Stel ons op die proef, vir nuus wat jy kan vertrou. Registreer vir 30 dae gratis
Aktueel
Giliomee en SA se reis sal boei
Leopold Scholtz

Het die Afrikaners baie in hul geskiedenis om voor skaam te wees? Ongetwyfeld.

Maar het hulle ook baie om op trots te wees? Ja. Sonder skroom.

Aan dié teenstrydigheid – mense wat my ken, weet ek is baie lief vir teenstrydighede – moes ek dink toe ek Hermann Giliomee se nuutste boek, Hermann Giliomee:Historikus – ’n Outobiografie, lees.

Wat Giliomee se boek so interessant maak, is dat hy sy lewensloop en dié van die land in sy verhaal ineenvleg. As jy klaar is, verstaan jy Suid-Afrika en Giliomee se lewe as liberale én konserwatiewe Afrikaner soveel beter.

Giliomee was in sy volwasse lewe nie ’n ortodokse Afrikaner van die ou skool nie. Sy afkoms was onberispelik, maar hy het vroeg vir homself begin dink oor dinge wat ander mense as onbespreekbaar vanselfsprekend ervaar het: apartheid, Verwoerd en Vorster se wysheid, die toekoms van die bruin mense, die Nasionale Party se bewind wat die Afrikaner gekorrupteer het.

Dis vrae wat sy akademiese loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch gekelder het. In sy boek wys hy hoe sekere kollegas hom deur ’n skinderveldtog weggedryf het.

Maar in sy tyd by die Universiteit van Kaapstad het hy gebots met die minagting wat baie Engelssprekendes vir hul Afrikaanse landgenote gehad het (en deels steeds het). Sy prinsipiële verset teen die ortodokse Afrikanernasionalisme en teen apartheid, wat hy akademies onweerlegbaar gegrond het, was nie genoeg om hom as mak hanskakie aanvaarbaar te maak nie.

En só het Giliomee veral ná sy aftrede op ’n nuwe manier na sy mense, sy taal en sy volk se plek in die land teruggekeer. Toe hy sy magnum opus oor die Afrikaners in 2003 gepubliseer het, het dit ’n uiters genuanseerde beeld van sy mense bevat wat veral deur Engelstalige wit joernaliste (wat nie van hul karikatuurbeeld afstand kon doen nie) woedend ontvang is.

Giliomee het in sy lewe dus baie dinge oopgeruk waarvoor die Afrikaners skaam moet wees. En terselfdertyd baie waarop hulle trots kan wees.

Sy prinsipiële geveg vir Afrikaans op Stellenbosch is deur die Afrikaner-hanskakies op die dorp met verwoestende minagting begroet. Hy het die akademiese geveg elke keer gewen, maar die politieke geveg verloor, eenvoudig omdat hy die universiteit se establishment nie dieselfde voordele as die regerende ANC kon bied nie.

Giliomee het in sy lewe dus baie dinge oopgeruk waarvoor die Afrikaners skaam moet wees. En terselfdertyd baie waarop hulle trots kan wees.

Sy kritici na links en na regs verskil uiteraard baie oor ’n klomp dinge, maar hulle het almal iets in gemeen: Hulle kan nie van ’n vooringenome karikatuurbeeld afstand doen nie.

Die Afrikaners wat nostalgies is oor die verlede meen alles was tóé beter, en alles van nóú is ’n ramp. In sy werk het Giliomee daarmee afgereken.

Die Engelssprekendes en swart mense wat meen alle ellende in die land is aan die Afrikaners te wyte, meen dié mense is by wyse van spreke onherroeplik tot die hel verdoem. Ook daarmee het Giliomee afgereken.

Sy akademiese werk het die Afrikaners ontbloot vir wat hulle was: ’n Groep mense van wie die kollektiewe bewussyn onder enorme, bomenslike druk ontwikkel is. Goeie mense, mense wat altruïsties was; maar ook sleg en selfsugtig. Feilbare mense. Niks meer nie en niks minder nie.

Bowenal het Giliomee aan die akademiese opdrag van die historikus voldoen: beskryf, verklaar en verstaan. Veroordeel is nie deel van dié opdrag nie; dít is vir opportunistiese politici en dalk filosowe en teoloë om te doen.

Ek ken Giliomee sedert begin 1967, toe ek in sy eerstejaarsklas op Stellenbosch was. Ons het mekaar destyds al opgeval. Die belofte wat hy destyds getoon het, is ruimskoots bewaarheid.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.