van ’n Afrikaanse opsomming aan die einde van ’n lesing sou voldoen om dit as 'meertalig' te laat geld.

Die “meertalige” lesings word “minstens in Engels” aangebied met bykomende materiaal en ondersteuning in Afrikaans. Presies hoeveel Afrikaans in sulke lesings gebruik word, weet ’n mens egter nie, want die US voer die buitengewone argument aan dat dit onbillik teenoor dosente sou wees om taalgebruik in die lesingsaal te meet.

Elke lesingsaal word hierdeur in ’n onpeilbare “swart boks” omskep waarbinne “meertaligheid” ongesiens sy geheimsinnige gang baan.

Nes Schrödinger se kat is Afrikaans in enige betrokke lesingsaal te eniger tyd terselfdertyd springlewendig én morsdood. ’n Mens moet dus glo die boontjie is onder die koppie, hoewel ’n mens nooit seker kan wees dat dit werklik die geval is nie.

Uiteindelik blyk dit dat die blote uitdeel van ’n Afrikaanse opsomming aan die einde van ’n lesing sou voldoen om dit as “meertalig” te laat geld. Wat die US met “meertalig” bedoel, is dus duidelik nie wat die gemiddelde leser of ’n taalkundige daaronder verstaan nie. Dis dus ’n flouswoord wat die afskaling van Afrikaans na ’n minderwaardige hulptaaltjie vir eerstejaars moet verbloem.

Geen Afrikaanse boontjie nie

Daarby is hierdie minimalistiese aanbod ook nog onderhewig aan die woordjies “indien redelikerwys uitvoerbaar”. Die bewoording, geleen uit die Grondwet, klink redelik, totdat ’n mens merk dat die taalbeleid geen meganismes bevat om die “redelike uitvoerbaarheid” van Afrikaans te handhaaf of uit te bou nie.

Die beleid kon dus net sowel gesê het “as ons lus is” – dit sou dieselfde gewig gedra het.

Die “plek vir Afrikaans” aan die US is as skyn ontbloot. Om enigiets anders te glo is om in die rook rond te draai. Daar is geen Afrikaanse boontjie onder enige van die drie koppies nie.

Die debat oor Afrikaans aan die US is verby.

Dit is reeds duidelik genoeg dat die US besig is om die drome van derduisende ouers en kinders op ’n beter toekoms te vernietig.

Die US kon kwalik so ’n kriptiese en tegnies onvoldoende beleid per abuis ontwikkel het en ’n mens kry die indruk dat die beleid nie primêr as ’n instrument vir die volhoubare bestuur van taal aan die US bedoel is nie.

Dit is veel eerder iets waarmee gevegte in die hof baklei en gewen kan word.

’n Mens verwag van beleidmakers om eerlik te wees oor wat hulle met ’n beleid beoog, deels omdat dit dan moontlik is om die impak van die beleid op alle belanghebbers te beoordeel.

In die geval van die US se taalbeleid word Afrikaans as akademiese taal onherroeplike skade berokken met gevolglike skade aan moedertaalonderrig in alle inheemse tale.

Die verengelsing van die US sal ook die reeds bestaande strukturele diskriminasie by die universiteit teen Afrikaanssprekendes uit kwesbare en veral bruin en plattelandse gemeenskappe verdiep – en daarmee bydra tot hul algemene kulturele, maatskaplik-ekonomiese en politieke marginalisering.

Die volle ekonomiese, kulturele en maatskaplik-ekonomiese koste van die US se taalbeleid moet nog bepaal word. Nietemin is dit reeds duidelik genoeg dat die US besig is om die drome van derduisende ouers en kinders op ’n beter toekoms te vernietig.

Die enigste raad wat oorbly, is vir die sprekers van Afrikaans om op te staan.

* Dr. Steenkamp is hoof van die Afrikaanse Taalraad. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Bestepraktykbeginsels waaraan die US-taalbeleid gemeet kan word

1. Verstaanbaarheid: Beleid moet deur almal wat daardeur geraak word, verstaan word;

2. Doelgerig: Beleid moet duidelike en meetbare doelwitte en teikens hê;

3. Uitkomsgerig: Beleid moet op bedoelde uitkomste fokus sonder onnodige aandag aan die metodes waarmee dit bereik moet word;

4. Opregtheid: Die bewoording van ’n beleid moet ’n eerlike uitdrukking van die beleidmakers se doelwitte wees;

5. Inklusiwiteit en gelykheid: Almal wat deur die beleid geraak word, moet op ’n gelyke grondslag betrek word sonder om enige groep negatief te stereotipeer;

6. Konsultatief en deursigtig: Belanghebbers moet op ’n deursigtige manier gekonsulteer word;

7. Impakassessering: Die volle impak van ’n beleid op die belange van alle groepe moet so goed moontlik in ag geneem word;

8. Geregtigheid: Die belange van verskillende groepe moet op ’n regverdige en ewewigtige wyse gehanteer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.