26 April 13:44
Kaapstad Verander Area

Woensdag

20°C / 16°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 78%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 15km/h

Reënval 0

Humiditeit 76%

Vrydag

22°C / 15°C

Wind 13km/h

Reënval 0

Humiditeit 66%

Saterdag

27°C / 17°C

Wind 21km/h

Reënval 0

Humiditeit 41%

Sondag

20°C / 17°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 77%

Maandag

19°C / 15°C

Wind 17km/h

Reënval 0

Humiditeit 83%

Aktueel
Hy’s reg vir sy taak by Puk
Prof. Fika Janse van Rensburg Foto: Mary-Ann Palmer

Die afgelope twee jaar is hard arm gedruk oor hoe dieNoordwes-Universiteit (NWU) se nuwe bestuurstruktuur moet lyk. Nou is dit sy taak om die Potchefstroom-kampus suksesvol te lei na dié struktuur, sê prof. Fika Janse van Rensburg. Susan Cilliers het met hom gesels.

Dis geen verrassing nie dat prof. Fika Janse van Rensburg einde verlede jaar aangewys is as die persoon wat die leisels by prof. Herman van Schalkwyk moes oorneem as rektor van die Potchefstroom-kampus.

Hy is immers ’n man wat verstaan: Met sy doktorsgraad in verklaar- of uitlegkunde (hermeneutiek) en ’n meestersgraad in Grieks, is min dinge vir dié teoloog Grieks.

Dié imposante gryskop-professor sê verklaarkunde is die wetenskap van die verstaan en interpreteer van tekste, en om die boodskap daarvan doeltreffend te kommunikeer. Om dit met byvoorbeeld die Nuwe Testament te kan doen, is kennis van die Griekse taal, letterkunde en kultuur onontbeerlik.

In die huidige onstuimige hoëronderwysomgewing moet Janse van Rensburg (65) ’n staanplek kry vir die Potchefstroom-kampus, wat die afgelope twee jaar onder skoot gekom het weens onder meer sy Afrikaanse karakter. Hy is aangewys as waarnemende kampusrektor vir vanjaar.

Vir dié taak voel hy besonder goed toegerus, sê die deurwinterde akademikus en navorser met vele publikasies op sy kerfstok.

Ek beskou my leiersrol as ’n diensrol.

Janse van Rensburg se Puk-wortels lê diep: as oudhuiskomiteevoorsitter, oudstudenteraadsvoorsitter, later dosent, dekaan (by die fakulteit teologie), viserektor en raadslid van die NWU. “Ek was intens betrokke by die strategiese herposisioneringsproses (die afgelope twee jaar). Ek beskou my leiersrol as ’n diensrol. Dit is ’n voorreg om ’n dinamiese kampus met diep wortels en ’n ervare bestuurspan te erf.

“Hier is ’n unieke studentelewe en ons het ’n gemotiveerde leierskorps wat nie polities georiënteer is nie. Ek wil voortbou op die kampus se momentum van sukses, want ons is suksesvol in dit wat ’n universiteit ’n universiteit maak.”

Die NWU-raad het in November verlede jaar die universiteit se nuwe bestuurstruktuur goedgekeur (lees die kassie hierby).

Vir Janse van Rensburg is dié struktuur ’n werkbare kompromie tussen verskillende voorgestelde modelle – en kan dit beslis werk, in ag genome dat die fyner besonderhede van die uitvoering daarvan nog deur die loop van vanjaar gestalte moet kry. “Enige struktuur kan werk, dit hang net af wie dit bestuur. My mikpunt is dat die bestuur, direkteure, personeel en studente moet besef ons gaan nie ’n onbekende donkerte binne nie. Ons kan die toekoms met geesdrif binnegaan, want dit wat goed was, kan beter word as ons die proses reg aanpak.”

Hy het vir my gesê as ek meer tale kan praat, sal ek ’n beter mens wees.

Behou die goeie

Een van die goeie dinge op die Puk-kampus wat Janse van Rensburg wil behou, is ’n meertalige eerder as eentalige beleid.

“Die drie amptelike tale op die kampus is Afrikaans, Engels en Tswana. Engels is ’n kleiner groep se eerste taal. Afrikaans is die meerderheid se eerste taal en ’n groter wordende getal studente se eerste taal is Tswana of ander Afrikatale. Ons het daarom nooit toegelaat dat ons ’n enkeltaalkampus word nie. Ons is toegewy om die status wat Afrikaans as wetenskapstaal het, te behou en saam te werk dat Tswana verder tot ’n wetenskapstaal ontwikkel.”

Janse van Rensburg het van vroeg af ’n liefde vir Afrikaans gehad. Sy pa, Stoffel, wat ’n boer in die Standerton-omgewing was, het hom in st. 6 na die Engelse Eshowe High School in KwaZulu-Natal gestuur.

“Hy het vir my gesê as ek meer tale kan praat, sal ek ’n beter mens wees. Dit was opwindend om na ’n Engelse skool te gaan, maar aan die einde van die jaar het ek vir my pa gesê as hy wil hê ek moet Engels word, moet hy my in daardie skool los. Ek wou nie, ek wou Afrikaans wees.”

Janse van Rensburg is toe na die Hoër­skool Standerton, waar hy matriek geskryf het en hoofseun was.

Hy wou eers siviele ingenieur word omdat wiskunde sy guns­teling-vak was, maar op ’n matriekkamp het hy geroepe begin voel om teologie te studeer. Vandag is een van Janse van Rensburg en sy vrou, Sunette, se drie seuns én twee van hul skoondogters ingenieurs.

Janse van Rensburg sê sy loopbaan as teoloog was tot dusver vol hoogtepunte: om Grieks te gee vir “blinkoog voornemende predikante”, sy paar jaar as predikant in Frankfort in die Vrystaat, sy jare as koshuisvader van die Karlien-dameskoshuis op die Puk, om nagraadse studente te begelei, asook om as dekaan en later viserektor “hoogs begaafde mense te bestuur”.

Van die belangrikste gebeure in sy loopbaan was sy betrokkenheid as jong dosent by die opstel van die Koinonia-verklaring in 1977.

Verskeie jong akademici was betrokke by die opstel van dié dokument, waarin hulle die regeringsbeleid op grond van Bybelse beginsels gekritiseer het.

“Die universiteit was sterk hierteen gekant. Ons is ingeroep en gewaarsku. Tot die veiligheidspolisie was by my huis.”

Dis ’n groot onreg dat vroue nie in hierdie dienste mag dien nie.

‘Vroue hoort in die amp’

Janse van Rensburg sê die enigste laagtepunt in sy loopbaan is dat hy nooit daarin kon slaag om die meerderheid mense in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te oortuig dat geslag geen rol hoef te speel by die oorweging vir besondere dienste in die kerk nie.

“Dis ’n groot onreg dat vroue nie in hierdie dienste mag dien nie. Ek het self ervaar hoe dit vroue wat geroepe gevoel het, gebreek het.”

Janse van Rensburg het al in 1979 die eerste keer openlik daaroor geskryf en gepleit om die reg van vroue om ook in dié dienste te mag dien.

Nou kyk hy net vorentoe, want daar is genoeg taai kwessies op sy tafel.

“Die uitkontraktering van werkers kan ook hier ’n kwessie word as deel van die #FeesMustFall-veldtog,” sê hy.

Studentefinansiering is die ander moeilike kwessie wat universiteite hoofbrekens besorg.

Ons resep teen oproer is doelgerigte, goeie leierskap.

“Ons kon vanjaar 274 studente op die Puk-kampus uit die regering se nasionale finansiëlehulpskema vir studente (NSFAS) help. Daar is egter oor die 400 wat kwalifiseer, maar nie gehelp kon word nie, onder meer omdat ons inskrywingstal vol is en ons nog wag op skriftelike bevestiging van die minister se kantoor dat ons wel die nodige geld sal ontvang.

“Die regering betaal wel die R2,9 miljoen historiese skuld van 196 verdienstelike studente by ons. Ons het ook ’n komitee op die kampus wat borge en ander maniere soek om studente te help wat nêrens anders geholpe kan raak nie.”

Pukki, die kampus se gesig van omgee-projekte, het verlede jaar met geldinsamelingsprojekte 25 studente met beurse van R500 000 gehelp.

“Ook in koshuise word begrotings geskep en geld bykomend ingesamel om behoeftige studente te help met onder meer toiletware en koshuisklere,” sê Janse van Rensburg.

Terwyl betogings tot dusver nie ’n probleem op die Puk-kampus was nie, het die kampus volgens hom gebeurlikheidsplanne vir “etlike scenario’s”.

“Ons resep teen oproer is doelgerigte, goeie leierskap op grond van reg, geregtigheid en toepassing van beleid. Die onlangse skorsing van die studenteraadsvoorsitter in Mahikeng weens oproer is ’n goeie voorbeeld hiervan.”

Volgens hom is rassisme beslis nie ’n probleem op die Puk-kampus nie.

“Hier heers ’n natuurlike en ontspanne atmosfeer. ’n Mens hoef maar net op die kampus te loop en universiteitsvergaderings by te woon om te weet hier is nie rassisme nie.

“Debakels soos dié oor Penny Sparrow se uitlatings verteenwoordig ’n klein, marginale groep minderhede. Hier is ook mense op die Puk wat naïef is en onbesonne, ongevoelige uitlatings maak wat ander seermaak, of dit nou oor ras of geslag is. Waar rassisme wel kop uitsteek, word dit ferm hanteer.”

In die nuwe model is elke kampus steeds ’n afsonderlike sake-eenheid.

Janse van Rensburg glo vas die NWU se krag lê in die unieke­ karakter en tradisies van elke kampus, wat etlike honderde kilometers van mekaar is.

“Dit moet aangemoedig word om te gedy, anders verloor ons ’n groot deel van ons bemarkbaarheid. Elke kampus moet steeds eie aktiwiteite en sport hê, maar daar moet ’n groter bewustheid kom dat ons almal deel is van die groter NWU. Ons moet egter die nis wat elke kampus bedien, troetel en sterk uitbrei.”

In die huidige model is elke kampus in onderskeidelik Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark ’n sake-eenheid. Elkeen het eie fakulteite, dekane, viserektore en ’n kampusrektor. Die dekane rapporteer via die viserektore aan die kampusrektor. Slegs die kampusrektor rapporteer aan die visekanselier, wat hoof is oor al drie kampusse.

In die nuwe model is elke kampus steeds ’n afsonderlike sake-eenheid. Die akademiese struktuur lyk egter anders: Daar sal vir elke breë vakgebied (byvoorbeeld opvoedingswetenskappe) slegs een akademiese fakulteit oor al drie kampusse heen wees met ’n enkele uitvoerende dekaan. Daar is fakulteitshoofde op elke kampus.

Dié fakulteitshoofde sal nie aan die kampusbestuurshoof rapporteer nie, maar aan die betrokke uitvoerende dekaan. Dié dekane rapporteer aan twee adjunkvisekanseliers wat nou uitvoerende magte kry en wat op hul beurt aan die visekanselier rapporteer. Die groot taak is om nuwe akademiese strukture en postitels te finaliseer.

Nog ’n kwessie waarvan die besonderhede nog bepaal moet word, is hoe die ­nuwe struktuur die funksionering van ondersteuningsdienste, spesialisdiens­te en die studentelewe (soos die samestelling van studenterade) gaan raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.